Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Drankverbod kom ná kommer oor swak verkope

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is bekommerd oor die swak wynverkope van die afgelope tyd en sê ’n verdere beperking op verkope sal ’n rampspoedige ekonomiese impak op die bedryf hê.

Dit kan tot 1 miljoen mense raak wat deel is van die bedryf se waardeketting.

Dis luidens ’n verklaring wat uitgereik is nog voordat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het drankverkope word met onmiddellike effek weer verbied. Sedert Junie kon drank van Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 17:00 verkoop word.

Ramaphosa sê hospitale se noodeenhede is oorstroom deur mense wat beseer is in geweld en ongelukke beseer is wat met drankmisbruik verband hou - en dít terwyl Suid-Afrika se gesondheidsdienste steier soos die aantal mense met Covid-19 skerp styg.

Nadat drank aanvanklik ná die verslapping van die regulasies twee weke lank opgeraap is, het verkope onlangs begin afneem en die aandeel van dié besteding het gedaal tot minder as wat dit in die ooreenstemmende tyd verlede jaar was.

Werksverliese dreig

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Wes-Kaap Agri, sê by navraag Covid-19 het ’n groot impak op die totale wynwaardeketting gehad.

“Die verbod op binnelandse verkope is die grootste bydraer tot ’n inkomsteverlies van meer as R3 miljard. Agri Wes-Kaap is baie bekommerd oor die verwagte werksverliese in die wynbedryf.

“Dit blyk dat verskeie produsente en kelders vir die volgende 12 maande geen kapitaalbeleggings gaan doen nie. Oorbruggingsfinansiering is ’n groot behoefte in die wynbedryf tans.”

Die bedryf bestaan uit die South African Liquor Brand Owners’ Association (Salba), die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), VinPro, Liquor Traders Association of South Africa (LTASA) en die Liquor Traders Councilof South Africa (LTCSA).

Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, sê die bedryf is bekommerd oor die oplewing in virusinfeksies.

“Maar enige ekstra beperkings op verkope, insluitend ’n blatante verbod, korter handelsure of verdere beperkings op handel, sal waarskynlik paniekaankope verhoog en tot ’n toestroming by winkels lei, wat die risiko van oordrag van die siekte sal verhoog.

“Bykomend tot dié risiko sal ’n verdere beperking op verkope ’n verwoestende ekonomiese impak op die bedryf hê, die verlies van aksynsinkomste verder vererger en onwettige drankhandel bevorder met gepaardgaande onverantwoordelike verbruik van alkohol,” sê Moore.

Rico Basson, VinPro se uitvoerende hoof, sê dwarsdeur die waardeketting het die drankbedryf die veiligheid van sy werksmag en verbruikers geprioritiseer deur veiligheidsmaatreëls in werking te stel.

“Ons hou aan om ons verpligtinge ten opsigte van veiligheidsmaatreëls, verantwoordelike handel en die bevordering van verantwoordelike verbruik na te kom.”

Deur vennootskappe in die bedryf is beskermende toerusting en handontsmettingsmiddels aan handelsnetwerke oral in die land versprei ter ondersteuning van die regering se pogings om die koronavirus in toom te hou, volgens Basson.

Lucky Ntimane, sameroeper van die Liquor Traders Council (drankhandelsraad), sê hul netwerk van 34 000 tavernes oral in die land word ondersteun deur vennootskappe in die bedryf, soos “kliek-en-haal”-apps.

Volgens die bedryf is hy verbind tot ’n vennootskap met die regering om aandag te gee aan maatskaplike probleme wat met alkoholmisbruik verband hou. Terselfdertyd waarsku hy teen verdere beperkings in drankverkope.

Die bedryf sê hy is deurlopend in kontak met die departement van handel, nywerheid en mededinging en het die afgelope week gesprekke met die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, en drankowerheid, sowel as die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, gehad. Die Gautengse premier, David Makhura, is ook gekontak.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.