Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Drankverbod: Saai ‘oorweeg sy regsopsies’

Die landbou-organisasie Saai oorweeg sy regsopsies oor die jongste afwyking van die alkoholverbod, meer spesifiek die verbod op die verkoop van wyn.

Pres. Cyril Ramaphosa het die alkoholverbod verleng tot 15 Februarie, ’n week voor die oestyd begin, en sowat 65% van 2020 se wynoeste reeds op plase gestoor word.

Die land se grootste bierbrouery, die SAB, het hom tot die hof gewend oor die regulasies en Saai sal moontlik binnekort dieselfde roete volg indien die verbod nie verslap of verlig word nie.

Francois Rossouw, voorsitter van dié organisasie, het Dinsdag gesê Saai het sy regspan opdrag gegee om hul regsposisie en opsies ten opsigte van ’n aansoek teen Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, te bestudeer.

Saai het verlede jaar namens sy lede ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om die eerste stel drankregulasies te betwis.

’n Week voor die saak aangehoor moes word, het die regering die verbod opgehef en die hof het die saak sine die (sonder terugkeerdatum) uitgestel.

Volgens Rossouw kan hulle dus dié saak tegnies hervat en net die nodige aanpassings maak, eerder as om ’n nuwe aansoek in te dien.

Hulle sal eers hul versoeke skriftelik aan Ramaphosa en Dlamini-Zuma rig, en afhangend van wat hul reaksie is, sal hulle die hof nader.

Saai verteenwoordig 4 200 boere-gesinne landwyd, onder wie sowat 240 wynboere.

Rossouw sê hierdie regulasies knou die wynbedryf so erg dat boere wie se plase al ses generasies lank in die familie is, dit nou sal verloor. Meer mense word afgelê, en minder seisoenale werkers sal werkgeleenthede kry.

Sedert Ramaphosa verlede week die regulasies aangekondig het, het verskeie wynboere en ander wynbedryfsorganisasies, soos Vinpro, hul kommer hieroor uitgespreek.

Saai sê die minister beskou wyn as ’n alkoholproduk terwyl dit eintlik ’n landbouproduk is.

Rossouw sê hulle sal hul opsies reg moet oorweeg omdat, indien hulle die saak sou verloor, dit “drastiese gevolge vir die bedryf kan inhou”.

Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, het vroeër aan Netwerk24 gesê sedert Maart 2020 was daar sowat 17 tot 18 weke lank ’n verbod op die wettige verkoop van alkohol, wat tot ’n verlies van meer as R8 miljard aan verkoopsinkomste gelei het. Die gevolg is dat die bedryf meer as 640 miljoen liter wyn in voorraad het – 65% van ’n normale oes.

Basson sê die onvoldoende kelderruimte as gevolg daarvan hou ’n wesenlike risiko in vir die oes wat vandeesweek begin.

Volgens hom sal die verdere verbod van sewe weke (van 28 Desember tot 15 Februarie) ’n wesenlike invloed hê omdat nog 45 miljoen liter by die voorraadsyfer gevoeg kan word.

Meer oor:  Saai  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Pandemie  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.