Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Drome van rekord-oeste verdor saam met koring

Koringboere in die Wes-Kaap wat gehoop het vir ’n rekordseisoen het die afgelope twee weke ernstige skade gely weens versengende hitte en min reën.

Hitte en gebrekkige reën het die afgelope twee weke ernstige skade aan die koringoes in die Wes-Kaap aangerig wat meer as 50% van die land se koringoes lewer. Goeie reën is binne dae nodig om talle boere ’n misoes te spaar. Foto: Edrea du Toit

In baie gebiede is die koring nou in die aarvul-stadium en het baie vog nodig, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA. Hy sê die boere sal binne die volgende paar dae goeie reën moet kry om verdere misoeste te verhoed.

Waar bedryfsrolspelers vroeër optimisties was oor opbrengste, is daar nou sprake van ondergemiddelde oeste vir al die gewasse in die Wes-Kaap ná temperature wat plek-plek aan 40 °C geraak het.

Die droogte benadeel koringaanplantings in die Swartland-streek. Die bruin dele is tipies van droogte wanneer die dele verste van die blom eerste verdor as dit swaarkry. Foto: Edrea du Toit

Die nasionale oesskattingskomitee het verlede maand nog in sy eerste produksieskatting vir wintergewasse ’n rekordkoringoes van 1,92 miljoen ton verwag. Dit is 2,55% meer as die vorige seisoen se 1,87 miljoen ton en was gegrond op goeie reën.

In die Bredasdorp- en Swellendam-omgewing is daar boere wat verwag hul oes sal tot 30% kleiner wees as verlede jaar, terwyl sommige boere in die Overberg-gebied ’n misoes vrees as dit nie binne enkele dae reën nie, sê ’n woordvoerder van Kaap Agri.

Hy sê intussen het ’n nuwe probleem kop uitgesteek in die Malmesbury-omgewing in die Swartland: bruin en groen graanluise wat tipies oorneem in droogtetye is nou op van die koringplante te sien.

By Koringberg en Eendekuil staan die koring wit op die lande – nie van ryp nie, maar omdat dit doodgebrand het in die hitte, sê hy.

De Villiers sê sedert 23 Julie het min reën in die Suid-Kaap geval, waar boere nie tydens verlede jaar se oes van die 2017-droogte kon herstel nie. Nou is daar reeds boere wat vee in kampe ingestuur het waar hulle glad nie sal oes nie.

’n Bykomende probleem hier is dat boere ná oestyd die plantmateriaal gebruik vir veevoer die volgende winter. Die winter se kosvoorraad is dus nou ook minder as normaal.

’n Bykomende probleem hier is dat boere ná oestyd die plantmateriaal gebruik vir veevoer die volgende winter. Die winter se kosvoorraad is dus nou ook minder as normaal, sê De Villiers.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, verwag dat ’n laer oes voorspel sal word wanneer die tweede oesskattingsyfers vir wintergewasse volgende week bekend gemaak word. Sihlobo sê reën word in die volgende sowat tien dae verwag, maar dit sal net die skade beperk.

In die Overberg-gebied was dit in Augustus en September baie droog, anders as wat tradisioneel die geval is. Vroeë aanplantings wat verder ontwikkel is, lyk oor die algemeen beter, maar het nou dringend reën nodig.

Volgens die oesskattingskomitee is ’n geraamde 61% van koringaanplantings in die Wes-Kaap, 23% in die Vrystaat en 7% in die Noord-Kaap.

De Villiers sê van die ligpunte is die Oos-Vrystaat, waar die koring oor die algemeen goed lyk en goeie gemiddelde opbrengste verwag word. “Om dié opbrengspotensiaal te behou, is reën in Oktober noodsaaklik.”

Hoewel daar nie eintlik meer koring in die westelike en sentrale Vrystaat geplant word nie, het boere ná die mieliedroogte wel koring geplant toe daar goeie reënval laat April was. Dié koring trek egter ook nou baie swaar.

Wes-Kaapse koringboere het dringend reën nodig. Foto: Edrea du Toit

Pleidooi vir staatsubsidies

Die invloed van klimaatsverandering op graanboere het Graan SA genoop om die regering opnuut te nader om staatsubsidies vir oesversekering te oorweeg om só voedselsekerheid te verseker.

Hy sê regerings van die meeste graanproduserende lande ondersteun hul boere met oesversekeringsprogramme en dra tussen 10% en 75% van die premies by.

Onderskrywers van oesversekering in Suid-Afrika is al hoe versigtiger vir die risiko’s van klimaatsverandering op graanoeste. Buiten dat dit duur is, beperk onderskrywers in baie gevalle die hoeveelheid hektaar wat hulle in sekere gebiede verseker. Baie boere verseker teen hael, maar allesomvattende versekering is baie duur.

Graan SA het dit met Thoko Didiza, nuwe minister van landbou, bespreek. Volgens De Villiers het die minister in die parlement bevestig dit sal ondersoek word.

Hy sê die feit dat daar reeds finansiële druk op boere is weens vorige seisoene van droogte, bekommer Graan SA. Produsente het ’n goeie seisoen nodig gehad om skuld te begin delg en positiewe kontantvloei te hê.

Sihlobo skryf in sy weeklikse markoorsig vir Agbiz plaaslike koringboere word nie vergoed met beter pryse as die oes laer is nie omdat Suid-Afrika ’n invoerder van koring is. Hy verduidelik as skade voorkom in oeste waarvan Suid-Afrika ’n netto uitvoerder is, soos mielies, kon die impak van ’n laer oes op die produsenteprys aansienlik gewees het.

Suid-Afrika voer egter sowat die helfte (gemiddeld 1,6 miljoen ton) van die koring wat jaarliks gebruik word in, en dié pryse is in pas met invoerpariteitsprysbepaling.

Meer oor:  Graan Sa  |  Jannie De Villiers  |  Graan  |  Oesskattingskomitee  |  Droogte  |  Koring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.