Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Droogte: ‘Ons kan nie sulke boere verloor’

Meer as 70 desperate boere het al sedert Oktober by die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) aangeklop omdat hulle weens skuld hul plase kan verloor.

Jakob van Rooyen, ’n werker op die plaas Patrysfontein net buite Griekwastad, voer skape. Foto: Deon Raath

Een van dié boere het die afgelope sewe jaar net twee goeie oesjare gehad. Vir lank moes hy R100 000 se beeste per maand verkoop om net sy rente by die bank te delg. Die boer het ’n ooreenkoms met die bank aangegaan om R50 000 per maand terug te betaal, wat hy getrou gedoen het. Maar toe verdroog nóg ’n oes in Julie op die lande en die bank laat weet in Oktober in ’n e-pos ’n afslaer is aangestel.

Ondanks dokumente en beplanning wat wys hy kon binne twee jaar weer in die groen wees, was die bankbaas se enigste woorde: “Meneer, gaan soek asseblief vir jou ’n ander bank, ons wil nie meer met jou sake doen nie.”

Sy rekening is aan die invorderings­afdeling oorhandig.

Dit is ’n boer wat 1 100 hektaar per jaar beplant. “Ons kan nie sulke boere verloor nie, want dit sal voedselsekerheid bedreig,” sê Francois Rossouw, Saai se uitvoerende hoof. Saai het einde Oktober met die veldtog begin om boere te probeer beskerm teen hardvogtige skuldeisers, onder meer omdat hulle bekommerd is oor ’n toename in selfdood onder boere, sê Rossouw.

Sedertdien het hulle meer as 70 navrae van boere in nood ontvang.

Van dié boere sê banke bel weekliks om te hoor van betaling, of vra wanneer die boer gaan inkom om ’n tweede verband te registreer. Dít terwyl die polisse by die bank genoeg is om alle koste te dek, lui een van die e-posse.

Rossouw sê Saai sal die inligting gebruik om te wys dit is ’n gemeenskaplike probleem, eerder as geïsoleerde gevalle, van “ongenaakbare banke en ander finansiële diensverskaffers en uitbuiter-prokureurs wat boere se lewens ondraaglik” maak.

’n Jong boer skryf hy het reeds drie jaar gelede al sy vee verkoop en verlede jaar die grond en plaaswerktuie probeer verkoop, maar geen aanbod vir die grond gekry nie.

Saai weet van gevalle by Absa, FNB, Nedbank en Standard Bank, asook finansiële instansies soos Senwes en Suidwes-landboukoöperasie. Dit kom landwyd voor, maar daar is ’n konsentrasie in die Vrystaat en Noordwes (veral in die omgewing van Bultfontein, Theunissen, Hoopstad, Bloemhof, Schweizer-Reneke en Hennenman), en dan ook gevalle in Limpopo, die Noord- en Wes-Kaap.

Hy sê hulle het reeds met sekere banke en finansieringsinstellings begin gesels oor ’n alternatiewe benadering tot die boere. Baie van hulle is verras as hulle die omvang van die probleem sien, sê Rossouw. Saai vind die skuldeisers luister as hulle besef dit is nie een boer nie, maar ’n groep wat geraak word. Hoewel die banke tegemoetkomend is, is die prokureurs wat hulle aanstel om skuld in te vorder, dikwels baie aggressief.

Volgens Rossouw vra hulle vir ’n tegemoetkomende benadering teenoor boere wat een of twee goeie oesjare nodig het om weer op die been te kom. Een moontlikheid is ’n kapitaalmoratorium waar die boere net die rente betaal en nie kapitaal nie.

Rossouw sê van die plase wat op die punt is om onder boere uit verkoop te word, is al vier geslagte in dié families. Net dié week het ’n boer gebel en gesê ’n afslaer staan gereed om sy plaas vir R10 miljoen op te veil om skuld te betaal, al het hy R45 miljoen se bates.

Rossouw sê weens die jare lange droogtes is grondpryse laag en weerspieël dit nie die ware waarde van die plase nie. Dit bring mee dat boere steeds met hope skuld sit, al word die plaas verkoop.

Hy sê daar is hartverskeurende briewe van desperate en moedelose boere, wat weet een of twee goeie seisoene sal hulle deurhaal en dat hul bates hul laste oorskry, maar die banke wil niks meer hoor nie. Daar is vroue wat namens hul mans skryf wat nie meer die druk van die banke kan hanteer nie en wat hoop “iets gebeur” dat hul lewenspolisse kan uitbetaal.

’n Jong boer skryf hy het reeds drie jaar gelede al sy vee verkoop en verlede jaar die grond en plaaswerktuie probeer verkoop, maar geen aanbod vir die grond gekry nie.

Meer oor:  Droogte  |  Boere  |  Landbou  |  Landboubedryf  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.