Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Droogte wurg mielie-oes
’n Trekker berei ’n land tussen Viljoenskroon en Bothaville voor vir aanplantings. Groot dele van die land wag desperaat vir reën. Foto: Mlungisi Louw

Baie van die land se mielieboere kan onderdeur wees as dit nie binne die volgende twee weke reën nie.

Enkele boere wag op reën om laat aanplantings te doen terwyl ander groot skade aan hul jong mielie-oes vrees as die reën wegbly.

Hoewel die situasie weens die lae reënval nie oral in die land ewe benard is nie, is veral boere in die westelike dele van die land waar somergewasse geplant word, blootgestel, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

“Daar is boere wat kan uitboer as hulle vanjaar weer ’n swak of geen oes het nie. Dis moeilik om te skat hoeveel boere geraak kan word, want laat aanplantings kan nog gebeur.”

Skrapse reënval en die onlangse hittegolftoestande het boere wat somergewasse aanplant in ’n knyptang.

De Villiers sê in die westelike Vrystaat en Noordwes is mielies net geplant op sowat 75% van die oppervlakte wat aanvanklik beplan is. En dié dele lewer sowat 60% van die land se mielie-oes.

Daar is boere wat kan uitboer as hulle vanjaar weer ’n swak of geen oes het nie.
Jannie de Villiers van Graan SA

In die Wolmaransstad- en Schweizer-Reneke-omgewing is die persentasie wat aangeplant is selfs nog laer.

Johan van den Berg, ’n landbouweerkundige van Santam-oesversekering, sê op Ladybrand, Tweespruit, Hoopstad, Bultfontein, Wesselsbron, Hertzogville en Boshof in die Vrystaat is ook min mielies geplant.

In dele van Noordwes soos Koster, Vryburg, Klerksdorp en Ventersdorp, asook Kroonstad en Koppies in die Vrystaat waar daar wel mielies geplant is, kry die jong plante swaar in die hitte. Sterk winde droog ook die grond uit en die warm sand brand die plantjies.

Middel November tot middel Desember is die ideale planttyd vir mielies in die westelike deel van die land. De Villiers sê dit is dus reeds laat, maar as goeie reën val, kan laat aanplantings gedoen word. Boere kan ook tot einde Januarie sonneblom in die grond kry.

Aanplantings lyk veel beter in die oostelike dele van die land soos Mpumalanga, die Oos-Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, sê De Villiers. Dié streke lewer 40% van die land se mielieoes.

De Villiers sê reën is dringend nodig, want grondvog neem af. As die mielieplant begin saad stoot, soek hy baie water om vol pitte te verseker. Met te min water is daar veel minder pitte aan die mieliekop.

“Die oes in die Hoopstad- en Schweizer-Reneke-omgewing is nog baie jonk. Ek het die week foto’s gesien en daar is kolle waar dit sleg lyk. Die hitte maak ook dat die mielies plek-plek nie opkom nie.”

Die nasionale oesskattingskomitee se volgende verslag oor aanplantings en oesskattings sal op 30 Januarie gepubliseer word.

Wes-Kaapse boere moet 60% minder as hul toegekende kwota water gebruik. Foto: Pixabay

De Villiers sê as dit reën soos wat tans voorspel word, is daar geen koskrisis in sig nie. “Die krisis wat op pad is, is oor boere wat gaan uitboer, wat dit nie gaan maak nie omdat dit die derde of vierde jaar van droogte is.”

Suid-Afrika het ’n rekord-mielie-oes van sowat 16 miljoen ton in die 2016-’17-seisoen gehad en die land begin die nuwe seisoen dus met ’n groot openingsvoorraad en surplus van sowat 4 miljoen ton.

“Al is ’n groot tonnemaat geoes, het boere nie finansieel herstel in een goeie seisoen nie. Baie het wel hul skuld by banke geherstruktureer, maar as daar nou weer nie ’n oes is nie, is daar beslis boere wat nie die mas sal opkom nie.”

Van den Berg sê die prys van mielies is nou sowat R2 100 per ton, terwyl dit minstens R2 500 per ton moet wees om gelyk te breek. ’n Boer moet dus ’n bogemiddelde oes hê om naby die gelykbreek-vlak te kom.

Insetkoste wissel ook van R8 000 tot R12 000 per hektaar, afhangend van die gebied, wat beteken ’n oes van tussen 4 en 6 ton per hektaar is nodig.

Wes-Kaapse droogte

Boere in die Swartland in die Wes-Kaap maak gereed om teen April koring te plant, maar De Villiers sê as dit nie reën nie, weet hy nie hoe hulle weer finansiering gaan kry nie.

In syfers
Landbouskade weens die droogte word reeds op sowat R15 miljard geraam.

Intussen het die departement van water en sanitasie Vrydag streng beperkings op die gebruik van ondergrondse water vir landboudoeleindes in die gebiede Berg-Olifants (Franschhoek tot Velddrif, en Citrusdal tot Koekenaap), en Breede-Gourits (Ceres tot Witsand, en Beaufort-Wes tot Stilbaai) in die Staatskoerant afgekondig.

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê boere moet nou 60% minder as hul toegekende kwota gebruik. Aanvanklik was die inkorting 40%.

Sagtevrugte, wyndruiwe, tafeldruiwe, sitrusvrugte – en groente wanneer daar water is – word in die gebiede verbou.

Opperman sê navorsing het gewys wanneer 60% minder water aan produsente toegeken word, die gemiddelde afname in voedselproduksie meer as 30% is, met duisende potensiële werksverliese wat daarmee gepaardgaan.

Die landbouskade weens die droogte word reeds op sowat R15 miljard geraam en die totale Wes-Kaapse landbousektor is onder geweldige druk, sê hy.

Wandile Sihlobo, ’n ekonoom van Agbiz, het Dinsdag in ’n markvooruitsig gesê tussen 16 mm en 60 mm reën kan in die volgende agt dae oor die land se mieliegordel val.

“Indien dit gebeur, kan oestoestande verbeter, maar die kans op bykomende aanplantings is beperk omdat die optimale vensterperiode verby is.”

Meer oor:  Graan Sa  |  Agri Wes-Kaap  |  Agri Sa  |  Carl Opperman  |  Jannie De Villiers  |  Graan  |  Waterbeperkings  |  Reën  |  Vrugte  |  Landbou  |  Droogte  |  Koring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.