Duisende wolboere in Lesotho het Vrydag opgeruk na die land se parlement in Maseru oor ontevredenheid met die regering wat slegs met Chinese wolkontrakte gesluit het.
Dié boere word nou deur hongersnood in die gesig gestaar omdat Wool Company, die Chinese maatskappy, versuim om hulle betyds te betaal.
Hulle het betoog teen regulasies wat hulle verhoed om hul eie produk uit te voer.
Dit volg nadat die regering 18 maande gelede nuwe wetgewing ingestel het wat die land se boere forseer om net aan dié maatskappy wol te verskaf.

Tussen 3 000 en 4 000 boere het Vrydag by die parlement in Maseru, Lesotho, betoog oor nuwe wetgewing wat hulle verhoed om onafhanklik handel te dryf met wol en merino, twee van die land se grootste uitvoerprodukte. Foto: Verskaf
Van die altesaam 40 000 boere wat afhanklik is van die uitvoer van dié produkte is desperaat omdat hulle sedert die laaste skeertyd, kort voor Kersfees verlede jaar, nog nie ’n sent van hul geld gesien het nie.
Die laaste afsnydatum vir betalings was 15 Junie vanjaar.
Eddie Prinsloo, ’n ramteler van Smithfield in die Vrystaat met sakebelange in Lesotho, sê die boere moes 15 Junie hul betaling kry ná maande se leë beloftes.
Volgens hom wil die boere nou ’n lisensie by die veearts laat teken sodat hulle ’n permit kan kry om soos normaal oor die grens handel te kan dryf.
Hy en ander rolspelers het Februarie met die senaat vergader sodat die parlement sy wetgewing kan verander.

Die wolboere in Lesotho is in opstand oor die regering wat hulle forseer om slegs aan ’n Chinese maatskappy, wat onder meer aan drie Lesotho-ministers behoort, handel te dryf. Dié maatskappy versuim glo om die boere betyds te betaal. Foto: Verskaf
Mokoenihi Thinyane, voorsitter van Lesotho se wol- en merinoraad, beskryf die situasie as ontstellend met boere, waaronder bejaardes, wat onlangs gesterf het weens hartkwale, depressie en selfs selfdood oor die gebrek aan inkomste.
Hy skryf in die memorandum die meeste wolboere weier nou om by die volgende veiling op 13 Augustus wol te verkoop uit protes en dit sal nie net hul eie verkope negatief beïnvloed nie.
Die Chinese maatskappy word glo besit deur drie ministers van Lesotho en Stone Shj, ’n Chinese sakeman.
Gewoonlik bemark boere hul wol en merino’s, twee van land se grootste uitvoerproduk, direk aan landboumaatskappye soos BKB en CMW in Suid-Afrika.