Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Duurder hoender kom dalk nadat Cyril ja sê vir hoër tariewe

Nuwe invoertariewe wat eersdaags op pluimveeprodukte gehef gaan word, mag dalk goeie nuus wees vir plaaslike produsente, maar dit kan jou sak ruk.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gesê “ons sal binne twee weke ’n nuwe tariefaanpassing vir die invoer van pluimvee instel om die plaaslike bedryf te ondersteun”.

’n Pak bevrore hoender waar daar geen duidelike aanduiding is van waar dit afkomstig is nie.Foto: Elvira Wood

Ramaphosa het nie gesê in hoe ’n mate invoertariewe aangepas gaan word nie.

Die aankondiging volg ná ’n jare lange stryd van veral die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) om die regering te oortuig om ’n invoertarief van 82% te plaas op ingevoerde hoenderborsies, asook op hoenderagterkwarte.

Die tariewe is tans onderskeidelik 12% en 37%.

Die rede vir dié aansoek is om “storting en roofsugtige invoer” te bekamp en op dié manier die plaaslike sektor te beskerm.

Sapa voer verder aan dat daar ook nie bewyse is dat aan die nodige gesondheidsvereistes voldoen word wanneer bevrore hoenderstukke van veral Brasilië ingevoer word nie.

Sapa en FairPlay, ’n organisasie wat hom vir ’n billike handelsomgewing in die pluimveesektor beywer, erken egter dat sou die aansoek goedgekeur word, die prys van hoendervleis in Suid-Afrika met tussen 2% en 12,3% vir verskillende snitte kan styg.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (Sancu) en EBieSA, wat die aansoek teenstaan, sê weer hul navorsing wys dat die prys van hoender met soveel as 32% kan styg as tariewe verhoog word soos wat Sapa versoek.

EBieSA, ’n organisasie wat 105 swart invoerders in die bedryf verteenwoordig, sê weer die produkte is veilig en is goed vir die plaaslike sektor.

FairPlay sê in ’n e-pos aan Netwerk24 dat hy “verheug” is oor die aankondiging Donderdagaand dat ’n aankondiging oor invoertariewe binne twee weke gedoen gaan word, maar dat hy eers gaan moet sien presies hóé die tariewe aangepas gaan word, voordat hy kommentaar daarop kan lewer.

“Ons hoop dat die vlak waarop besluit is, effektief sal wees om storting en roofsugtige invoer teen te werk wat duisende werkgeleenthede gekos het,” sê die organisasie in die e-pos.

Hoendervleis is die vleis wat Suid-Afrikaners die meeste eet. Volgens Sapa is die plaaslike aanvraag nagenoeg 28 miljoen hoenders per week.

Die Brasiliaanse vereniging vir diereproteïen (BVDP) het in 2019 in ’n verklaring gesê Suid-Afrika kan bloot nie genoeg hoender produseer om aan die plaaslike vraag te voldoen nie en dít is hoekom die vleis van ’n ander land ingevoer moet word.

Volgens dié vereniging sal daar ’n 30%-tekort aan hoendervleis in Suid-Afrika wees sonder sy hoenderuitvoer.

Meer oor:  Fairplay  |  Sapa  |  Cyril Ramaphosa  |  Hoender  |  Invoertariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.