Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Eers vleislose vleis, nou koffielose koffie!

Amerikaners in Seattle kan nou koffie drink wat nie van koffiebone gemaak is nie, maar gebrou is van sonneblomsade se doppe en waatlemoensade.

Die stigters van Atomo Coffee sê hul produk is die Tesla van koffies. Foto: Unsplash

Daar is wel ’n kinkel, want al is daar geen koffie betrokke by die maak daarvan nie, het hierdie “koffie” wat in blikkies verkoop word, steeds kaffeïen en gaan dit ook deur dieselfde brouproses as gewone koffie.

Atomo Coffee is ’n voedseltegnologie-onderneming wat nog in sy kinderskoene staan en bestaan uit ’n groep voedselwetenskaplikes en chemici wat doenig is om “koffie” sonder koffiebone te brou.

Die bestanddele wat vir die koffieboonlose-koffie gebruik word, word met ’n gepatenteerde chemiese proses behandel sodat dit die geur en smaak van tradisionele koffie namaak.

Verbruikers wêreldwyd kan reeds verskeie nagemaakte voedselsoorte, soos vleislose hamburgers en eierlose eiers, op winkelrakke kry. Selfs in Suid-Afrika kan jy kies om aan wors te smul wat van sampioene gemaak is en kaas wat nie van melk gemaak is nie.

Selfs McDonalds waag nou hul hand in die bedryf waar ’n alternatief die ware Jakob na-aap. In Europa doen dié kitskosgroep reeds ’n proeflopie van sy vleislose hamburgers genaamd die McPlant-burger.

Die groot vraag is natuurlik of dié koffie so maklik deur koffieliefhebbers aanvaar sal word.

Volgens Bloomberg het koffiedrinkers ’n baie meer intieme verhouding met koffie as enige van die ander produkte waarvoor ander opsies gevind word.

Maar oor sewe dekades mag hulle dalk nie ’n ander keuse hê as om dit te oorweeg nie. Die wêreld se $100 miljard-koffiebedryf is baie kwesbaar vir klimaat- en omgewingsveranderinge.

Arabica-koffiebone, die mees algemene boon, is baie gewild onder koffieliefhebbers en koffiekettingwinkels, soos Starbucks. Die bome waaraan die bone groei, floreer egter net in koue streke waar daar duidelike onderskeid is tussen reën- en droë seisoene, maar dié streke word al hoe kleiner en daar word voorspel Arabica-bone kan oor net sewe dekades tot 50% van sy habitat verloor.

Atomo Coffee het reeds sowat $11,5 miljoen in twee rondes van finansiering sedert 2019 in die hande gekry en een van hul beleggers is Horizons Ventures van Hongkong. Horizons steun reeds Impossible Foods en S2G Ventures wat Beyond Meat besit en vleislose vleisprodukte vervaardig.

Wat regulatoriese sake betref, gaan daar nog seker baie gevegte voorlê soos wat vervaardigers van die ware Jakob hul voet dwars sal neersit om hul markaandeel te beskerm.

Maar vir koffie wat sonder koffiebone gemaak word, mag dit dalk net makliker wees, omdat koffie nie beheer word deur die Amerikaanse-voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) se standaarde oor produkte se oorsprong nie.

Nou vir die miljoendollarvraag: Hoe smaak Atomo se koffie?

Volgens Bloomberg smaak dit nie te aardig nie. Dit het nie die bitter smakie wat ’n mens van gewone koffie kry nie. Dit is sag en laat ’n sweempie soetigheid op jou palet.

Meer oor:  Koffie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.