Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Egtheid van manuka-heuning onder verdenking

Dis nie net in Suid-Afrika waar vervalste en verdunde heuning verkoop word nie.

Manuka-heuning wat op Amazon.com geadverteer word.

Die bekende manuka-heuning, wat van Nieu-Seeland kom en ten duurste in die VSA teen sowat $100 per botteltjie deur bekendes soos Gwyneth Paltrow en Scarlett Johansson opgeraap word, is ook nou onder verdenking.

Jaarliks sowat 10 000 ton van dié vloeibare goud verkoop.

Die vangplek is egter dat net 1 700 ton manuka-heuning jaarliks in Nieu-Seeland geproduseer word.

So iewers is iemand besig om verbruikers in te loop en kleinhandelaars in die VSA en Brittanje word nou genoop om die egtheid van hul produkte te waarborg.

In die VSA het die nuusnetwerk ABC News onlangs, net soos Carte Blanche in Suid-Afrika, ’n aantal botteltjies manuka-heuning wat op kleinhandelaars se rakke gestaan het, vir egtheid getoets. Uit die 20 botteltjies wat getoets is, het net twee suiwer manuka-heuning bevat.

Die manuka, ook bekend as die Nieu-Seelandse teeboom, is ’n struik wat veral in die droër dele van Nieu-Seeland verbou word.

In Brittanje het Holland & Barrett, een van die groot gesondheidskettingwinkels, ook verlede week begin om al 34 soorte manuka-heuning te toets wat in sy 750 winkels verkoop word.

“Ons het besluit om die Nieu-Seelandse regering se vereistes oor egtheid in Brittanje af te dwing om te verseker ons klante kry net die suiwerste, onverdunde manuka-heuning,” het Peter Aldis, uitvoerende hoof van Holland & Barrett, in ’n verklaring gesê.

Manuka-heuning word veral vir sy antibakteriese eienskappe gebruik. Die bye bestuif die manuka-struik in Nieu-Seeland wat as ’n natuurlike geneesmiddel vir onder meer wondbehandeling, ’n seer keel en maagprobleme ingespan word.

In Suid-Afrika is die spreekwoordelike byenes ook oopgekrap toe in laboratoriumtoetse bevind is dat sommige bottels heuning wat plaaslik verkoop word, eintlik net ’n mengsel van suiker en water is.

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Bye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.