Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Ekonomie, Jooste ry glo perdeveiling

Die Cape Premier-veiling vir volbloed jaaroue perde in Kaapstad het vanjaar sy laagste omset sedert sy ontstaan in 2011 behaal.

Die veiling se totale verkope het R83,1 miljoen beloop. Dit is 24% laer as 2018 se R111 miljoen.

Wéhann Smith, uitvoerende hoof van die veilingmaatskappy Cape Thoroughbred Sales, het op die veiling aan Netwerk24 gesê hy sal gelukkig wees met enigiets tussen R100 miljoen en R120 miljoen.

Wéhann Smith, Cape Thoroughbred Sales
Wéhann Smith, uitvoerende hoof van die veilingmaatskappy Cape Thoroughbred Sales.

Ná die veiling het hy gesê “miskien was ons verwagtinge ’n bietjie hoog”.

Hy sê die omset hang ook af van hoeveel perde verkoop is en dit verskil van jaar tot jaar. Vanjaar is 28 minder perde verkoop.

Hy het verwag die vullens, wat gesog was, sou hoër pryse behaal. Die gemiddelde prys was R436 450, wat 13% laer is as in 2018 en op drie na die laagste prys in die geskiedenis van die veiling.

’n Teler in die Wes-Kaap wat anoniem wou bly omdat die bedryf so klein is, het Woensdag aan Netwerk24 gesê dit gaan swaar met die veiling omdat Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, uit die mark is. Hy was in renperdkringe bekend om sy groot besteding en die mag wat hy oor die bedryf uitgeoefen het.

“Hy was ’n groot koper en verkoper. Hy het pryse gelig. Telers gaan waar die geld is. In die ou dae sou hulle hierheen kom.”

Jooste se beleggingsvoertuig Mayfair Speculators het ’n groot belang in Cape Thoroughbred Sales gehad, maar dit is in 2018 verkoop.

perdeveiling
Hoë verwagtinge is gekoester vir Avontuur Thoroughbred Farm se Delta Queen. By die vul is Bethwell Arosi van Avontuur. Die perd het ’n prys van R2 miljoen behaal.

Mayfair was ook ’n groot aandeelhouer in die stoetplaas Klawervlei, wat die grootste verkoper op die veiling was. Dit is nie bekend of Mayfair reeds sy belang in die stoetplaas verkoop het nie.

Smith het by navraag oor Jooste se betrokkenheid voorheen by die veiling erken daar is “mense wat sal sê daar is steeds ’n verband en ’n negatiewe impak. Maar ek dink nie so nie. Ons het laas jaar alles gedoen om ’n nuwe blaadjie om te slaan.”

“Hy was natuurlik ’n groot koper en ’n groot rolspeler. Die bedryf het ’n groot rolspeler verloor en dit het ’n groot impak.”

Op die veiling het Smith gesê: “Ons het verlede jaar al die nodige stappe gedoen om die sakeverhoudings te verbreek. Mayfair het geen aandeelhouding meer nie en is ook nie meer betrokke nie.”

Smith meen die huidige trae ekonomiese toestande speel ’n groot rol.

Mense wat in perde belê, is sakelui en hulle word deur die ekonomie beïnvloed.

“Dit het ’n impak op wat hulle bereid is om te bestee. Maar hoewel die plaaslike ekonomie beslis ’n impak het, is ons gelukkig om so baie internasionale kopers te hê. In internasionale terme bied Suid-Afrika die beste waarde vir perde.”

Oor die minder perde wat vanjaar opgeveil is, het hy gesê hulle probeer om die beste wat Suid-Afrika bied op te veil.

“Dit is bedoel om ’n premier veiling te wees. So ons wil perde met die regte bloedlyn en konformasie verkoop en daar is minimum standaarde vir gehalte. Ons werk hard deur die jaar om die gehalte te verseker. Dit hang elke jaar af hoeveel perde die telers wil verkoop. En dit was die eerste veiling van die jaar en dus nog vroeg in die seisoen.”

Volgens Smith is die telers gelukkig met die resultate omdat 18 perde vir R1 miljoen of meer verkoop is.

Die veiling is vanjaar vir die eerste keer sedert 2011 net op een dag aangebied.

Smith, wat sedert 2017 uitvoerende hoof is, sê hy het agtergekom die momentum word op die tweede dag verloor, maar erken daar is tog ook ’n kostebesparing deur die veiling te verkort.

Meer oor:  Steinhoff  |  Mayfair  |  Markus Jooste  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.