Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
El Niño: Boere leer uit vorige lesse

Die risiko van ’n El Niño-verskynsel hierdie somer – met warmer as normale toestande wat graanoeste negatief kan raak – staan op 60%. Maar boere het in die 2015-’16-droogte waardevolle lesse geleer om die uitwerking van so ’n verskynsel te versag, sê landboukenners.

Met die vorige intense El Niño in 2015 en 2016 het die plaaslike mielieoes tot 7 miljoen ton geval. Suid-Afrika het sowat 11 miljoen ton mielies per jaar nodig. Foto: Pixabay

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het aan Rapport gesê selfs al bring El Niño ondergemiddelde reënval, maar die reën is goed versprei, kan boere steeds bogemiddelde oeste hê. Tog aanvaar Graan SA daar is ’n risiko, want die huidige voorspellingsmodelle gee nie die verspreiding van die verwagte El Niño nie.

Om die uitwerking van ’n droogte te versag, kan boere kies om hul swakste lande nie te beplant nie, want teen die huidige wêreldprys van mielies het boere ’n bogemiddelde opbrengs nodig om gelyk te breek, sê De Villiers.

Die prys van geelmielies het van R2 700 per ton in Junie 2016 gedaal tot R1 900 in Januarie en intussen bietjie herstel tot R2 385.

Baie boere doen bewaringsbewerking, wat beteken hulle ploeg nie die grond oop nie en behou dus vog. Of volgens ’n oorlê-stelsel is sekere landerye nie die afgelope seisoen beplant nie en het dus nog heelwat grondvog van die afgelope reënseisoen. As dié lande nou weer beplant word, lewer dit maklik ’n ekstra ton per hektaar, sê De Villiers.

Wandile Sihlobo van die landbousakekamer Agbiz sê teen einde Oktober sal daar groter sekerheid wees oor die omvang van El Niño. Die nasionale oesskattingskomitee sal ook dan sê hoeveel hektaar boere voornemens is om te plant, en of dit weens die weervooruitsigte minder sal wees as die normale 2,4 miljoen hektaar.

Met die vorige intense El Niño in 2015 en 2016 het die plaaslike mielieoes tot 7 miljoen ton geval. Suid-Afrika het sowat 11 miljoen ton mielies per jaar nodig.

Die huidige nasionale skatting is 13,2 miljoen ton nadat ’n rekord van 16 miljoen ton die vorige seisoen gelewer is.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan Suid-Afrika.

Die Amerikaanse departement van landbou het die afgelope week Suid-Afrika se verwagte mielieoes vir die seisoen afwaarts aangepas tot 13 miljoen ton.

Dié skatting is egter steeds bo die langtermyngemiddeld van 12,5 miljoen ton, sê Sihlobo.

Sekere kommentators het die inkrimping in landbouproduksie in die tweede kwartaal toegeskryf aan die debat oor grondonteiening sonder vergoeding.

Maar De Villiers sê die laer produksie in die tweede kwartaal het niks met die gronddebat te doen nie en is siklies van aard.

Die mielies wat nou geoes word, is in Oktober, November en Desember verlede jaar geplant – voordat die ANC besluit het om onteiening sonder vergoeding en ’n moontlike verandering aan die Grondwet te oorweeg.

Hy gee wel toe moontlike onteiening sonder vergoeding kan vorentoe ’n impak op landbouproduksie hê.

Dit het reeds ’n negatiewe uitwerking gehad op Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se landbouvertroue-indeks vir die derde kwartaal. Die indeks het tot 48 punte geval en is op die laagste vlak sedert die tweede kwartaal van 2016, wat ’n erge droogtejaar was.

Die samestellers sê landbou-ondernemings is pessimisties oor veral omset, indiensneming, kapitaalbelegging, uitvoervolume en ekonomiese groei.

Wat betref die sikliese faktore wat landbou se bydrae tot die BBP in die tweede kwartaal geknou het, vergeleke met ’n jaar gelede, sê De Villiers die tweede kwartaal se goeie oes word vergelyk met ’n rekordoes in 2017. Daarbenewens het dit laat gereën in die planttyd. Omdat die reën ’n maand laat was, het oestyd ook ’n maand later begin. Bitter min mielies is dus in Junie (tweede kwartaal) geoes, maar teen Julie (derde kwartaal) het boere fluks geoes.

Graan SA se voorlopige berekeninge wys landbou se bydrae tot die BBP in die derde kwartaal kan 9% hoër wees as ’n jaar gelede en tot 21% hoër in die vierde kwartaal, sê De Villiers.

Hy verwerp gerugte dat boere nie gaan plant nie omdat daar enkele plase is waarvan pryse met sowat 30% geval het.

Daar was dalings, maar dis ’n “toksiese aanname” om te sê dit is alle landbougrond. Wanneer landbou swaar trek, soos met die onlangse droogte, is daar boere wat uitboer, en meer plase is dus te koop. Met dié groter aanbod val pryse dus in sekere dele, sê hy.

Volgens De Villiers het minstens twee instansies met groot landboulenings op hul boeke die afgelope week by Nampo Kaap gesê hulle sien geen teken van ’n algehele prysdaling van 32% nie.

Meer oor:  Graan Sa  |  Wandile Sihlobo  |  Jannie De Villiers  |  Dawie De Villiers  |  Mielies  |  Droogte  |  El Niño  |  Graan  |  Mielie-Oes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.