Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Emile Joubert: Meningvormer en SA se wyne

Die deure van die wynwêreld staan wawyd oop vir Tim Atkin, maar dis die een na Suid-Afrika waarheen hierdie gesaghebbende Britse wynskrywer en beoordelaar altyd terugkeer.

Illustrasie. Skets: Hanlie Malan

Dis nou die sewende jaar dat hy in samewerking met die bedryfsliggaam Wines of South Africa (Wosa) die land ’n maand lank besoek om sy onontbeerlike South Africa Special Report saam te stel – waarskynlik die deeglikste jaarverslag oor Suid-Afrikaanse wyne.

Benewens om vir Suid-Afrikaanse produsente en wynliefhebbers te laat weet waar hy dink hul land se wyne staan, maak Atkin se internasionale reputasie as een van die voorste joernaliste en meningvormers oor wyn hierdie verslag van hom ’n belangrike rigtingwyser wat ver wyer as die landsgrense strek.

Hy is een van die handvol mense wat die Britse Master of Wine-kwalifikasie agter sy naam kan skryf en het oor die 33 jaar se ervaring as joernalis en beoordelaar van wyne in enige land denkbaar. Sy opinie, dus, is van meningvormende aard.

SA op sy radar

“Ek was al ’n hele paar jaar as wynjoernalis in die bedryf betrokke voordat ek my aan Suid-Afrika gesteur het,” sê Atkin voor die begin van sy daaglikse program, wat die proe en ontleding van 70 wyne behels.

“Dit was in die 80’s en die land se politiek het my nie aangestaan nie – ek was een van daardie ouens wat voor jul ambassade op Trafalgar-plein vir Nelson Mandela se vrylating betoog het.

“Ek het geweet daar word wyn in die land gemaak, maar dit het nie op my radarskerm verskyn nie.”

’n Suid-Afrikaanse gentleman genaamd Tim Hamilton Russell, die pionier van wynmaak in die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus, het Atkin egter in 1990 oorreed dat die land uit ’n wynoogpunt vir ’n opkomende wynpersoonlikheid ’n besoek werd is. Plus, noudat Mandela vry was, kon hy dit met ’n skoon gewete doen.

“Vanuit ’n wynoogpunt was daardie besoek ’n openbaring, grootliks omdat ek uit die staanspoor aan mense soos Neil Ellis, Jan Boland Coetzee en Gyles Webb van Thelema blootgestel was,” sê hy.

“Wonderlike mense en wynkundiges wat toe reeds baie goeie wyne gemaak het. In daardie jare was daar roeringe van iets groots in ’n wynkonteks – ek dink aan name soos Kanonkop en Thelema – maar dit was duidelik dat Suid-Afrika nog ’n ver pad gehad het om te loop, hoewel al die potensiaal daar was.”

Sowat 28 jaar en vele, vele besoeke later is Suid-Afrika omtrent deel van Atkin se DNS en ken hy die streke en wyne waarskynlik beter as enige plaaslike joernalis of wynkommentator.

Ek het baie wynvriende hier – van Jan Boland, Gyles Webb, Charles Back en Neil Ellis, wat ek op my eerste besoek ontmoet het, tot die nuwe geslag wat ek oor die afgelope tien jaar leer ken het.

Wat bring hom terug?

“Ek het baie wynvriende hier – van Jan Boland, Gyles Webb, Charles Back en Neil Ellis, wat ek op my eerste besoek ontmoet het, tot die nuwe geslag wat ek oor die afgelope tien jaar leer ken het.

“Die klassieke plase maak steeds wonderlike wyne. Dan is daar ’n dinamiese gees onder jonger wynmakers, die mense wat met nuwe druifsoorte eksperimenteer en wat wingerde in afgeleë gebiede in die Swartland, byvoorbeeld, gaan soek,” sê hy.

“Daar is die waardering vir die ou wingerde wat hier staan, dan is daar ook die gees van vernuwing. Dis als baie opwindend, besielde wynmense wat uniek in die wêreld is, diversiteit van wingerdgronde en streke . . . en die natuurlike plantomgewing in die wynlande. Maar bowenal, die wyne. Met elke besoek raak die wyne beter.”

Een van die faktore wat lei tot hierdie energieke gees, meen Atkin, is die feit dat dit in Suid-Afrika relatief maklik is vir ’n wynmaker om die bedryf te betree en sy of haar eie stempel op ’n wynreeks te plaas.

“Jy kan kelderruimte huur, druiwe koop uit die streek wat jy soek, en daar gaat jy,” sê Atkin. “ ’n Jong Franse lat kan nie dink om so iets in Boergondië, byvoorbeeld, te doen nie. Daar is die bedryf geslote en toegang tot wingerd en druiwe onbekostigbaar.”

Die sleutel tot sukses is goeie wyn teen ’n relatiewe hoë prys wat in die tipe hoeveelhede gemaak word wat sorg dat mense oor die wêreld heen notisie daarvan kan neem.

SA se beeld ly hieronder

Ondanks al hierdie positiewe geluide is Atkin dit eens dat Suid-Afrika se beeld as wynland ly onder die persepsie van een wat goedkoop wyne maak.

“Té groot klem op grootmaatwyn, ongelukkig,” sê hy. “Wyn wat hiervandaan verskeep, oorsee gebotteleer word en op die rak teen ’n appel en ei beland.

“Die meeste van die produsente wat uitsonderlike wyne die lig laat sien – en julle het baie – produseer op ’n skaal wat te klein is om die groter markplek te lok,” verduidelik Atkin.

“Die sleutel tot sukses is goeie wyn teen ’n relatiewe hoë prys wat in die tipe hoeveelhede gemaak word wat sorg dat mense oor die wêreld heen notisie daarvan kan neem.

“In Suid-Afrika is Kanonkop en Kleine Zalze, en Marc Kent se Chocolate Block op die regte pad, maar oor die algemeen is daar nie genoeg premie handelsmerke om die tipe bewustheid te skep en beeld te bou wat die land verdien nie.”

Ek is fanaties daaroor om gesond te bly – ek pomp myself vol vitamiene, want griep of verkoue is die laaste ding wat iemand soos ek kan bekostig.

Dís wat hy proe

Wat sy eie werk hier betref, bly hy verstom met wat hy proe.

“Ek dink chenin blanc is waarskynlik die land se interessantste en beste variëteit. Dit weerspieël terroir soos geen ander nie en as gevolg van die wye aanplantings wat die KWV destyds vir brandewynstook aangespoor het, is die spektrum chenin blancs wat ’n mens hier kry net fantasties.”

Die tyd raak min vir die gesprek – die dag se 70 wyne lê voor, en dis al 10:00.

Wat is die resep vir hierdie tipe werk, wat nogal straf kan raak oor een maand?

“Ek drink baie water en kry genoeg slaap,” sê hy, “en ek is fanaties daaroor om gesond te bly – ek pomp myself vol vitamiene, want griep of verkoue is die laaste ding wat iemand soos ek kan bekostig.

“Maar ek hou myself gestimuleer deur die veelsydigheid van die wyne wat ek proe en die persoonlikhede wat hul wyne aan my kom voorlê. Dít maak als die moeite werd.”

Uit die deur uit blits hy na die volgende een waar ’n dag se glase wag om geproe te word.

Dit is harde werk, en iemand moet dit doen.

Meer oor:  Wyn  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.