Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Erge beurtkrag sal uitvoer van tafeldruiwe knou

Mens kan nog ’n koelkamer se deur vir twee uur toehou om die druiwe te beskerm, maar wanneer beurtkrag ses uur lank duur, gaan jy skade kry.

Só sê ’n bekommerde Willem Bestbier, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf (Sati), nadat fase 6-beurtkrag onverwags vandeesweek ingestel is – in die middel van die tafeldruifbedryf se besigste tyd van die seisoen.

En dít raak alle streke landwyd, van die noordelike provinsies soos Limpopo en Mpumalanga, die streke by die Bergrivier, Hexrivier en Olifantsrivier in die Wes-Kaap en die dele om die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

“Ons bedryf is nou in sy spitstyd. Dit is ’n betreklike kort tyd waarin alles gebeur. Die grootste skade is wanneer die koueketting verbreek word. Dit word deurentyd gemonitor en beurtkrag van ses uur beteken eenvoudig dit is nie meer geskik vir uitvoer nie,” sê Bestbier.

Die grootste skade is wanneer die koueketting verbreek word.

Hy sê tafeldruiwe is hoogs bederfbaar en die handhawing van die koueketting en lae temperature is deel van formele en wetlik bindende internasionale maatreëls. Onderbrekings in temperatuur kan produkte vir uitvoerdoeleindes diskwalifiseer.

Verder is pakhuise uiters arbeidsintensief en duisende werkgeleenthede en die bruto inkomste op uitvoer van meer as R7 miljard op plaasvlak is onmiddellik in gedrang, sê Bestbier.

Ook Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die jongste beurtkrag kom op ’n besonder besige tyd vir produsente en landboumaatskappye.

Beurtkrag het ’n negatiewe invloed op energie-intensiewe en besproeiing afhanklike bedrywe van landbou – in die proses van die plaashek tot in die verbruiker se huis. Die handhawing van die koueketting is van kritieke belang om die gehalte en rakleeftyd te verseker, sê Jansen.

Hy sê die landbousektor het ’n verskeidenheid groenkragoplossings vir die energiekrisis in Suid-Afrika. “Ons sal graag wil sien dat Eskom saam met ons werk om die energievoorsieningsnetwerk te diversifiseer met onder meer son- en windenergie,” sê Jansen.

Beurtkrag hou nadelige gevolge in vir die tafeldruifbedryf.

Jacques Jordaan, die uitvoerende hoof van die produsentevereniging vir inmaakvrugte, ’n lid van Agri SA se bedryfskamer, sê vrugte is in verskillende fases waarin dit ryp word en optimale waterbestuur is van kritieke belang.

“Kragonderbrekings het ’n regstreekse invloed op die bestuur van watertoevoer in boorde en watertekorte kan in baie gevalle nie later reggestel word nie. Gevolglik word kleiner vrugte geproduseer wat ’n verlies aan inkomste vir die hele waardeketting inhou.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Beurtkrag  |  Tafeldruiwe  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.