Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
EU gevra om met SA oor drankverbod te praat
drankverbod, wynbedryf, alkohol
Wynbottels staan onaangeraak op 'n winkelrak. Foto: Jaco Marais

’n Oorsese drukgroep in die drankbedryf wat talle groot drankreuse insluit, het ’n beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse regering om ’n “duidelike en betroubare” tydsraamwerk te gee oor hoe die drankverbod gedurende die staat van inperking hier vinnig opgehef kan word.

Die organisasie spiritsEUROPE word beskryf as ’n verteenwoordiger van een van Europa se waardevolste landbou-uitvoersektore, wat die belange van 31 verenigings van spiritualieë-produsente en tien van die voorste drankmaatskappye in die wêreld verteenwoordig.

Volgens Ulrich Adam, direkteur-generaal van spiritsEUROPE, word die verbod ook deur die groot handelsvennote soos die Europese Unie (EU) gevoel omdat Suid-Afrika ’n belangrike uitvoerbestemming vir drank van daar af is. Die drankuitvoer na Suid-Afrika het in 2019 255 miljoen beloop.

“Die verbod verwyder alle voordele van die ekonomiese vennootskapsooreenkoms tussen die EU en Suid-Afrika in ’n tyd waarin ons eintlik maniere moet vind om ons handelsbetrekking te verdiep om mekaar se herstelprosesse te steun.

“Die verbod op verkope beteken ook daar is ’n verbod op die invoer van Europese drank terwyl Suid-Afrika steeds mag uitvoer, veral wyn, waarvan 110 miljoen liter belastingvry na die EU onder die ooreenkoms uitgevoer mag word. Dit dra R5,7 miljard in uitvoerinkomste vir alkoholiese produkte tot Suid-Afrika by.”

Volgens Adam is lede van die organisasie wat in Suid-Afrika bedrywig is, diep besorgd oor die onsekerheid van die huidige handelstoestande.

“Die gebrek aan duidelikheid oor of en wanneer die verbod opgehef gaan word, maak sakebeplanning onmoontlik. Ons het dus ’n duidelike en betroubare tydsraamwerk nodig.”

Die organisasie het ook ’n beroep gedoen op die Europese Kommissie om ’n dialoog met die Suid-Afrikaanse regering hieroor te voer.

Die EU is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die kommer wat spiritsEUROPE oor die huidige wanbalans in handel uitgespreek het.

Sibani Mngadi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse drankbedryf, sê dit is belangrik dat die regering die algehele impak van die verbod oorweeg wanneer oor die volgende stap in reaksie op die Covid-19-pandemie besluit word.

“Terwyl vordering gemaak word ten opsigte van die gesondheidsreaksie op die pandemie, is dit noodsaaklik dat die regering die verdere negatiewe impak van die verbod op die plaaslike ekonomie en op ons internasionale verpligtinge as ’n land beperk.”

Suid-Afrika het reeds nagenoeg R13 miljard se direkte kapitale investering verloor omdat die Suid-Afrikaanse Brouerye, Heineken en Consol Glass weens die verbod besluit het om van hul uitbreidingsprojekte te staak.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Wynbedryf  |  Uitvoere  |  Landbou  |  Drankverbod  |  Drankverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.