Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Fairtrade skors plaas tydelik
’n Werker oes druiwe op ’n plaas by Prieska in die Noord-Kaap. Ter illustrasie.

Regstelling:

Daar is vroeër berig dat dit Van Loveren Family Vineyards se Fairtrade-sertifikaat is wat opgeskort is. Dit is net van die plaas De Goree wat druiwe aan Van Loveren lewer en waarin Van Loveren 'n 48% minderheidsbelang het.


 

Die plaas De Goree, 'n verskaffer aan Van Loveren Family Vineyards, is tydelik deur die handelsnaam Fairtrade geskors omdat geld van ’n werknemerstrust glo onregmatig bestee is.

Die wynmakery by Robertson het dit Vrydag bevestig en aangedui dat hy vandeesweek ’n “verbeteringsplan” by Fairtrade sal indien oor kwessies wat op ’n ondersoek aan die wynplaas De Goree aan die lig gekom het.

Phillip Retief, uitvoerende hoof van Van Loveren Family Vineyards, sê Fairtrade se ondersoek het alle aantygings teen die wynmakery weerlê.

Dit het egter bevind dat die Fairtrade-premie wat vir die werkers beskore is, nie “korrek aangewend” is nie en van die geld glo “onregmatig” vir eie gebruik aangewend is deur die instansie wat dit namens die wynmakery en werknemers bestuur.

Met die verkope van elke Fairtrade-wyn word ’n premie in ’n fonds vir werkers en boere geplaas waar hulle dit na goeddunke kan aanwend om hul maatskaplike, ekonomiese en omgewingstoestande te verbeter.

Die Fairtrade-handelsnaam dui aan dat produkte aan sekere standaarde vir die vervaardiging en handel daarin voldoen, en dat dit jaarliks deur die liggaam Flo-Cert geoudit word.

Dit word beskryf as ’n “etiese sertifikasie” van produkte se verskaffingsketting om ondernemings aan te moedig om meer volhoubaar en verantwoordelik te wees.

Van Loveren se Five’s Reserve is tot met die oes van 2016 nog onder Fairtrade se handelsnaam verkoop, terwyl die House of Mandela-reeks en sy grootmaatwyn steeds as Fairtrade-wyne verkoop word.

Die druiwe vir Five’s Reserve word van De Goree in die Robertson-distrik gekoop. Van Loveren besit 48% van die plaas en die De Goree Werkernemerstrust 52%.

Die Fairtrade-premie word in ’n trust inbetaal met riglyne waarvoor die geld aangewend kan word.

“Die geld word deur ’n gesamentlike liggaam bestuur en Van Loveren het geen tekenmagte op hierdie geld nie.”

Volgens Retief is die “idee vir die aanwending van die geld” wat later ondersoek is, aan die werkers voorgestel deur ’n Skandinawiese joernalis wat die plaas besoek het.

Dit verwys na Tom Heinemann van Denemarke wat onlangs die omstrede dokumentêr Bitter Grapes – Slavery in the Vineyards oor werkomstandighede op Suid-Afrikaanse wynplase gemaak het.

Retief sê dit laat “vrae oor die motiewe van die joernalis” en hy het beklemtoon dat beeldmateriaal van Heinemann op ’n buurplaas en nie op De Goree afgeneem is nie.

“Ons bedryf het reeds ver gekom met kwessies soos transformasie, bemagtiging, opleiding en dies meer, en ons gee erkenning dat daar soveel meer is wat nog gedoen moet word,” sê hy.

“Eensydige en onakkurate beriggewing soos hierdie rig soveel onnodige skade aan die bedryf, asook individuele ondernemings, en is meer demotiverend as opbouend.”

Meer oor:  Fairtrade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.