Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Familieboere moet saam beplan vir die toekoms – landbouleier

Die huidige geslag familieboere kan moontlik die laaste wees wat die familieplaas in sy oorspronklike vorm ken.

Dit is omdat al meer kos in fabrieke en laboratoriums vervaardig word.

Boonop bevoordeel skaalbesparing die groot kommersiële boere, maatskappye en internasionale korporasies waarteen familieboerderye nie kan meeding nie.

Só het dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), Dinsdagmiddag op ’n aanlyn landbouberaad van Old Mutual gesê.

“Ons werk hard daarteen, maar al meer toekomskundiges praat van ’n wêreld sonder plase.

Vir familieboere om in die toekoms te bly voorbestaan, is dit dringend noodsaaklik dat hulle gesamentlik moet begin om vir die toekoms te beplan. Anders sal die konsep van die familieboer, wat al oor geslagte heen bestaan, nie oorleef nie.

“Dit nie net die taak van die boere nie, maar ook dié van beleidmakers, groot ondernemings, finansiële instellings en professionele mense wat die dagbreek agter die berg kan raaksien,” het De Jager gesê. Hy is ook voorsitter van die organisasie Saai, wat na die belange van familieboere omsien.

Die Verenigde Nasies (VN) het reeds in 2014 bevind dat familieboerderye ’n groot rol kan speel om die proses van verstedeliking om te keer.

Hy het gesê die Verenigde Nasies (VN) het reeds in 2014 bevind dat familieboerderye ’n groot rol kan speel om die proses van verstedeliking om te keer.

Dit is omdat familieboere en hul plaaswerkers die ekonomie in landelike gebiede dryf.

“Familieboere is die rede waarom ons klein dorpe het. Danksy familieboere is daar skole, kerke en landboumaatskappye op klein dorpe.

“As een van dié drie bene van die pot sou afbreek, sal die dorp soos die pot omval.

“As dit gebeur, moet die boer verder ry na die volgende dorp. Uiteindelik sal hy al sy besigheid na die ander groter dorp neem.

“Die gevolg daarvan is dat al meer mense nader en nader aan dié dorpe en stede sal begin beweeg.

“Die VN het toe al (in 2014) gesê tien boere wat elk op 200 ha boer, skep byna dubbeld die hoeveelheid werkgeleenthede as een groot boer op 2 000 ha.

“Die VN sê ook familieboere is die anker van ’n waardestelsel oor die wêreld heen.

“Waar jy ook al in die wêreld gaan, is boere gewoonlik die meer konserwatiewe deel van die gemeenskap.

“Ek praat nie van konserwatief ten opsigte van politiek of godsdiens nie, maar wat familiewaardes betref. Dit is omdat gesinne op plase nader aan mekaar leef en meer tyd aan mekaar spandeer,” het hy gesê.

“Vir die VN is dit belangrik dat dié waardestelsel behoue bly.”

Suid-Afrika het ’n geskiedenis van suksesvolle familieboere.

De Jager het gesê Suid-Afrika het ’n geskiedenis van suksesvolle familieboere. “Daar is van ons boere wat al die agtste of negende geslag op ’n plaas is.

“Die werklikheid is ongelukkig dat baie min plase ná die derde geslag nog in die familie bly. Dit is meestal weens interne konflik in die familie as gevolg van swak bepanning.

“Dit is waarom familieboere professionele mense nodig het om dié hindernisse te oorkom of te voorkom.”

De Jager het gesê as WLO-president het hy die laaste drie jaar oor die wêreld heen plase besoek en oral daar word die Suid-Afrikaanse boere hoog geag.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep, het op die beraad gesê daar is geen plaasvervanger vir kos nie. Daarom moet na landbou omgesien word.

“Al meer regerings het nou tydens die Covid-19-pandemie besef hoe belangrik voedselsekerheid is. Suid-Afrika is een van baie min lande in Afrika wat voedselsekerheid het.

“Vir die eerste keer in sowat 50 jaar was landbou en voedsel die grootste buitelandse valutaverdiener vir Suid-Afrika. Ek haal my hoed af vir die land se boere,” het Botha gesê.

Meer oor:  Theo De Jager  |  Landbou  |  Toekoms  |  Boere  |  Plase
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.