Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
FarmTrack gee boer meer beheer
Waldo van der Merwe, projekleier vir FarmTrack by die tegnologiemaatskappy EMSS Consulting in Tegnopark, Stellenbosch, sê dis ’n Trots Suid-Afrikaanse produk wat op versoek van die gewas­bespuitingsgroep Terason ontwikkel is sodat boere kan weet hoe effektief oesbespuiting gedoen is.

Waar GPS-toestelle eers grootliks net op groot graanplase gebruik is, het ’n groep ondernemende ingenieurs van Stellenbosch dié tegnologie nou aangepas vir die vrugte- en wingerdbedryf – voorwaar, skryf Francois Williams, presisieboerdery kom vrugteplaas toe.

Hierdie FarmTrack-tegnologie is in ál 18 trekkers van Cluver Farms in die Elgin-omgewing geïnstalleer, waar die boerdery van 200 ha se boorde en wingerde reeds voordeel trek.

Waldo van der Merwe, projekleier vir FarmTrack by die tegnologiemaatskappy EMSS Consulting in Tegnopark, Stellenbosch, sê dis ’n Trots Suid-Afrikaanse produk wat op versoek van die gewas­bespuitingsgroep Terason ontwikkel is sodat boere kan weet hoe effektief oesbespuiting gedoen is.

Hoe werk dit?

Dit word gemonteer op trekkers wat oesbespuiting in wingerde en vrugteboorde doen. Die posisie van ’n trekker word via satelliet gemonitor en die data word via die selfoonnetwerk gestuur na EMSS Consulting, wat die data verwerk. Verslae word dan aan boere gestuur sodat hulle presies kan sien of enige rye of boorde oorgeslaan is, hoe doeltreffend hul trekkers bedryf word en of die spuitmengsel teen die regte spoed toegedien is.

EMSS Consulting het ver­lede jaar ’n belang gekoop in Etse Electronics, ’n plaaslike maatskappy wat aanvanklik die versoek van Terason ontvang het. Dis tóé dat EMSS betrokke geraak het om die tegnologie te verfyn.

Met vrugteboorde en wingerde waar die rye net ’n paar meter uit mekaar is, is akkuraatheid belangrik. Die toestel werk ook in geharde omstandighede – in die son, stof, water en tussen korroderende chemikalieë, sê Van der Merwe.

’n Plaaslike steekproef

Hoewel die uitvoermark ’n geleentheid bied, voorsien Van der Merwe dat die plaaslike mark eers getoets word. “Plaaslike boere het hoë standaarde.”

Karin Cluver, plaasbestuurder by Cluver Farms, sê be­newens die meet van bespuitingsdoeltreffendheid was hulle verras deur die positiewe byvoordele van ander boerderyfunksies wat hulle nou daagliks kan meet, soos trekkerbestuurders se optrede. Waar die bestuurders te vinnig ry of tyd mors, kan hulle nou beter opgelei en aangespoor word om beter te presteer.

Die tegnologie laat hulle toe om op ’n skerm ’n oorhoofse beeld van die hele plaas te kry en te sien wat intyds plaasvind in elke boord. Probleme kan dus vinnig opgetel en reggestel word.

FarmTrack is luidens ’n verklaring aan die voorpunt van oplossings vir vrugte­plase, want luidens navorsing van Andrew Landers en Bill Larzelere in die New York Fruit Quarterly van 2012 het 99% van vrugteprodusente wêreldwyd nie ’n manier om bespuitingsvolumes aan te ­teken nie.

Volgens Cluver is dit landbou-innovering op sy beste en kan hulle die manier waarop hulle boer, verander sonder ’n groot kapitaalinvestering. Dit help boere geld spaar deur inkomsteverlies te beperk, want as rye tydens besluiting nie oorgeslaan word nie is daar minder vermorsing van spuitstof en minder vrugtesiektes. Dit help ook spaar aan diesel, oortyd en trekkerinstandhouding.

. Die toestel kos R4 950, met ’n jaarlikse dienstarief van R4 650 vir die ontleding, verwerking en stuur van data in verslae aan boere.

Meer oor:  Gps  |  Landbou  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.