Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Fokus: SA sitrus bult spiere

Sitrusboere op eie bodem bly vooruitboer, met nóg ’n rekorduitvoeroes wat vir vanjaar voorspel word.

Die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika het pas bekend gemaak dat die sitrusbedryf op eie bodem vanjaar na raming 158,7 miljoen kartonne sitrus (van 15 kg elk) sal verpak om na die buiteland uit te voer. Dit is groter as enige van die ander rekordoeste wat al deur Suid-Afrikaanse sitrusboere behaal is.

Die Sitrusbemarkingsforum van Suider-Afrika het verlede week saamgetrek om die uitvoeroesvooruitsigte vir 2021 te bespreek, waarna die sitruskwekersvereniging dit in ’n verklaring bekend gemaak het.

sitrus
Pomelo. Foto: Pexels

Volgens Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die vereniging, sal dit die derde agtereenvolgende jaar wees wat die sitrusbedryf rekordoeste lewer. Die oesskatting vir 2021 verteenwoordig ’n 22%-groei in uitvoersyfers binne slegs twee jaar, sê hy.

Sitrusboere het verlede jaar ook breed geglimlag met ’n bielie van ’n sitrusoes wat uit altesaam 146 miljoen kartonne uitvoersitrus bestaan het. In 2019 is altesaam 130 miljoen kartonne sitrus aan die uitvoermark gelewer.

“Die sitrusbedrywe in eSwatini sowel as Zimbabwe se uitvoersyfers gaan vanjaar ook na verwagting styg, vanaf 3,9 miljoen kartonne in 2020 tot ’n verwagte 4,4 miljoen kartonne vanjaar.”

As hierdie oeste realiseer, verteenwoordig dit ’n styging van 13% en bring dit die totale volume Suider-Afrikaanse sitrus wat vanuit ons hawens uitgevoer gaan word op meer as 163 miljoen kartonne te staan, sê Chadwick.

Hy het vroeër die reusesukses van die 2020-uitvoeroes toegeskryf aan noue samewerking en vennootskappe binne die sitrusbedryf self, sowel as met die regering, en gesê dit beklemtoon die gehalte van Suid-Afrikaanse sitrus wat oor die wêreld heen in aanvraag is.

Onder vergrootglas

Luidens die oesskatting vir 2021 gaan die oesgroottes van nawels en suurlemoene vanjaar ’n klein styging in vergeleke met verlede jaar toon. Die oesgroottes van valencia-lemoene en pomelo’s gaan weer na verwagting met onderskeidelik 5% en 16% groei.

sitrus
Suurlemoen. Foto: Pexels

Dit is egter die produksiegebiede vir sagtesitrus wat na verwagting die mees beduidende groei sal beleef, aldus Chadwick, met ’n geraamde 30,5 miljoen kartonne sagte sitrus wat vanjaar aan die uitvoermark gelewer gaan word. Dit is 29% meer as verlede jaar.

Volgens Chadwick is dit die laatseisoen-mandarynvariëteite in besonder wat vanjaar in die kategorie vir sagte sitrus uitstaan, met ’n verwagte groei van 42% in vergeleke met verlede jaar se oes. Dít kan egter nog later in die seisoen verander, waarsku hy, weens die voortslepende droogtetoestande in die Oos-Kaap en die buitengewone nat weer wat daar in die produksiegebiede in die Noord-Kaap beleef word.

Groei en nóg groei

Volgens die Sitruskwerkersvereniging dui die mediumtermyn-oesskatting daarop dat die sitrusbedryf oor die volgende drie jaar sy uitvoervolumes met ’n verdere 300 ton sal verhoog.

Die groeiprojeksies vir sagte sitrus, suurlemoene en valencia-lemoene alleen dui op ’n bykomende R6,8 miljard se buitelandse valuta en kan na verwagting 22 250 volhoubare werkgeleenthede oor die volgende drie jaar skep.

“Hierdie syfers dui op fenomenale groei binne die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf, sowel as vir ons plaaslike ekonomie.

“Die vraag na ons vrugte in die buiteland is ’n goeie bewys van die gehalte van Suid-Afrikaanse sitrusvrugte,” sê Chadwick.

“Daar is geen twyfel nie dat sitrusprodusente nou groot in die toekoms belê, met meer as R1 miljard se produsenteheffings wat oor die volgende vier jaar aan navorsing en tegnologie bestee gaan word – ten einde marktoegang en transformasie te ondersteun, terwyl ’n bevoegde logistieke omgewing geskep word om vrugte te verskeep.”

sitrus
Lemoen. Foto: Pexels

Laaste sê

Chadwick meen die enigste manier waarop die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf sy volle potensiaal kan bereik, is as die regering en ander belanghebbendes hul deel doen.

“Ons gaan byvoorbeeld vanjaar grootliks staatmaak op die doeltreffendheid van ons hawens om daardie verwagte bykomende 13 miljoen kartonne sitrus suksesvol te verskeep.

“Ons gaan ook nou saam met die regering moet werk om soveel geleenthede vir marktoegang as moontlik te bekom, dit vol te hou én te behou. Die optimalisering van toegangsvoorwaardes (vir markte) is noodsaaklik vir die voortgesette groei van ons bedryf.”

Chadwick sê die sitrusbedryf sal aanhou groei as ’n waardevolle bron van inkomste en werkgeleenthede, terwyl dit saam met die regering en ander rolspelers sal werk om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herbou.

“Om landbou-uitvoer te help toeneem, werkgeleenthede te skep en in transformasie te belê is alles fundamentele bestanddele van die Suid-Afrikaanse sitrusverhaal. Saam kan én sal ons aanhou om alle verwagtinge te oortref.”

Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf is die tweede grootse sitrusuitvoerder ter wêreld naas Spanje.

Volgens die langtermyn-projeksies vir die sitrusbedryf kan die land binne die volgende vyf jaar 200 miljoen kartonne sitrus na die buiteland uitvoer.

Die 2020-sitrusuitvoeroes in syfers: As die 146 miljoen kartonne sitrus sy teen sy gepak sou word, sal die ry kartonbokse sowat 40 000 km lank wees.

Geborg: SA Sitrusbedryf

Ondersteun gerus die volgende insetverskaffers in die sitrusbedryf:

  • Adama: Luister > Leer > Lewer
  • John Deere, vir al jou landboutoerusting-benodighede
  • Nvirotek, vir ingeligte landboubesluite
  • Knittex, vervaardiger en verskaffer van gebreide sintetiese materiaal en skadunette
Meer oor:  Sitrus  |  Sitrusbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.