Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Gaan armoede en honger toeneem?

Dit is welbekend dat die ekonomie ’n diep resessie inbeweeg het met sommige scenario’s wat ’n inkrimping van tot 16% vir vanjaar voorspel.

Prof. Johan Willemse. Foto: Johan Norval

Hiermee saam kan die werkloosheidskoers, wat reeds voor die koronavirus-pandemie op bykans 30% was, in die afsienbare toekoms tot 35% tot 40% toeneem.

Dit spreek vanself dat armoede en honger gaan toeneem.

Die armoedelyn, ook bekend as die broodlyn, verwys na die minimum bedrag wat ’n individu per maand nodig het om in sy minimum voedingsbehoefte te voorsien.

Faktore soos die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van kos speel hier ’n rol.

Die huidige ekonomiese insinking het tot gevolg dat baie meer mense werkloos is en dat baie se inkomste skerp gedaal het. Gevolglik daal mense se lewenspeil.

Die staat se ondersteuningsprogramme is onvoldoende.

unemployment
werkloosheidskoers

Die meegaande grafiek, wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) gepubliseer het, toon die verloop van die armoedelyn vir die drie jare wat aangetoon word. Dit toon ook die persentasie werklose mense in Suid-Afrika volgens die eng definisie in SSA se verslae (dus mense wat wel werk soek) en my raming vir vanjaar.

Daar word verwag dat etlike miljoene bykomende mense in Suid-Afrika vanjaar werkloos gaan wees. In die afwesigheid van ernstige strukturele beleidshervorming, gaan die probleem van armoede en honger vererger.

Die impak van hongerte

SSA het in 2017 ’n verslag uitgereik oor sy ontleding van armoede en ongelykheid vir die tydperk van 2006 tot 2015. Hy het bevind dat sowat 25,2% van die land se bevolking in 2015 onder die armoedelyn van R411 per persoon per maand geleef het.

Dit beteken sowat ’n kwart van die bevolking is ondervoed. Dit skep vir kinders ’n permanente agterstand omdat dit hul breinontwikkeling strem en so hul vooruitsigte vir ’n produktiewe lewe knou.

Die tweede grafiek toon die bedrag wat in die begrotingsrede en mediumtermynbegrotingsraamwerk vir maatskaplike toelae geoormerk is. Dit is voor die Covid-19-toekennings en is in die orde van R250 miljard vir sowat 18 miljoen mense.

welsynstoelaes
welsynstoelaes

Covid-19-ondersteuningsmaatreëls sluit in dat die toelae tydelik verhoog en uitgebrei word – wat na verwagting aanleiding gaan gee tot ’n wyer net van basiese inkomstetoelaes wat moontlik permanent gaan word. Ramings toon dat minstens die helfte (ek vermoed meer) van die maatskaplike toelaes aan kos bestee word. Daar is egter nog heelparty mense wat buite die net val en aan ondervoeding en honger blootgestel is.

Beleidvorming om voldoende en bekostigbare kos tot beskikking van die hele bevolking te stel, is na my mening die hoogste prioriteit en heeltemal te min aandag word daaraan gegee.

Voedselsekerheid

Die gesaghebbende The Economist publiseer gereeld ’n wêreldindeks-voedselsekerheid, waarin verskeie norme ontleed word.

Daarvolgens is Suid-Afrika so 48ste uit 113 lande.

Aspekte wat in ag geneem word, is beskikbaarheid, bekostigbaarheid en die gehalte en veiligheid van voedsel. In die verslag word egter kommer uitgespreek oor die toekoms omdat Suid-Afrika se besteding aan navorsing en ontwikkeling in die landbou buite verhouding laag is en dit tot toekomstige probleme aanleiding sal gee.

Die Verenigde Nasies se voedsel-en-landbou-organisasie (VLO) het in 2018 bevind dat meer as 20% van die mense in Afrika – 257 miljoen – ly aan ondervoeding en dat dit aan die toeneem is.

In Afrika suid van die Sahara was 23% van die bevolking (ons noordelike buurlande) ondervoed en dit is op 237 miljoen mense geraam!

Daar word deurgaans verwag dat die probleem gaan vererger, veral in lande soos Zimbabwe en selfs hoër op in Afrika.

In ’n ander verslag van die VLO word geraam dat sowat 44 lande in Afrika vanjaar voedselhulp gaan nodig hê en dat heelparty van hulle afhanklik is van buitelandse hulp, wat onvoldoende is. Heelparty van dié lande is suid van die Sahara – ook Zimbabwe, met sy goeie basiese natuurlike hulpbronne, en dít weens verkeerde beleid.

Die oplossing

Daar moet op twee vlakke hieraan aandag gegee word.

Eerstens is ’n ekonomiese beleid nodig wat werkskepping deur die private sektor op groot skaal aanmoedig. Dit verg ’n beleidsraamwerk wat investerings- en markvriendelik is en die huidige sosialistiese benadering deur die kommuniste in die regerende party nek omdraai.

Die hoop beskaam nie, maar dit is onwaarskynlik dat die regerende party van sy kommunistiese beleidsingesteldheid gaan afsien.

Dit beteken doodgewoon dat armoede en die persentasie honger en ondervoede mense in die land aansienlik gaan toeneem, met ernstige korttermynprobleme (misdaad) en probleme op langer termyn van ’n jeugdige arbeidsmag wie se breinontwikkeling op ’n jong ouderdom erg en permanent belemmer word.

In die Grondwet word duidelik omskryf dat elkeen die reg op voldoende water en voedsel het.

Die tweede vereiste is ’n ondersteunende beleid aan kommersiële landbou om voldoende, bekostigbare en voedsame voedsel te produseer en deur die voedselaanbodketting te voorsien.

Die tekortkominge van staatsbeleid in dié verband is welbekend, soos bitter min droogte-ondersteuning om produksievermoë te behou en bystand wat te midde van die staat van inperking basies net aan bestaans- en kleinboere gelewer word – wat 1,9% van die land se voedsel voorsien.

Dit bly vir my ’n raaisel dat terwyl ’n groot deel van die bevolking so tussen 40% en 50% van hul besteebare inkomste aan kos bestee, daar so min beleidsondersteuning aan die sektor is om voldoende en bekostigbare voedsel te produseer sodat daar nie honger mense in ons samelewing is nie.

  • Prof. Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Armoede  |  Ekonomie  |  Hongersnood  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.