Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Gemengde gevoelens oor ramphulp-aankondiging

Landbou-organisasies het Vrydag gemengde gevoelens gehad oor die aankondiging dat die regering die droogte-ramptoestand met ’n maand verleng het.

Agri SA sê hy verwelkom die aankondiging deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, terwyl TLU SA sê hoewel hy die aankondiging verwelkom, is hy bang kommersiële boere sal in die proses weer misken word.

Die landbou-organisasie Saai sê die verlenging van die ramptoestand word verwelkom, maar waarsku dit sal net “bloot ’n administratiewe oefening” wees aangesien verligting nie op grondvlak ervaar word waar dit die nodigste is nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Vrydag in die Staatskoerant aangekondig Dlamini-Zuma se departement het R466,4 miljoen vir ramphulpverlening beskikbaar gestel.

Agri SA sê in ’n verklaring dit is nog nie duidelik of die geld vir die droogte of die Covid-19-pandemie aangewend sal word nie.

Tog sê Tammy Breedt, die VF Plus se woordvoerder oor landbou, die departement van landbou het by navraag gesê R139 miljoen is vir droogtehulp beskikbaar.

“Dit is net ’n druppel aan die emmer omdat daar weens die droogte ’n behoefte van sowat R1 miljard vir droogtehulp is,” sê sy.

Agri SA sê die somerreënvalseisoen is verby sonder genoegsame reën in die meeste van die gebiede wat gebuk gaan weens die rampdroogte.

“Die voortslepende droogte het verreikende gevolge vir landbou en is katastrofies vir plaaslike ekonomieë in die droogtegeteisterde gebiede.

“In die Wes-Kaap kan ’n laer as normale winterreënvalseisoen die probleem vererger,” sê die organisasie.

“Boere het dringend hulp nodig om die oorlewing van hulle boerderye, werkers en gemeenskappe en brose plaaslike ekonomieë te verseker.

“Ons is hoopvol dat van die geld waarna na vandag verwys is, dringend vir droogtehulp aangewend sal word,” sê Willem Symington, hoof van Agri SA se rampbestuureenheid.

Hy het ’n beroep op die regering gedoen om finansiële bystand te verleen aan boere wat deur droogte geraak word deur die verskaffing van veevoer, waterinfrastruktuur, bore, toerusting, opknapping van boorgate en ander ingrypings wat kan help om die las van diegene wat ly, te verlig.

Agri SA wil ook hê ’n verslag van die besteding vir droogtehulp moet beskikbaar gestel word.

Dit sal wonderlik wees as die regering ons dié keer verras, maar ongelukkig is die geskiedenis se bewyse nie in die guns van die regering nie.

“Agri SA en sy lede het met geld uit die private sektor en ander skenkings sedert 2015 baie landbougemeenskappe gehelp.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê sy eerste reaksie was “dankbaarheid dat daar die regering in beginsel uitgereik het na die boere wat deur die langdurige droogte uitgemergel is”.

“Ongelukkig ruk die werklikheid ’n mens tot stilstand as daar gekyk word na watter hulp die regering tot nou toe met die droogte verleen het. Dieselfde geld die hulp met die huidige Covid-19-pandemie.

“Die hartseer is dat ons beleef dat hulp op ’n rasgronde grondslag toegeken word. R1,2 miljard se hulp aan landbou is tydens die Covit-19-pandemie gegee aan boere wat ’n bydrae maak tot 1,9% van die voedselmandjie van Suid-Afrika.

“Die kommersiële boere wat toesien dat die bykans 67% van ons land se verstedelikte bevolking voldoende voedsel kry, is telkens nog eenkant gelaat,” sê Van Zyl.

“Dit sal wonderlik wees as die regering ons dié keer verras, maar ongelukkig is die geskiedenis se bewyse nie in die guns van die regering nie.”

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die huidige pandemie het boere wat erg deur die droogte geraak is, net verder in die moeilikheid gedompel.

“Die rampfondsverligting wat beskikbaar gestel is, is ondoeltreffend en verwarrend.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Saai  |  Tito Mboweni  |  Droogte  |  Verlenging  |  Landbou  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.