Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Genoeg is genoeg,’ sê keelvol wynbedryf oor verbod
Daar heers reeds ’n ramptoestand in die wynbedryf, wyntoerisme ingesluit, reken kenners. Foto: Unsplash

“Ons is keelvol vir hierdie situasie. Die drankverbod het sy doel gedien en moet onmiddellik opgehef word,” meen Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, in ’n verklaring met die titel “Genoeg is genoeg” wat Woensdag uitgereik is.

Dit is die sterkste bewoorde verklaring nóg wat dié wynbedryfsliggaam uitgereik het sedert die inperking in Maart begin het.

Vinpro steun die pleidooie deur Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, aan die nasionale regering dat die verbod in dié provinsie opgehef word. “Ons steun die Wes-Kaapse regering se beroep op die veilige heropening van alle ondernemings en plaaslike alkoholverkope, tesame met doelgerigte ingrypings.”

Volgens Vinpro gaan die huidige gevorderde vlak 3-inperking vanaf 15 Augustus herevalueer word.

“Die besluit of plaaslike drankverkope dan heropen sal word, sal die wynbedryf maak of breek,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Hy sê die bedryf verstaan dat die situasie buitengewoon ingewikkeld bly vir die nasionale regering om te bestuur, maar gegewe die afname in die infeksiesyfer in die Wes-Kaap en ander provinsies, ’n groter kapasiteit in hospitale en ooreengekome voorstelle, is daar geen rede om die huidige verbod op wynverkope verder te verleng nie.

“Genoeg is genoeg. As jy rasioneel daaroor dink, maak dit nie meer sin nie. Ons het ons bes gedoen om lewens te red, maar die tyd het nou aangebreek om ook die lewensbestaan van landsburgers wat in die wynbedryf werk en daarvan afhanklik is te red.”

Ramptoestand in bedryf

Basson sê daar heers ’n ramptoestand in die wynbedryf, wyntoerisme ingesluit.

“Dringende ingryping is nodig, anders sal een van die oudste landboubedrywe in die land nie oorleef nie.

“Baie wynondernemings het reeds gesluit weens die vorige en huidige handelsbeperkings en die res van die bedryf sal eenvoudig nie ’n voortgesette alkoholverbod oorleef nie. Derduisende werknemers sal sonder ’n inkomste, ander uitweg of hoop gelaat word.”

Hy sê daar moet ’n balans wees tussen die red van lewens en die beskerming van mense se lewensbestaan.

Wyn is ’n seisoenale landbouproduk wat beteken wingerde wag nie vir die opheffing van handelsbeperkings voordat dit druiwe produseer nie.

“Ons produsente is reeds besig om voor te berei vir die 2021-oes, maar met bykans 300 miljoen liter oorskotwyn wat nog in keldertenks is, het ons dalk nie plek vir die nuwe oes nie. Dit is ’n desperate situasie,” sê Basson.

Ooreenkoms sukkel

Terwyl ’n groep wynboere onder leiding van ’n ander landbou-organisasie hulle tot die hof gewend het om die verbod teen te staan, het Vinpro probeer om met konsultasie oplossings te vind.

Daar word al ’n paar weke lank aan ’n sogenaamde “sosiale verdrag” tussen die regering en die drankbedryf gewerk.

“Hoewel talle partye regsaksie beskou as die doeltreffendste manier om handel te heropen, meen Vinpro dat beleidsvorming op kort, medium- en lang termyn meer effektief deur dringende en produktiewe gesprekke regstreeks met die regering, die bedryf, arbeid en burgerlike samelewing deur middel van die Nedlac-forum beïnvloed word,” sê Basson.

“As bewakers van die Suid-Afrikaanse wynbedryf streef ons daarna om die toekoms van ons bedryf vir die volgende geslagte te verseker. Ons kies dus om met die regering saam te werk aan oplossings wat die sektor nou sal stabiliseer, op mediumtermyn weer sal herbou en die bedryf op lang termyn sal laat groei.”

As bewakers van die Suid-Afrikaanse wynbedryf streef ons daarna om die toekoms van ons bedryf vir die volgende geslagte te verseker.
Rico Basson

Volgens Basson is hulle egter tans “gefrustreerd” met die regering se reaksie op die onderhandelinge oor ’n sosiale verdrag.

“ ’n Sosiale verdag is ’n verbintenis tussen onderskeie partye; nie ’n eensydige verdrag nie. Alle partye moet bereid wees om te gee en te neem, maar ons is tans gefrustreerd met die gebrek aan ’n verbintenis deur die regering om hom tot die volgende stap te verbind.”

Die bedryf het die empiriese data wat gebruik is om die staat se besluit oor die drankverbod te neem, versoek en ontleed, en het ’n stel voorwaardes aanbeveel wat kan dien as voorvereistes om die verbod op te hef.

Dit sluit in ’n verbintenis met betrekking tot projekte om aandag aan die skadelike impak van alkoholmisbruik te gee, moontlike beperkings op verkoopsvolumes en beperkte bemarking en promosies vir ’n sekere tydperk, asook die oprigting van ’n gesamentlike forum om op kort- tot lang termyn toesig oor die implementering en monitering van die regulatoriese omgewing te hou.

Produsente, kelders se deure reeds gesluit

Die aanvanklike nege weke lange verbod op plaaslike verkope, asook die verbod op uitvoer wat vyf weke geduur het, sal meebring dat meer as 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente hul deure oor die volgende 18 maande sal moet sluit, sê Vinpro.

Dit gaan ’n moontlike verlies van meer as 21 000 werkgeleenthede in die waardeketting meebring wat ná die tweede verbod aansienlik mag toeneem.

Die wynbedryf bestaan hoofsaaklik uit kleiner ondernemings – 40% van alle boere produseer minder as 100 ton en ’n verdere 36% minder as 500 ton wyndruiwe per jaar.

Die meerderheid van dié ondernemings het nie voldoende oorbruggingsfinansiering om hulle deur dié finansiële droogte te dra nie.

“As een van die oudste landboubedrywe in Suid-Afrika word ons druiwe deur 2 873 boere en hul 40 000 werknemers verbou. Ons wyne word vervaardig deur bekwame wynmakers en hul assistente in 533 kelders, met nog baie meer inset- en diensverskaffers in die waardeketting wat afhanklik is daarvan dat die plaaslike mark heropen,” sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro.

Hy sê vir elke werk op ’n plaas word nog tien werkgeleenthede in die res van die waardeketting geskep.


Meer oor:  Vinpro  |  Drankverkope  |  Drank  |  Wynbedryf  |  Landbou  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.