Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
G’n reddingsboei vir Landbank nou moontlik

Die Landbank sal dalk gedwing word om staat te maak op sy krediteure vir ’n reddingsboei omdat die tesourie meen daar is nie in die huidige begroting plek om die ontwikkelingsbank te herkapitaliseer nie.

Omnia
Die Landbank gaan nie so maklik ondersteuning van die tesourie af kry as verwag nie. Foto: Unsplash

Al het Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week gesê die regering sal doen wat ook al nodig is om die Landbank te help, sê die tesourie nou die enigste onmiddellike ondersteuning wat hy kan bied, is die reeds bestaande staatswaarborge op die bank se skuld.

“Die tesourie het in gesprekke met die bank se krediteure wat deur die Landbank gereël is, aangedui dat daar vir geen herkapitalisering voorsiening gemaak is in die huidige begroting nie,” het die tesourie gesê in antwoord op Fin24 se vrae.

Dit beteken dat behalwe as daar ’n spesiale bewilligingswetsontwerp in die parlement ter tafel gelê word, sal daar geen geld wees vir die Landbank in die huidige boekjaar wat eers 31 Maart 2021 eindig nie.

Die bank, wat finansiering aan boere en landbou-ondernemings verskaf, het in Maart gesê hy kan nie sy paaiemente op ’n wentelkredietgerief van R738 miljoen betaal nie.

Die skuld moes teen einde April betaal gewees het, en weens regulasies oor kruiswanbetaling is die bank sedertdien amptelik ’n wanbetaler op al sy skuld.

Hy het in Februarie reeds die regering genader om ondersteuning en het staatswaarborge op sy skuld van sowat R5,7 miljard ontvang.

Dit was egter nie genoeg om wanbetaling te vermy nie.

Die tesourie sê hy kan oorweeg om ’n spesiale bewilligingswetsontwerp of ’n aansoek vir herkapitalisering na die parlement te neem in die opkomende wysigings van die begroting.

Maar met die Covid-19-stimuluspakket wat geprioritiseer moet word, is dit onseker of die tesourie so ’n stap sal kan prioritiseer.

Van die krediteure van die Landbank het egter gesê hulle is bereid om die bank by te staan deur sy likiditeitskrisis as die regering aandui hoeveel ondersteuning hy sal bied.

“Die laaste keer dat ons dit gehoor het, was die standpunt van die tesourie in Mboweni se woorde dat hulle ‘alles sou doen om die Landbank te red’,” sê Tshokolo Nchocho, uitvoerende hoof van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC), wat ’n krediteur is van die Landbank.

“Ek weet nie van hul besluit om nie herkapitalisering aan te bied nie,” sê Nchocho.

Volgens hom sal die IDC slegs ’n plan van die Landbank oorweeg as dit deur die tesourie ondersteun word.

“Intussen dink ek dat sekere kategorieë van die Landbank se kliënte, die korporatiewe segment, dalk direk deur die IDC gehelp kan word. Maar ons sal dit op ’n samewerkende basis met die Landbank moet doen, sodat dit nie ’n ‘roofagtige’ aksie is om kliënte van die beste gehalte te kies nie,” sê hy.

Futuregrowth, een van die krediteure wat openlik belowe het om saam met die Landbank te werk, het ook gesê dat die bank ’n mate van herkapitalisering sal benodig en moontlik sy bedryfsareas moet herfokus.

Tarryn Sankar, hoof van genoteerde krediet by Futuregrowth, sê die komitee wat deur die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) byeengeroep is om die Landbank te help, het reeds sy besprekings begin. Maar die krediteure moet eers vasstel of die uitdagings van die Landbank hoofsaaklik ’n tydelike likiditeitskrisis is of solvensie probleme is wat op lang termyn opgebou het.

Fin24

Meer oor:  Tesourie  |  Landbank  |  Staatsondernemings  |  Landbou  |  Reddingsboei  |  Ontwikkelingsbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.