Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Goedkoop slaptjips van Europa kan SA baie kos

Kommer bestaan oor die impak wat ’n oorskot bevrore aartappelskyfies en ander aartappelprodukte in Europa op die plaaslike aartappelbedryf kan hê.

Plaaslik is smaaklik, sê die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf.

Suid-Afrika se aartappelbedryf dra jaarliks R8,5 miljard tot die ekonomie by, volgens Potato South Africa (PSA).

André Jooste, uitvoerende hoof van die PSA, sê die bedryf word bedreig deur dié surplus bevrore en verwerkte aartappelprodukte in Europa wat veroorsaak is deur die daling in vraag weens die koronaviruspandemie. Die situasie het tot beduidende laer pryse gelei.

Suid-Afrika is ’n belangrike bestemming vir verwerkte aartappelprodukte van Europa, met hul produkte wat gereeld hier op die mark gestort word, sê Jooste.

Europese boere het benewens die normale ondersteuning wat hulle van die Europese Unie kry, ook spesiale ondersteuning weens die pandemie gekry.

“Dit, tesame met die reeds lae pryse wat die surplus veroorsaak, gaan pryse verder afdruk met die gepaardgaande gevaar vir die plaaslike bedryf,” sê Jooste.

Hy sê die plaaslike aartappelbedryf ly reeds wesenlik onder die daling in die vraag weens die inperking wat tot die sluiting van restaurante en kitskosplekke gelei het en handel in die informele sektor beperk het.

“Dit het tot ’n daling in pryse gelei van ver onder die gelykbreekprys vir produsente, en ook tot ’n opbou van voorraad in die verwerkingsektor. ’n Verdere knou weens invoer teen lae pryse van ander lande gaan katastrofies wees.”

Die Aartappel- en Groenteverwerkersforum (PVPF), wat die PSA, McCain Foods South Africa, Nature’s Garden en Lamberts Bay Foods insluit, beywer hulle om die regering te oortuig om ’n tydelike verbod op die invoer van bevrore aartappelskyfies van die Europese Unie in te stel op grond van die marktoestande wat deur die pandemie hier veroorsaak is.

Jooste sê dit is om die volhoubaarheid van die plaaslike bedryf te beskerm, ingesluit werksgeleenthede.

Aartappelprodusente en -verwerkers speel ’n beduidende rol in die ekonomie van dorpe in die platteland waar hulle bedrywig is.

Die EU het twee jaar gelede sowat 52 miljoen ton aartappels geproduseer en is vir sowat 68% van die internasionale uitvoer van aartappelskyfies verantwoordelik.

Vergeleke daarmee produseer Suid-Afrika sowat 230 000 ton jaarliks.

“Die potensiële volumes wat vir uitvoer beskikbaar is, kan vir jare nog ’n negatiewe impak op ons mark hê,” sê Jooste.

Volgens hom het Nieu-Seeland, Australië en Amerika soortgelyke kommer.

Een van die argumente wat die forum teenoor die regering geopper het is, is dat die impak op lang termyn kan insluit dat ’n wesenlike tekort aan aartappels kan ontstaan sodra die Europese mark herstel het.

Jooste meen ook daar is geen waarborg dat die voordele van laer pryse weens invoer vanaf Europa aan verbruikers hier deurgegee sal word nie.

“Om die waarheid te sê is ’n nasleep op langer termyn dat verbruikers meer gaan betaal indien dit daartoe lei dat aartappelboere en verwerkers weens goedkoop invoer en weens die pyn wat Covid-19 meebring, hul ondernemings verloor.”

Hy sê daar word nog op ’n antwoord van die regering gewag.

Intussen doen die bedryf ’n beroep op kopers en besluitnemers in die kosbedryf om twee keer te dink oor waar hulle aartappels vandaan kry, sodat die plaaslike bedryf ondersteun kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.