Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Goeie hupstoot vir wol-kwekers

Die persentasie kinders van kommunale skaapboere in die Oos-Kaapse platteland wat oor ’n tydperk van 11 jaar honger gaan slaap het, het van 41% tot 24% verminder, danksy die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se ondersteuning aan dié boere.

Zithulele Mbatsha, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging se produksie-adviseurs, wat kommunale boere in die Oos-Kaapse platteland help om hul inkomste uit wolboerdery te verhoog.

Navorsing aan die Rhodes-Universiteit het ook getoon dat die huishoudings se spaargeld byna verdubbel het, en die persentasie mense wat geld leen vir skooltariewe het van 77% tot 48% verminder.

Dit is onder meer bereik deur vir 350 groepe boere infrastruktuur te bou vir die skeer, dip, klas en verpak van wol en deur die genetika van die kuddes te verbeter.

Volgens Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, is daar sowat 4 miljoen skape in besit van kommunale boere in die voormalige Transkei en Ciskei. Hulle lewer sowat 8 miljoen kilogram wol per jaar, wat tot 13% van die nasionale skeersel uitmaak.

Hulle boer op klein skaal en individuele boere se skeersels is te min om ’n baal, wat 150 kg wol verg, te lewer. Dit beteken dat hulle nie toegang het tot die formele wolmark nie en dat hulle wol informeel moet verkoop. Die kopers betaal gemiddeld R10/kg daarvoor totdat hulle genoeg het vir ’n baal wat op die formele mark verkoop word teen gemiddeld R70,75/kg, sê hy.

Die NKWV het toe begin om die kommunale boere in groepe te organiseer met sowat 2 000 skape per groep. Dit stel hulle in staat om saam te skeer, klas en verpak. Daar is sowat 1 400 sulke groepe met tot 40 000 individuele produsente, sê De Beer.

Met finansiering van verskillende bronne soos die provinsiale of plaaslike regering of selfs private instansies, rig die NKWV dan infrastruktuur op vir die groepe.

Zithulele Mbatsha, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging se produksie-adviseurs, by een van die skeerhuise wat die organisasie vir kommunale boere opgerig het.

Dit bestaan uit skeerhuise van sowat 132 m2, gebou uit boublokke met ’n dak en met fasiliteite vir die skeer, dip en hantering van die skape. Daar is nou al 350 sulke skeerhuise opgerig.

Die produsente kry toegang tot NWKV se 13 kursusse in onderwerpe soos skeer en klas van wol en dierevoeding en -gesondheid. Produksie-adviseurs verskaf mentorskap. NWKV help die groep om wolmakelaars te ontmoet sodat hulle kan kies deur wie hulle hul wol op die mark in Port Elizabeth wil bemark.

Die NWKV het ook ’n genetiese verbeteringsprojek aangepak waardeur sowat 3 000 ramme in die gemeenskappe geplaas word. Daarvoor kontrakteer die NWKV kommer­siële telers in dieselfde omgewing waar die ramme geplaas gaan word, sodat die diere maklik aanpas.

Die gemeenskap neem vrywillig deel en vervang van hul eie ramme met dié wat spesiaal geteel is. Die ram wat uit die kudde gehaal word, word geslag vir ’n bykomende inkomste. Daar is sedert die begin van die projek in 2002 50 000 ramme geplaas. Die mikpunt is 80 000.

Die genetiese verbeteringsprojek is sedert 2010 deur die departement van landelike ontwikkeling en grondsake gefinansier. In die vorige boekjaar het dit R12,4 miljoen beloop.

Die departement het nog nie gereageer op versoeke vir verdere finansiering nie, sê De Beer. Die departement het ook nie op Rapport se navrae gereageer nie.

De Beer sê dis kommerwekkend, want dit neem 18 maande om ’n ram te teel. Onsekerheid oor die finansiering kan lei tot ’n onderbreking in die program.

Die hoeveelheid wol wat kommunale boere deur die formele mark bemark, het van 535 911 kg in 2002 tot 5,4 miljoen kg verlede jaar toegeneem. Hul inkomste het dienooreenkomstig gestyg van R6,9 miljoen tot R383 miljoen. NWKV raam die potensiële inkomste op R700 miljoen.

Lawrence Maduna, voorsitter van die Oos-Kaapse vereniging van kommunale boere, sê danksy die genetiese verbeteringsprojek het die boere se inkomste per capita verbeter, wat gelei het tot beter lewensgehalte vir gemeenskappe.

“In die verlede kon weduwees en ander in die gebiede dit nie bekostig om hul kinders universiteit toe te stuur nie. Nou kan hulle.”

Meer oor:  Nwkv  |  Wol  |  Skape  |  Wolbedryf  |  Kleinboere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.