Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Goeie nuus: Eierpryse kan nóg daal
Verbruikers het tydens die Covid-19-inperking baie meer eiers as gewoonlik gekoop, wat eierpryse vir produsente soos Quantum Foods effens opgedruk het. Eierpryse was egter 2,4% laer as die vorige jaar, volgens Quantum se resultate vir die boekjaar tot einde September.

Dit het alles met die prys van eiers te doen.

Daar is ’n ooraanbod van eiers in Suid-Afrika, en eierpryse het in die pluimveemaatskappy Quantum Foods se boekjaar tot einde September met 2,4% gedaal.

Quantum se eierverkope het met 15,4% gestyg en meer as ’n miljard eiers is in die jaar verkoop.

Maar dit was pynlik vir Quantum se winssyfers, want die wins op sy eierverkope het met meer as R60 miljoen gekrimp weens die skerp toename in die koste van die voer wat sy lêhoenders vreet te midde van die laer eierpryse.

Die groep sê die Covid-19-inperking het wel ’n hupstoot gegee aan eierverbruik, weens gesinne wat tuis moes bly en meer tuisgebak beproef het.

In die res van Afrika het sy eierverkope met 15,7% gestyg. Quantum doen ook sake in Zambië, Mosambiek en Uganda.

Quantum verkoop eiers onder die handelsname Nulaid, Safe Eggs en Quantum Nest Eggs. Sy hoendervleis word verkoop via onder meer Tydstroom Poultry, en hy het ook ’n voerafdeling, Nova Voere.

Quantum meen eierpryse kan nog daal namate die ekonomie in 2021 herstel. Dit kan Nulaid onder ernstige finansiële druk plaas, waarsku Hennie Lourens, uitvoerende hoof.

Maar die sikliese wisselvalligheid van winsgewendheid is deel van die natuurlike siklus in die eierbedryf, meen Lourens, en dit kan ook verkrygingsgeleenthede skep.

Quantum se voorbelaste wins vir die boekjaar het met 16% tot R215,5 miljoen gekrimp en sy wesensverdienste per aandeel was 13% laer op 80,5c. ’n Dividend van 10c per aandeel is verklaar.

Omdat hy deel van die landbou- en kosbedryf is, is sy bedrywighede nie wesenlik negatief geraak deur die Covid-19 pandemie nie, sê Lourens.

Quantum, wat ontstaan het toe die voedselgroep Pioneer sy pluimveebedrywighede ontbondel het, verduidelik eierpryse het in die eerste halfjaar vinnig gedaal weens die toename in die getal produktiewe lêhenne in die mark. Die tendens het in die tweede helfte van die boekjaar effens verbeter namate die vraag na eiers tydens die inperking toegeneem het.

Nova Voere het steeds goed presteer, met verkope wat die afgelope vyf jaar teen byna 6% per jaar toeneem vergeleke met die algemene voermark se verkope wat volgens die voervervaardigingsvereniging in dieselfde tydperk maar met 0,3% toegeneem het.

Meer oor:  Quantum Foods  |  Eierpryse  |  Kospryse  |  Landbou  |  Eiers  |  Pluimvee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.