Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Goeie nuus wink vir Omnia en aandeelhouers

Die vervaardiger van kunsmis en chemikalieë Omnia Holdings slaak ’n sug van verligting voor die amptelike uitreiking van die afgelope boekjaar se resultate.

Omnia
Omnia, vervaardiger van kunsmis en chemikalieë, se hoofkantoor is in Johannesburg. Die groep is bedrywig in 25 lande, waaronder Kanada en Brasilië. Foto: Unsplash

Die groep het sy redelik benarde posisie omgedraai deur van skuld ontslae te raak en kontant op sy boeke te kry. Dit klink ook of aandeelhouers dalk kan uitsien na ’n dividend.

Omnia, met sy hoofkantoor in Johannesburg, vervaardig onder meer kunsmis, chemikalieë en plofstof en die direksie van die genoteerde maatskappy het Vrydag ’n handelsverklaring uitgereik met baie positiewe vooruitsigte.

Omnia het onder meer verlede jaar ontslae geraak van Oro Agri, wat hy in 2018 vir $100 miljoen gekoop het. Oro Agri vervaardig biologiese plaagdoders en is deur Rovensa, ’n Europese maatskappy, vir ongeveer $152 miljoen gekoop. Dié geld het volgens Omnia baie gehelp om sy finansiële posisie te stabiliseer én te verbeter.

Sy boekjaar het op 31 Maart geëindig en die jaarresultate sal teen die einde van Junie uitgereik word.

Die groep verwag ’n stewige groei in verdienste per aandeel teenoor sy resultate vir die 2020-boekjaar. Die totale inkomste per aandeel gaan na verwagting met tussen 724% en 744% styg vanaf die 99c wat dit einde Maart 2020 was. Beleggers kan uitsien na ’n verdienste per aandeel van tussen R8,16 en R8,36, en die verwagte wesensverdienste per aandeel kan met tussen 86% en 106% styg. Dit was R1,89 vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar en kan nou draai by tussen R3,52 en R3,90.

Die groep se aandeelprys het die afgelope drie maande geklim. Dit het aan die begin van Junie teen R50 per aandeel verhandel en teen Vrydagmiddag geklim tot R55,92.

Omnia sê hulle het goed aangepas by die veranderende omgewing wat Covid-19 geskep het, en al het stygende infeksies in sy laaste kwartaal, Desember 2020 tot Maart, veral ontwrigting in Omnia se verskaffingskanaal meegebring, kon dit goed bestuur word.

Meer oor:  Omnia  |  Kunsmis  |  Chemikalieë  |  Landbou  |  Plofstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.