Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Groen vingers verseker toekoms

Nadat ’n enkelma van Hanover Park sowat drie jaar gelede haar werk as bibliotekaresse verloor het, het haar groen vingers haar gehelp om met ’n briljante idee vorendag te kom om vir haar gesin te sorg.

Renshia Manuel (36), ’n ma van vier, vertel dit het alles begin by die groentetuin wat sy by haar huis begin het. Haar eie groente-onderneming, Growbox, het toe ’n jaar later in 2016 posgevat.

Growbox fokus op die vervaardiging en verskaffing van ’n ten volle toegeruste groenteboks (saailinge en kompos) vir individue wat ’n klein of beperkte ruimte het om groente te kweek. Manuel groei ook saailinge vir plase, nieregeringsorganisasie en die regering.

Ontmoet die ‘groen vingers’agter Growbox:Die Kapenaar Ren­shia Manuel se onderneming vervaardig en verskaf ten volle toegeruste groentebokse met saailinge. Foto: VERSKAF

n Wen-idee

Toe Manuel met haar groentetuin begin het, het sy vir die Stad Kaapstad se jeugentrepreneurskap-kompetisie #YouthStart ingeskryf, en ’n derde plek behaal.

#YouthStart het ook weeklikse werksessies vir deelnemers aangebied om hulle te help om hul ondernemings op die been te kry.

Manuel het die R5 000 prysgeld gebruik om Growbox te registreer en het ook as ’n verkoper by die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse departement van landbou geregistreer.

“Dit is in tye van nood wat mense met kreatiewe idees na vore kom om te oorleef. In daardie stadium was die enigste idee wat ek gehad het om my eie groentetuin te begin. Ek het ook ’n geleentheid raakgesien om my eie kwekery te begin,” gesels sy.

“Destyds toe ek vir die kompetisie ingeskryf het, het ek ook aan my onmiddellike gemeenskap in Hanover Park gedink waar armoede ’n daaglikse werklikheid is. Die maatskaplike toelae wat die gemeenskap ontvang, is nie genoeg om die gesinne daar vir die hele maand te onderhou nie,” vertel Manuel. “Die draagbare groenteboks is ontwikkel met die gedagte dat ondanks waar die mense (wat dit gebruik) woon – in woonstelle of informele nedersettings – hulle hul eie groentetuin kan begin en op dié manier vir hulself kan sorg,” sê sy.

Álmal kan groente kweek

Manuel sê Growbox se groentebokse is moeitevry.

“Ons kliënte sê vir ons watter groente- of kruie-saailinge hulle wil hê en watter grootte die boks moet wees en dan lewer ons dit vir hulle af. Jy hoef nie rond te hardloop om plante en kompos te kry nie. Ons leer huishoudings ook hoe om hul eie groente te kweek en hoe om dit volhoubaar te doen.”

Manuel voeg by haar onderneming het sedert sy begin in 2016 net van krag tot krag gegaan.

“Dit is vir my lekker om te sien hoe mense by my kom aanklop om raad en advies oor hul tuine en hoe hulle kan verbeter. Mense sê altyd dat ek ‘goeie probleme’ het omdat daar só ’n groot vraag na my produk is. Gelukkig skuif ons eersdaags na ’n nuwe perseel, sodat ek die vraag na my produk kan bevredig.”

Meer oor:  Growbox  |  Renshia Manuel  |  Hanover Park  |  Groentetuin  |  Landbou  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.