Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Groep boere uit kwarantyn ná Duitsland-besoek
Omnia
'n Groep boere van die Oos-Kaap was in kwarantyn nadat hulle onlangs in Duitsland was. Foto: Unsplash

’n Groep boere en amptenare van die Oos-Kaap is uit kwarantyn nadat hulle Duitsland as deel van ’n afvaardiging van die departement van grondhervorming en landbou-ontwikkeling besoek het.

Die groep van tien boere en nege amptenare was ná hul terugkeer 15 dae lank in kwarantyn by ’n gerief in Oos-Londen en is almal negatief getoets vir die virus wat Covid-19 veroorsaak. Die groep het opleiding oor boerdery en voedselsekerheid in Duitsland ontvang.

Sindiswa Gomba, provinsiale LUR vir gesondheid, en Nomakhosazana Meth, LUR vir grondhervorming en landbou-ontwikkeling, was by toe die groep Saterdag uit kwarantyn gekom het.

Gomba sê toe die groep op 21 Maart in Suid-Afrika land, was daar reeds planne in plek en hulle is dadelik in kwarantyn gesit. Sy sê die departement wou seker wees die groep kan uit kwarantyn kom en het Vrydag hul toetse ontvang, wat almal negatief is.

Volgens Gomba is sy bly almal is veilig en dat hulle na hul gemeenskappe kan terugkeer.

“Ons wil julle vra om die regering te help om mense daarbuite bewus te maak van die virus. Covid-19 is hoegenaamd nie ’n lekker ding nie.”

Meth sê sy is ook verlig almal is veilig tuis.

“Nie net kan hulle nou terugkeer na hul onderskeie gemeenskappe nie, maar hulle kan ook die kennis wat hulle in Duitsland opgedoen het met ander boere deel.”

Sinovuyo Dzukuma, wat in kwarantyn was, sê dit was ’n baie moeilike tyd.

“Ons was vreesbevange dat ons die virus sou opdoen op pad Duitsland toe.”

Volgens Iris Mtshabe het sy amper elke dag gehuil, maar gebed het haar deurgedra.

Tot dusver is daar 25 bevestigde gevalle van die virus in die Oos-Kaap.

Oscar Mabuyane, premier, sê 11 mense in die Nelson Mandelabaai-metro het die virus onder lede.

Die jongste bevestigde gevalle in die metro is in Uitenhage, Zwide en Somerstrand, het hy vroeër gesê.

Die geval in Uitenhage is ’n 50-jarige verpleegster van die Dora Nginza-hospitaal. Sy het twee weke gelede, voordat die staat van inperking afgekondig is, ’n begrafnis bygewoon waar meer as 100 mense teenwoordig was. Volgens Gomba het die departement reeds begin om die ander begrafnisgangers op te spoor. Die verpleegster is in selfisolasie by haar huis.

Gomba sê ’n afgetrede verpleegster van Zwide is positief getoets en in die Livingstone-hospitaal se korona-eenheid opgeneem.

Die dokter van die metro wat positief getoets is, het na verneem word ’n reisgeskiedenis. Dit is egter nog nie duidelik wanneer en waarheen die dokter gereis het nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Boere  |  Oos-Kaap  |  Landbou  |  Kwarantyn  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.