Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Grond: Banke oorweeg lenings vir swart mense
Wit boere besit byna driekwart van Suid-Afrika se landbougrond, volgens ’n oudit wat in 2017 deur Agri SA gepubliseer is.Foto: Vida Booysen

Banke voer samesprekings om ’n gesamentlike fonds te begin wat die oordrag van grond na swart mense kan versnel.

Dit kom teen die agtergrond van toenemende kommer in dié sektor oor sy blootstelling aan miljarde rande se plaasskuld wat veroorsaak dat hy maniere moet vind om sy bates in dié sektor te beskerm.

Uitleners aan die landbousektor tree nou tot die gelaaide debat oor grondhervorming toe nadat die regerende ANC aangedui het dat hy die Grondwet wil wysig om die kwessie van ongelyke grondbesit 24 jaar ná die beëindiging van apartheid aan te pak.

“As ’n bedryf is ons absoluut oortuig daarvan dat ons die ernstige probleme van ongelykheid ter wille van die volhoubaarheid van die ekonomie en van die maatskaplike welstand van hierdie land moet aanpak,” sê Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa).

“Dit kan op verskeie maniere gedoen word en ’n gesamentlike fonds kan een meganisme wees.”

Uitstaande skuld

Banke vind maniere om meer grond oor te dra na die swart meerderheid sonder om eiendomsreg te ondermyn, die waarde van eiendom te verminder of om finansiële stabiliteit in gevaar te stel.

Banke sit met R148 miljard se uitstaande skuld op landbougrond, vergeleke met uitstaande huislenings van R1 070 miljard, volgens Basa, wat meer as 35 plaaslike en internasionale banke verteenwoordig.

Hoewel die banksektor die ANC se oogmerk steun om ongelyke grondbesit reg te stel, maak die Grondwet reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding, het Basa vroeër vanjaar in ’n voorlegging aan die parlement gesê.

Wit boere besit byna driekwart van Suid-Afrika se landbougrond, volgens ’n oudit wat in 2017 deur Agri SA gepubliseer is. Dis minder as die 87% in die apartheidsjare.

Wette wat in 1913 van krag geword het, het net sowat 7% van Suid-Afrika se bewerkbare grond aan swart mense toegeken.

“Die openbare gesprek tans is een van irrasionele handeling wanneer grond onteien word, ongeag die impak wat dit op beleggings en groei sal hê,” waarsku Coovadia.

Pres. Cyril Ramaphosa het herhaaldelik gesê grondhervorming sal ordelik geskied en verlede week in die Londense Financial Times geskryf dat daar geen “grondvergrype” sal wees nie.

Volgens Ramaphosa sal die beplande wysigings aan die Grondwet groter sekerheid gee aan sowel diegene wat reeds grond besit as dié wat dit graag wil besit, en groei, stabiliteit en voedselproduksie bevorder.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa).

Verskeie gedagtes word oorweeg

Samesprekings oor die vorming van ’n fonds vir swart grondeienaars is nog in ’n vroeë stadium en is maar een van verskeie gedagtes wat oorweeg word, het Coovadia gesê.

Geen bedrag is nog genoem nie.

“Dit hoef nie net ’n fonds te wees wat deur die banksektor ingestel word nie, ander sakebelange kan ook deelneem.”

Die ANC sal enige poging ondersteun om grond aan Suid-Afrikaners oor te dra wat deur apartheid daarvan ontneem is, het Enoch Godongwana, lid van die nasionale uitvoerende komitee en hoof van die party se komitee oor ekonomiese transformasie, gesê.

“As die banke aan só ’n fonds werk, verwelkom ons dit. Ons het reeds verskeie gesprekke met die banke gehad.”

Absa het voorgestel dat twee afsonderlike fondse op die been gebring word en deur professionele spanne bestuur word. Een fonds moet op landelike grondbesit fokus, terwyl die ander een grondbesit deur swart mense in stedelike gebiede bevorder. Dié voorstel is vervat in ’n voorlegging wat die bankgroep in Junie aan die parlementêre komitee oor grondhervorming gedoen het.

Die landelike fonds sal help om meer kommersiële plase in swart besit te skep deur grondaankope te finansier, tegniese bystand te gee en marktoegang vir begunstigdes te help kry.

Die stedelike fonds sal fokus op die bou van bekostigbare behuising en om meer swart eiendomsontwikkelaars te skep deur waarborge teen die verlies van sommige hoërisiko-eiendomsontwikkelings te lewer.

Basa het ook gevra dat ’n nasionale grondoudit gedoen word om onproduktiewe grond te identifiseer.

’n Beroep is gedoen dat grondhervorming geskied op ’n wyse wat na die hele proses kyk en nie net die eng wetlike aspek van vergoeding sonder onteiening nie. -Bloomberg

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.