Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Grond: Is kleinboere sleutel of struikelblok?

Onder die omstrede idees wat die debat oor grondhervorming aanvuur, is dat grond van wit boere afgevat en aan swart Suid-Afrikaners gegee moet word.

Dit is duidelik dat ’n tekort aan grond nie die grootste probleem is nie. Die grootste uitdagings vir kleinboere is ’n tekort aan tegnologie en toerusting soos trekkers. Foto: Vida Booysen

Niemand sê egter wat presies daarna met die grond moet gebeur nie.

Prof. Ben Cousins van die Universiteit van Wes-Kaapland stel voor dat die regering oor die volgende 15 jaar 48 miljoen hektaar kommersiële landbougrond, oftewel 60% van kommersiële plase, kry en aan 200 000 kleinboere gee.

Pres. Cyril Ramaphosa blyk die gedagte te steun. Hy het al meermale gesê die regering se grondhervormingsplan sal eerstens fokus op die sowat 200 000 opkomende swart boere wat hunker na grond. Kleinboere is reeds bedrywig op tot 25% (meer as 20 miljoen hektaar) van landbougrond in Suid-Afrika.

Ons stem saam dat hulle gehelp moet word om produksie te verhoog en hul oeste te bemark, maar die probleem is dat hulle tans baie min produseer. Ook is daar aanduidings dat dié groep hulle toenemend aan boerdery onttrek.

’n Besluit om grond vinnig en op groot skaal aan kleinboere oor te dra, móét gegrond wees op behoorlike navorsing. Ons ontledings wys dat ’n grootskaalse oordrag van grond aan kleinboere ’n negatiewe ekonomiese impak kan hê eerder as om armoede te help verlig.

In die laat 1800’s en vroeë 1900’s het Suid-Afrikaanse kleinboere hul produksie drasties verhoog met “nuwe oeste” soos mielies. Sommige Suid-Afrikaanse beleidmakers sien die oplossing in dié historiese suksesse en meer onlangse ervarings met die “Asiese tiere” se grondhervorming.

Daar is egter drastiese verskille tussen die Asiese tiere en Suid-Afrika – waar swart kleinboere in die vorige eeu vernietig is met onder meer grondonteiening en belastings. Ook het die stelsel van trekarbeiders ’n wesenlike impak op landelike swart gemeenskappe gehad. Dit het ekonomiese en maatskaplike strukture omvergewerp.

Die voormalige tuislande het in 1994 sowat 15% (oftewel 18 miljoen hektaar) van Suid-Afrika beslaan. Dit is goeie grond in die hande van swart Suid-Afrikaners, waarvan groot dele in die hoë reënvalgebiede aan die oostekant van die land is.

Intussen woed die debat voort oor hoeveel grond in die demokratiese era aan swart Suid-Afrikaners oorgedra is. Ons raam dat swart Suid-Afrikaners nou 26%-27% (25 miljoen hektaar) van grond besit, as ’n mens private grondoordrag insluit.

Dit is opmerklik hoe min grond vir landbou gebruik word as ’n mens deur die voormalige tuislande reis. Tot 80%, oftewel honderdduisende hektaar word nie verbou nie. Dit is ’n groot klomp grond, sowat ’n derde van dit waarop kommersiële boere mielies verbou.

Die ekonomie van dié gebiede kan drasties verander sou die beskikbare grond behoorlik benut word.

Minder as 5% van mielies in Suid-Afrika kom van kleinboere. Hulle verbou waarskynlik ’n hoër persentasie (ander) groente, maar selfs nog minder vrugte.

Baie mense beskou boerdery as te harde werk vir beperkte opbrengste... Al hoe minder familielede is beskikbaar om te help boer.

Vee is gewild en slagdiere haal hoë pryse, maar dié gebiede voorsien nie eens in hul eie vleisbehoeftes nie.

Dit is duidelik dat ’n tekort aan grond nie die grootste probleem is nie. Die grootste uitdagings is ’n tekort aan tegnologie en toerusting soos trekkers.

Saad en bemesting is duur en baie mense beskou boerdery as te harde werk vir beperkte opbrengste. Talle meen kleinboere is arm en dat dié leefstyl nie hul moderne lewensbeskouing pas nie. Al hoe minder familielede is beskikbaar om te help boer, en die gedagte van betaalde arbeid het nog nie posgevat nie.

Die bestaande eiendomstelsel maak dit ook moeilik om grond te bekom. Grond wat deur hervormingsprojekte beskikbaar gestel is, word gewoonlik deur gemeenskapseiendomsverenigings (CPA’s) bestuur.

Dit is soortgelyk aan die bestuur van stamgrond waar ’n groot klomp mense toegang kry tot byvoorbeeld weiding en dit gemeenskaplik bestuur word.

Kleinboerdery neem af, maar plek-plek vaar sulke boere uitstekend. Hulle is die bewys dat sou hulpbronne op die regte plekke ontplooi word, dit tot produktiewe boerdery kan lei.

Ons gaan liederlik misluk as ons vinniger grond uitdeel as wat ons ondersteuningsnetwerke vir boerdery kan ontwikkel.

Vennootskappe met die private sektor het ook al belangrike vooruitgang gebring. So werk sowat 50 000 swart kleinboere in die suiker-, bosbou- en wolbedryf reeds saam met groot maatskappye wat hulle bystaan met produksie en bemarking.

Ons navorsing wys dat daar groot ruimte is vir innoverende denke en suksesvolle projekte waar kleinboere in die voormalige tuislande of op “nuwe grond” is. Dit is noodsaaklik dat dié kleinboere eiendomsreg kry sodat hulle die waarde van hul grond kan ontsluit. So kan hulle ’n inkomste genereer en die basis skep vir ander ondernemings in hul omgewing.

Die staat moet ook aansienlik meer ondersteuning bied as dit kom by die herverdeling van grond. Mense moet toerusting en deeglike landbou-opleiding kry. Die sleuteluitdaging is nie die hoeveelheid beskikbare grond nie, maar die beskikbaarheid van kapitaal, toerusting en vaardighede om produksie te verhoog en armoede te takel.

Ons gaan liederlik misluk as ons vinniger grond uitdeel as wat ons ondersteuningsnetwerke vir boerdery kan ontwikkel. Ons durf ook nie die vertroue skend van die kommersiële boere wat vir die afsienbare toekoms moet sorg vir voedselsekerheid en ekonomiese groei nie.

Intussen sal groot hoeveelhede mense aanhou om na die stede te migreer, en die regering moet in hul behoeftes vir behuising voorsien. In die konteks van verstedeliking moet grondhervorming en herverdeling omvattende planne vir stedelike gebiede insluit, en nie net fokus op die platteland nie.

  • William Beinart is emeritus-professor aan Oxford en Peter Delius aan Wits.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Ben Cousins  |  Landbou  |  Grondhervorming  |  Boere  |  Onteiening Sonder Vergoeding  |  Kleinboere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.