Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Grond: ‘Met onteiening is meer as plase op die spel’

Daar is geen alternatief vir onderhandelinge nie. Diegene wat geweld praat, het nog nie geliefdes op ’n oorlogslagveld begrawe nie.

Dr. Theo de Jager. Foto: Nelius Rademan

Oor hóé onderhandel word, is daar meer spanning onder boere onderling as wat opgewen is tussen boere en die ANC in die onteiening-sonder-vergoedingdebat. Lede van landbou-organisasies bedank, loop oor, en laat harde woorde op vergaderings val.

Dié spanning is op die spits gedryf nadat AfriForum ’n onbevestigde lys gepubliseer het van plase wat vir onteiening toegewys is. Die ANC het toe reeds herhaaldelik na so ’n lys verwys, en lank voordat die grondwetlike hersieningskommissie sy werk voltooi het, aangekondig dat hulle ’n wysiging aan die Grondwet ter ondersteuning van onteiening sonder vergoeding steun.

Toe Agri SA, ten spyte van ’n formele verstandhoudingsooreenkoms tot die teendeel, by wyse van ’n mediakonferensie ’n verrassingsaanval op AfriForum doen, en hulle as “onverantwoordelik” uitkryt, was die kat in die duiwehok.

Agri SA se standpunt het aanvanklik gesteun op die ANC se ontkenning van die egtheid van die lys, maar vanweë interne teenspraak daaroor onder ministers en senior staatsamptenare en die ANC se weiering om met die regte lys vorendag te kom, is daar algaande meer op ander argumente geleun.

Een daarvan is dat verkopers op daardie lys hul eiendomstransaksies kwyt is omdat geen koper in ’n plaas belangstel wat teen verminderde vergoeding onteien gaan word nie. Oor die moraliteit daarvan om die risiko aan ’n niksvermoedende koper oor te dra, het Agri SA en die verkopers nog niks gesê nie.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, het Agri SA vir sy standpunte geprys, en gevra dat hulle help om AfriForum te isoleer. AfriForum deel egter ’n wesenlike persentasie lede met Agri SA, wat dit nie net baie moeilik vind om tussen die twee te kies nie, maar wat ook nie van die onverkwiklike aanvalle op AfriForum hou nie.

Intussen het die ANC ’n aantal hoëprofiel-afsprake met die leiers van Agri SA toegestaan, wat die indruk skep dat daar ’n aktiewe gesprek aan die gang is oor onteiening sonder of teen verminderde vergoeding.

‘Vertrou ons, ons maak goeie vordering,’ is nie genoeg om bekommerde boere, by wie Zimbabwe nog spook, se vrese te besweer nie.
Theo de Jager

Albei partye lyk telkens heel in hul skik met die uitkomste van die gesprekke, sonder dat die inhoud daarvan aan boere bekend gemaak word. “Vertrou ons, ons maak goeie vordering,” is egter nie genoeg om bekommerde boere, by wie Zimbabwe nog spook, se vrese te besweer nie.

Veral nie terwyl die eerste plaas op daardie lys, Akkerland in Limpopo, reeds met ’n onteieningsbevel teen ’n breukdeel van markwaarde bedien is nie. In ’n ongeëwenaarde solidariteit met hul kollega, het die lede van Agri Limpopo, ’n affiliasie van Agri SA, in ’n opname ’n 100%-mandaat gegee om Akkerland in sy hofsaak teen die onteiening by te staan.

’n Aantal ander organisasies, waaronder TLU SA, Solidariteit en AfriForum, het ook saamgespan om Akkerland by te staan. Uit die samewerking is vasgestel dat die onteiening, wat onder die dekmantel van ’n grondeis gedoen word, uiters dringend is vir ’n mynmaatskappy wat op Akkerland steenkool vir ’n Chinese industriële ontwikkeling wil myn.

Die ontwikkeling sluit ’n reuse-kragstasie en metaalaanlegte tussen Louis Trichardt en Musina in.

Kameelperde op die wildplase van Akkerland-boerdery in Limpopo.

Terwyl Agri SA nog met AfriForum en sy omstrede lys baklei, is Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, deur die grondeisehof gedwing om die onteieningsbevel teen Akkerland terug te trek.

AfriForum het hom daarvan weerhou om in die openbaar met Agri SA swaarde te kruis. Hul inligting en strategie oor die saak word deurlopend goed oorgedra en in die openbare domein uitgepak.

Boere hou die verwikkelinge grootoog dop, want hulle wil weet watter hulp ’n mens kan verwag as jóú nommer die dag vir verminderde vergoeding in onteiening ter sprake kom. Hulle weet die hele petalje het alles te doen met ’n moeilike verkiesing wat volgende jaar voorlê.

Hulle weet ook as alle wit boere vir dieselfde party sou stem, dit nie genoeg sou wees om selfs een lid parlement toe te stuur nie.

Getallegewys is die wit boere irrelevant. Die ANC hoef hulle nie aan die boere te steur nie.

Daar is ander bronne van mag en hefbome van invloed wat ingespan moet word om die boere se saak in onderhandelinge te versterk. Een daarvan is simpatie uit die breër samelewing, onder organisasies en individue wat besef dat onteiening sonder vergoeding oor meer as net plase gaan.

Plase is maar die eerste in ’n lang ry bate-kategorieë wat soos domino’s kan val.

Die ander hefboom is internasionale druk, geanker in die morele hoë grond wat art. 17 van die VN se menseregtehandves bied, saamgelees met die onlangse geskiedenis van onteiening sonder vergoeding in Zimbabwe en Venezuela.

AfriForum het daardie snare begin tokkel, terwyl Agri SA hom daarvan distansieer. Agri SA het reeds in 2010 besluit om uit die ad hoc-groep oor eiendomsreg te onttrek, omdat die 17 deelnemende organisasies, waaronder die Helen Suzman- en FW de Klerk-stigting, die Gereformeerde Kerk, verskeie kultuurorganisasies en die DA, VF Plus en Cope “te ou stelsel en te Afrikaans” is.

Agri Limpopo neem egter sedertdien aktief daaraan deel, omdat die “onaanvaarbare profiel” by meer as 90% van sy lede pas. AfriForum het ook internasionale emosie gaan opklits, wat impak gehad het in die vorm van ’n dreigende twiet van Donald Trump. Die ANC se oorreaksie daarop wys hoe kwesbaar hulle vir internasionale druk kan wees.

Niemand bevraagteken Agri SA se onderhandelingstrategie nie. Verreweg die meeste boere bevraagteken egter die integriteit waarmee die ANC onderhandel.

In die stryd om die koppe en harte van boere is daar nou meer as net ydel trooswoorde nodig.
Theo de Jager

Die beloftes van ministers Thoko Didiza, Lulu Xingwana, Tina Joemat-Pettersson en Gugile Nkwinti in vergaderings met Agri SA dat die ANC dit nooit sal oorweeg om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie, lê nog vars in hul geheue.

Onderhandelinge veronderstel ’n basiese vertroue tussen partye, wat boere nie noodwendig met hul leiers deel nie.

Wat verhinder die ANC om regs te praat, maar links te loop? Wat gaan Agri SA doen as die ANC, ongeag die gesprekke, grondeienaars teen ’n breukdeel van markwaarde begin onteien?

Op Akkerland gebeur dit reeds, en nóg Agri SA nóg die ANC sê enigiets daaroor. Net soos ons wag om te hoor wat hul morele argument is oor die beginsel dat nie van ’n individuele grondeienaar verwag kan word om die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid te betaal nie.

Sonder ander drukmeganismes en magshefbome is onderhandelinge oor onteiening sonder vergoeding gedoem om verraai te word. Boere vrees dat ons dit te laat gaan besef. Die ANC vrees dat daardie druk sy planne gaan ontwrig, en sy enigste wapen daarteen is om tweespalt en verdagmaking onder die boere te saai.

Vertroue in ondeursigtige agter-die-skerms-ooreenkomste is yl. In die stryd om die koppe en harte van boere is daar nou meer as net ydel trooswoorde nodig. En binnegevegte is dodelik.

  • Dr. Theo de Jager is die president van die Wêreld-landbou-unie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.