Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Groot kommer oor kwotas vir besproeiing
’n Besproeiingsland naby Groblersdal word met water bestook. Vanjaar word die meeste besproeiingsboere se kwotas aansienlik verminder en landbouleiers waarsku dat dit veral die land se winsgewende landbou-uitvoermark kan knou.Foto: Bennie van Zyl

Die gevaarlik lae vlakke van besproeiingsdamme kan rampspoedige gevolge vir die landbou én verbruiker inhou, het landbouleiers gewaarsku.

Vooruitsigte vir lentereën is steeds skraal en daar is reeds beperkings op besproeiing wat ’n “groot impak” op landbouproduksie kan hê, waarsku Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA.

“Hou in gedagte dat tot 30% van ons landbouproduksie met die hulp van besproeiing geskied en daar kan groot probleme kom indien die damvlakke nie vinnig styg nie.”

Sy kommer word gedeel deur dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, wat gewaarsku het dat ’n derde droogtejaar “katastrofies” vir die land kan wees.

Hy sê ander oeste benewens graan is nou in gevaar en dat die droogte in besproeiingsgebiede nou ’n reuse-probleem word omdat riviere en damme begin opdroog terwyl daar geen oppervlakwater terugloop in die watersiklus nie.

“Ek weet van bykans geen besproeiingskema waar kwotas [vir waterverbruik] nie gesny is nie en dit kan die produksie van vrugte en groente erg knou.”

Van Zyl wys op sy beurt daarop dat vrugtebome (wat feitlik net van besproeiing afhanklik is) omtrent vier of vyf jaar neem om gevestig te raak.

“Indien vrugtebome doodgaan omdat hulle nie besproei kan word nie, kan dit ’n ernstig langtermyn-verlies beteken en derduisende werkgeleenthede kan verlore gaan.”

Landbou-uitvoer, wat verlede jaar R104 miljard beloop het, kan volgens Agbiz ook aansienlik afneem indien die land ’n derde agtereenvolgende droogteseisoen beleef.

Verlede jaar het Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte vir die eerste keer in ’n dekade ’n daling getoon, juis weens die droogte, toe die uitvoer met 1,2% gedaal het.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz

“Verlede jaar het Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte vir die eerste keer in ’n dekade ’n daling getoon, juis weens die droogte, toe die uitvoer met 1,2% gedaal het,” sê Purchase.

Daar is steeds groot onsekerheid oor die weerpatroon vir die komende somer en Purchase sê die georganiseerde landbousektor vergader reeds met die landboubemarkingsraad en die departement van landbou om die moontlike uitwerking van verskillende weerscenario’s op die landbou te ontleed.

Hierna sal aanbevelings aan die minister van landbou gedoen word oor die beste maniere om die krisis te bowe te kom.

“Die probleem is dat die ware gevolge van die droogte nou eers gemanifesteer word. Waar besproeiing voorheen die stabiliteit gebied het wanneer die droëland-oeste misluk het, kan ons hierdie seisoen daardie vangnet ook verloor.”

Hy verwag dat nie net boere hierdeur geraak sal word nie, maar ook die landbou-ondernemings.

“Almal betaal ’n prys vir die droogte. Die boere loop die grootste risiko, maar landbou-ondernemings ly ook ’n reuse-verlies terwyl die verbruiker deur skerp verhogings in voedselinflasie getref word.”

Suid-Afrika se reënval was verlede jaar die laagste sedert daar in 1904 begin is om amptelik reënvalsyfers aan te teken.

Die plaaslike landbousektor het ernstige skade gely en dit het daartoe bygedra dat voedselinflasie in Augustus vanjaar tot 11,6% opgeskiet het.

Van Zyl sê daar heers groot kommer oor boere se kontantvloei.

“Soos enige besigheid moet boere ook lenings met hul inkomste betaal, en vanjaar sal heelwat boere nie kan plant nie omdat hulle eenvoudig nie vir produksiekrediet kwalifiseer nie.”

Meer oor:  Agbiz  |  Agri Sa  |  Omri Van Zyl  |  Landbou  |  Water  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.