Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Herstel in landbou-vertroue dalk van korte duur

Landbou-ondernemings het in die eerste kwartaal van vanjaar ietwat meer optimisties oor dié sektor se ekonomiese vooruitsigte gevoel.

   

    

Maar dié positiewe menings is ingewin vóór die parlement se onlangse besluit om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz en een van die samestellers van Agbiz en die Industrial Development Corporation (IDC) se landbouvertrouensindeks vir die eerste kwartaal.

Die indeks het in dié kwartaal met nege indekspunte tot 58 gestyg. ’n Punt onder 50 dui op ’n inkrimping.

Positiewe sentiment oor onlangs politieke verwikkelings, die laaste hupstoot van 2016-’17 se robuuste produksie en gunstige weerstoestande vir die somerproduksiegebiede, het vertroue aangehelp, sê Sihlobo.

Die indeks word saamgestel uit tien subindekse en in die eerste kwartaal was die stygende vertroue oor ’n breë grondslag te sien, veral in die subindekse wat omset, netto bedryfsinkomste, markaandeel, indiensneming, kapitaalbeleggings, ekonomiese groei en algemene landboutoestande meet.

Die debat oor omstrede grondhervormingskwessies – veral onteiening sonder vergoeding – hou ’n groot risiko in wat die sektor se vertroue vanjaar kan ondermyn
Wandile Sihlobo

Die ongunstige weerstoestande in die Wes-Kaap het egter tot dalings in ander subindekse, soos die uitvoervolume en voorsiening vir swak skuld en finansieringskoste, gelei.

Nóg ’n faktor wat die vooruitsigte vir uitvoer knou, is die swak internasionale vraag na mielies.

Vertroue oor ekonomiese toestande het met ’n hele 45 indekspunte gestyg teenoor die vorige kwartaal, tot 68.

“Dis die hoogste styging sedert 2011 en is in ooreenstemming met positiewe binnelandse en internasionale groeiverwagtinge,” sê Sihlobo.

Ná ’n daling in die vorige kwartaal het die subindeks vir kapitaalbeleggings met 23 indekspunte tot 67 verbeter.

Dié optimisme word aan die breër positiewe politieke sentiment in die land gekoppel ná die aanstelling van pres Cyril Ramaphosa as staatshoof.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat byna twee derdes van die opname se antwoorde ingesamel is voor die aanvaarding van die mosie dat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind,” sê Sihlobo.

Hy meen negatiewe persepsies oor dié beleidsverandering kan vertroue vorentoe beïnvloed.

“Die debat oor omstrede grondhervormingskwessies – veral onteiening sonder vergoeding – hou ’n groot risiko in wat die sektor se vertroue vanjaar kan ondermyn,” waarsku Sihlobo.

Meer oor:  Agbiz  |  Idc  |  Wandile Sihlobo  |  Cyril Rama­Phosa  |  Grondwet  |  Landbou  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.