Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hier kom meer pap én meer mielies

Die verbruik van mieliepap het gedurende Covid-19 met 9% gegroei teenoor ’n jaar gelede, terwyl dit gewoonlik in ooreenstemming met bevolkingsgroei van 1% of 2% per jaar styg, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.

“Plant jy trekkers?” wou ’n boer in Mpumalanga grappenderwys by sy buurman weet nadat dié se trekker in die nat lande vasgeval het.

Die tendens, wat goeie nuus is vir witmielieprodusente, kan voortduur solank die ekonomie druk en mense meer mieliepap en minder vleis eet, sê Graan SA.

Volgens De Villiers het mielieprodusente tydens Covid-19 in dié stygende vraag voorsien en sal hulle dit ook in die komende somergraanseisoen doen te midde van gunstige landboutoestande. Dít is danksy die La Niña-verskynsel, wat na verwagting tot Maart bonormale reën in die somergraangebiede sal bring.

Die heersende omstandighede is ideaal en voorspellings van bonormale reënval maak boere beslis gelukkig, sê De Villiers.

Johan van den Berg, ’n onafhanklike landbouweerkundige, sê grondwatertoestande in die somergraangebied is van die heel gun­­stigste die afgelope sewe jaar.

Plek-plek is dit so nat boere moet wag voordat hulle verder plant. ’n Boer in Mpumalanga wie se trekker in sy lande vasgeval het, het ’n grappige boodskap van sy buurman gekry wat sê dit lyk dan nou of hy “trekkers plant”, vertel De Villiers.

Volgens Van den Berg hou die baie reën ’n risiko in vir versuiptoestande in watertafelgrond, waar ’n kleilaag keer dat die water te diep intrek. Boere in dele in Noordwes en plekke soos Wolmaransstad, Viljoenskroon, Makwassie, Bothaville en Wesselsbron wat geraak word, moet so gou moontlik plant sodat die mielies die water kan opneem.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, skryf in sy weeklikse marksiening die goeie reën en -vooruitsigte hou belofte in vir ’n goeie 2020-’21-landbouseisoen.

Buiten die styging in verkope van trekkers en stropers in Oktober (onderskeidelik 37% en 136% hoër op ’n jaargrondslag) wat daarop dui boere is optimisties oor die 2020-’21-somerprodukseisoen, blyk dit ook uit produsente se voorneme om vanjaar meer hektaar somergewasse te plant as verlede jaar.

Volgens die nasionale oesskattingskomitee beplan kommersiële mielieboere om net meer as 2,7 miljoen hektaar mielies te plant wat sowat 5% hoër is as die vorige seisoen. Dié goeie nuus kom te midde van 2020 se verwagte kommersiële mielieoes van 15,420 miljoen ton, wat 37% groter sal wees as die 2019-oes.

Boonop verwag die komitee ’n koringoes van 2,13 miljoen ton, wat die grootste sal wees sedert die 2002-seisoen, sê hy in sy derde produksieraming vir wintergraangewasse. De Villiers sê koringboere wat klaar gestroop het, praat almal van gemiddelde tot bogemiddelde opbrengste.

Van den Berg sê in die somergraangebied oos van die N1 (Oos-Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) het 100 mm tot 150 mm reën sedert einde Oktober geval.

Geil koringlande einde Oktober in die Tulbagh-omgewing in die Wes-Kaap. Foto: WILLEM DE LANGE
Geil koringlande einde Oktober in die Tulbagh-omgewing in die Wes-Kaap. Foto: WILLEM DE LANGE

Die boere behoort hul somergewasaanplantings te voltooi binne die optimale planttydperk tot middel-November.

Volgens De Villiers het boere in Mpumalanga reeds 90% van hul mieliehektare geplant en sowat 70% sojaboon. Dit is sowat drie weke vroeër as verlede jaar. In die oostelike Vrystaat is die optimale planttyd tot middel-November en 25% van mieliehektare en 25% van sojabone is al geplant.

Optimale planttyd in die Sentraal-Vrystaat begin op 15 November, maar sommige boere het reeds geplant.

Die produsentepryse vir mielies is ook goed. Die prys van mielies vir lewering in Desember is na aan R3 500 per ton en vir Julie volgende jaar naby R3 000 per ton.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê Argentinië, een van die grootste mielieprodusente in die Suidelike Halfrond, ervaar ’n droogte en die Amerikaanse mielievoorraad is afwaarts aangepas, wat plaaslike pryse help.

Die dele in die Vrystaat wat onlangs erge brandskade gely het, het reën gekry. Die meeste boere wat vee en weiding verloor het, is ook saaiboere en het reeds, of sal binnekort, begin plant, sê hy.

Op Facebook het boere die afgelope week foto’s geplaas van hoe nuwe gras uitkom. Van den Berg waarsku dat dié veld nie nou bewei word nie en vee vir ’n paar weke onttrek word om die plante herstelkans te gee.

Volgens Wilken het die boere nog genoeg voer vir hul diere danksy skenkings en aanbiedings van weiding waarheen hulle vee kan skuif.

Hoewel daar baie beloftes is van vee wat geskenk sal word, is die uitdaging vir dié boere wie se vee doodgebrand of waar dragtige diere geaborteer het, om op middel- en langer termyn weer kuddes op te bou.

Van den Berg waarsku daar is nog drie krisisgebiede waar damvlakke laag is: die Vaaldam, wat ondanks invloei die laaste paar dae net sowat 30% vol is; Limpopo se Tzaneen- en die Middel-Letaba-dam, wat byna leeg is terwyl sitrus in vol produksie water benodig; en die Kougadam in die Oos-Kaap wat ook sitrusproduksie raak.

Meer oor:  Graan Sa  |  Mielie-Oes  |  Landbou  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.