Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoe moet landbou verander post-Covid-19?

Die landskap waarin die Suid-Afrikaanse landboubedryf hom bevind, gaan en moet verander om staande te bly.

Hoewel baie anekdotiese verduidelikings bestaan oor die invloed van Covid-19 op die wêreld en verskillende bedrywe, soos die landbou, is daar nog min syfers wat kan help om ’n volledige prentjie te skets. Foto: Unsplash

Dit is ook nodig om voedselsekerheid in die suide van Afrika te verseker, volgens ’n verslag deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede (Saiia).

Die instituut het onlangs ondersoek ingestel na hoe die pandemie voedselsekerheid in veral die suide van Afrika geraak het.

Daar is gekyk na hoe die landbou moet en kan verander om nog pandemies en toekomstige skokke te kan oorleef.

Die uitbreking van die Covid-19-pandemie het wêreldwyd vertragings en blokkasies in voedselverskaffing en -vervaardiging veroorsaak. Kettingreaksies het gevolg soos wat lande hul eie inperkingsmaatreëls ingestel het.

Dit is egter nie so maklik vir ontwikkelende lande om so sterk na vore te tree wat maatskaplike ingrypings en finansiële steun betref soos vir ryk lande nie.

Die pandemie het eerder die gebreke uitgelig in baie lande, soos Suid-Afrika, se beleide oor voedsel en volhoubare verskaffing, volgens die verslag.

Wat die pandemie wel gedoen het, is om die kwesbaarheid van hierdie lande se regerings en die inperkingsmaatreëls en beleid wat ingestel is, uit te wys.

Dit het veral ook gewys hoe broos landbou se verskaffingskanale in die streek is en hoe dit voedselsekerheid beïnvloed.

Dit is veral die bestaan van kleiner boere en mense wat deel is van die landbou se informele voorsieningskanale wat bedreig word of selfs uitgewis kan word met toekomstige pandemies, plae en klimaatskokke soos droogtes en vloede.

Wat moet aandag kry?

Nie net het die inwoners suid van die Sahara hul inkomste verloor nie, hul toegang tot kos is geknou soos wat vervoer en die beweging van mense ingeperk is. Kospryse het boonop gestyg en families se inkomste het gekrimp of verdwyn.

Regerings moet daarom daadwerklik aandag gee aan hoe hulle rampe en onvoorspelbare gebeure in die toekoms reg kan bestuur sodat kosvoorsiening nie daaronder ly nie.

Die uitwerking wat Covid-19 op die landboubedryf het en sal ook vir lank nog aan boere se wins bly eet.

Werkers moet byvoorbeeld in veilige omgewings met hul werk kan voortgaan en die verskaffing van beskermende klere en toerusting is nodig. Dit geld ook fabriekswerkers wat landbouprodukte verwerk.

Maar dit kos alles geld en baie boere moet self hiervoor voorsiening maak.

Die manier van handel dryf en produkte van die hand sit, word ook direk deur die pandemie en gepaardgaande inperkings geraak.

Op veilings en markte waar vars produkte soos groente en vrugte van die hand gesit word, moet besoekers en verskaffers veilig gehou word.

En omdat kontant ’n baie groot rol speel as verhandelingsmiddel, is dit nie vergesog om te verwag dat die landboubedryf juis moet begin kyk na maniere om transaksies en verhandeling kontakloos af te handel nie.

Waar kontant byvoorbeeld by informele markte en informele verspreidingspunte gebruik word, kan ander elektroniese maniere vir betaling oorweeg word.

Boere gaan ook ander maniere moet vind om hul produkte te versprei en nie net op bestaande kanale staatmaak nie.

Hulle moet nuwe markte en maniere om inkomste uit hul produkte te maak, oorweeg.

Informele en formele markte kan dus ook as opsies oorweeg word waar boere hul produkte in die toekoms by verbruikers en vervaardigers kan uitkry.

Meer oor:  Kos  |  Voedselsekerheid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.