Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoekom die wynbedryf nou eers hof toe gaan - Vinpro

Die wynbedryf, wat deur die wynprodusenteorganisasie Vinpro verteenwoordig word, is uiteindelik hof toe oor die drankverbod wat dreig om die bedryf te verwoes.

Dis tien maande sedert die eerste drankverbod ingestel is en dit het ’n derde verbod gekos om Vinpro te oortuig om die hof te nader.

'n Argieffoto van die wynspanne van Bosman Family Vineyards in Wellington in 'n vorige jaar se oes. Die wynbedryf voer aan daar is 40 000 werkers en hul gesinne wat op wynplase woon. Foto’s: Samarie Smith

Vinpro verteenwoordig byna 2 600 wynprodusente en wynkelders, maar moenie verwar word met die groep wynplaaseienaars wat reeds in Julie verlede jaar tesame met die landbou-organisasie Saai hulle na die hof gewend het oor die verbod nie.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê die hofaansoek is op ’n dringende grondslag by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om vir ’n tussentydse bevel te vra om die verbod spesifiek in die Wes-Kaap ongeldig te laat verklaar gegrond op inligting oor hospitale en die syfers oor koronavirus-infeksies.

Charles van Breda, ’n prokureur van VanderSpuyKaapstad wat Vinpro verteenwoordig, sê die aansoek is tweeledig – die hoofaansoek betwis dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se interpretasie van die Rampbestuurswet.

Dan word daar ook vir ’n tussentydse bevel gevra dat wyl daar gewag word op ’n wysiging aan die wet die premier gemagtig word om te kan afwyk van die minister se besluite. As deel van die tussentydse bevel word gevra, indien daar nog ’n verbod in die Wes-Kaap is wanneer die aansoek op 5 Februarie aangehoor word, dat die verbod in die provinsie opgehef word.

Verkeerd vertolk

Charles van Breda
Charles van Breda, ’n prokureur van Van der Spuy en Vennote wat Vinpro verteenwoordig,

Van Breda sê die hele wet se wettigheid word nie betwis nie, maar hoe dit geïnterpreteer word en die minister se interpretasie van haar rol.

Hy sê hulle glo dat die wetsartikel waaronder die regulasies vir die inperking uitgereik word, soos dit nou gelees word en in werking gestel is, nie voldoen aan die bepalings van die Grondwet nie.

“Ons sê dat die wet en die Grondwet toelaat dat die besluite op provinsiale vlak geneem moet word. Ons sê die minister moet nie die regulasies moet maak nie, veral nie oor alkohol nie. Drank en gesondheid is 'n provinsiale funksie. Ons vra dat die premier saam met die provinsiale regering gemagtig moet word om te besluit wanneer daar ’n alkoholverbod moet wees en wanneer nie.”

Die drie hoofrespondente is die president, Dlamini-Zuma en die premier van die Wes-Kaap. Ander respondente is die twee LUR’e van die provinsiale regering wat vir gesondheid en die drankraad verantwoordelik is.

Die enigste ander drankgroep wat al ’n hofaansoek ingedien het, is die bierbrouery SAB wat op 6 Januarie hof toe is nadat die derde verbod ingestel is.

Van Breda sê Vinpro het besluit om nie by SAB se saak as ’n party aan te sluit nie omdat hulle glo die bedryf moet in dié stadium vir talle redes onderskei word van dié aansoek. “In hoofsaak is dit omdat wyn ’n landbouproduk is en dat die belange wat ons beskerm baie wyer is as net drank.”

Hoekom nou eers?

Basson is gevra hoekom Vinpro nie vroeër opgetree het nie.

Volgens hom het Vinpro op drie geleenthede die afgelope tien maande regsadvies ingewin.

“In daardie stadium was die regsadvies om te bly by dialoog en dat ’n hofsaak nie die weg is om te volg nie.

“Nou het ons die regsadvies dat daar ’n goeie saak is om ’n regsmening op te bou.”

Intussen is uitspraak ook gelewer in die hofsaak van British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) teen die regering wat “interessant uit ’n grondwetlike oogpunt is”.

“Wat ook gebeur het met die derde verbod is – waar dit voorheen moeilik was om met die regering te skakel, het dit nou onmoontlik tydens die krisis geword. Dan is daar ongelukkig geen ander opsie as jy belange moet beskerm, om dié roete te volg nie,” sê Basson.

Die derde drankverbod is op 28 Desember vir ’n onbepaalde tydperk ingestel.

Aanvanklik is gedink die verbod sal net 15 dae duur. Dit is egter toe vir ’n onbepaalde tydperk verleng en het die bedryf onkant gevang.

“Hierdie trots Suid-Afrikaanse bedryf, wat ook sterk steun op toerisme en gasvryheid, bevind hom nou in ’n benarde posisie ná (altesame) 19 weke van ’n drankverbod.”

Vinpro sê meer as R8 miljard uit verkope en R3,7 miljard is uit toerisme verloor, terwyl meer as 30 000 poste in die bedryf verlore is.

Boonop begin die wynbedryf vandeesweek met sy nuwe oes en kan nie beplan nie omdat geen inligting beskikbaar is oor wanneer die verbod opgehef gaan word nie.

Die bedryf sit weens die verbod op verkope met meer as 640 miljoen liter voorraad, waarvan 300 miljoen ongekontrakteer is.

Nie teen drankverbod gekant

Basson benadruk dit die wynbedryf sê nie dat ’n drankverbod “nie geregverdig is wanneer hospitale en noodeenhede onder druk is nie”.

Syfers wat deur aktuarisse verwerk is oor die koers van infeksies, hospitalisasies, opnames vir ongelukke en mense in waakeenhede, is belangrik in hul saak.

Van Breda sê hulle betwis nie in dié stadium die regering se syfers oor drankverwante ongelukke en die druk op die hospitale nie.

“Wat ons sê, is die landwye verbod neem nie die verskillende provinsies se situasie in ag nie. Ons moenie ’n verbod in die Wes-Kaap hê omdat Gauteng se hospitale onder ernstige druk is nie.”

  • In ’n vorige weergawe van die berig is na Charles van Breda verwys as van die regsfirma Van der Spuy & Vennote. Van Breda is ’n direkteur by VanderSpuy Kaapstad. Van der Spuy & Vennote is ’n onafhanklike regsfirma in die Paarl.

Meer oor:  Salba  |  Vinpro  |  Dlamini-Zuma  |  Inperings  |  Hofsaak  |  Wynbedryf  |  Hofaansoek  |  Regulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.