Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoender-bedryf omgekrap oor BTW-voorstel

Die plaaslike pluimveebedryf het met teleurstelling gereageer op die nuus dat hoendervleis nie aanbeveel word vir vrystelling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) nie.

Bevrore hoenderporsies is die belangrikste vleis vir arm huishoudings.

Die Woolard-paneel, wat in Mei deur die tesourie opdrag gegee is om die lys BTW-vrygestelde produkte te ondersoek en ander voorstelle te doen wat verligting vir arm verbruikers kan meebring, het wel bevind dat hoender nou die belangrikste bron van vleisproteïen vir arm Suid-Afrikaners is.

Dit lyk egter asof die totale koste van die uitsluiting van hoendervleis en ’n gebrek aan konsensus oor die voordeligheid van só ’n stap tot die besluit teen die insluiting van hoender gelei het.

Die vrystelling van alle hoender van BTW kan volgens die paneel die regering sowat R3,1 miljard se inkomste vir die staat kos en oor tyd styg. As net individueel kitsbevrore hoenderstukke (sogenaamde IQF) van BTW vrygestel word, sal die koste R2,1 miljard wees, wat sowat 10% van die ekstra inkomste sal insluk wat deur die BTW-verhoging ingesamel sal word.

Die plaaslike pluimveebedryf gee nog nie moed op nie, sê Francois Baird, stigter van die organisasie FairPlay, een van die kampvegters vir BTW-vrye hoender.

Hy wys daarop dat die paneel die besluit oor BTW-vrye hoender nou na die parlement verwys het.

“Die Woolard-paneel se aanbevelings word vandeesweek in die parlement bespreek en weer later vanjaar nadat die regering openbare kommentaar oor die kwessie oorweeg het,” sê Baird.

Die publiek het nog tyd tot einde Augustus om kommentaar oor die paneel se aanbevelings te gee.

“Ons doen ’n beroep op parlementariërs van alle partye om arm mense en nasionale voeding te ondersteun deur te verseker dat hoender vrygestel word van BTW.”

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het reeds voorheen gevra dat hoender vrygestel word van BTW omdat hoender die goedkoopste bron van vleisproteïen in Suid-Afrika is en ’n groot deel van die basiese dieet van die bevolking uitmaak.

Die paneel het egter sy voorbehoude uitgespreek of die twee groot rolspelers in die mark, Astral Foods en RCL Foods, wel die voordeel ten volle aan arm verbruikers sou deurgee.

Dis ondanks die feit dat Astral reeds vanjaar die impak van die hoër BTW-koers op die prys van sy hoenderprodukte probeer versag het deur vir ’n tydperk die verhoging self te subsidieer.

Die feit dat hoendervleis nie deel is van die aanbevelings vir BTW-vrystelling nie, is wel ’n terugslag vir maatskappye soos Astral, maar dis nie ’n “slagting” nie, sê Anthony Clark, ontleder van Vunani Securities.

“Ek verwag dat die plaaslike bedryf heelwat druk agter die skerms sal uitoefen en die feit dat die paneel nie konsensus kon bereik nie, skep ’n geleentheid vir verdere oorreding voordat die finale besluit geneem word.”

Baird wys daarop dat hoender ’n stapelvoedsel vir Suid-Afrikaners geword het en vir arm mense ’n vername bron van proteïene is.

“Die regering kyk na maniere om die BTW-las vir laerinkomste-huishoudings te verlig. Daar is geen doeltreffender wyse om dit te doen as deur hoender van BTW vry te stel nie.”

Clark sê een manier om verby die koste-implikasie van die vrystelling van hoender te kom, is om net plaaslik geproduseerde bevrore hoender van BTW vry te stel.

Die plaaslike hoenderbedryf word die afgelope jare onder druk geplaas deur ingevoerde bevrore hoenderstukke wat volgens die bedryf teen ’n laer prys verkoop word as wat dit kos om plaaslik te produseer en ook plaaslike werkgeleenthede in gedrang bring.

“Dit kan wel beskou word as proteksionisme as ingevoerde hoender nie vrygestel word van BTW nie, maar die regering kan die argument gebruik dat hy die armes help en werk en beleggings probeer skep – maar dan moet die plaaslike bedryf sy kant bring en verseker al die BTW-verligting word wel na die verbruiker deurgegee.”

Meer oor:  Fairplay  |  Rcl  |  Astral  |  Pluimveebedryf  |  Tesourie  |  Btw  |  Hoender  |  Belasting  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.