Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoender van R10,64 per kg in die visier

Die departement van handel en nywerheid bestudeer nog die hofaansoek deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) om ’n einde te probeer bring aan die spesiale kwotastelsel waarvolgens 65 000 ton goedkoop hoender per jaar tariefvry uit Amerika ingevoer kan word.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid.

Sapa sê dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, moet die toegelate kwota kanselleer uit weerwraak teen nuwe tariewe wat Amerika ingestel het op staal- en aluminiumprodukte uit Suid-Afrika.

Die hoenderstukke wat uit Amerika kom, land in Suid-Afrika teen gemiddeld R10,64 per kilogram, volgens amptelike handelsdata. Dít is minder as die helfte van die koste om bevrore hoenderstukkies plaaslik te produseer.

Die Amerikaanse produkte het ook ’n voordeel teenoor die invoer vanaf Ierland en Denemarke teen onderskeidelik sowat R16/kg en R18/kg.

Die staal- en aluminiumtariewe wat Amerika vanjaar ingestel het, raak produkte wat verlede jaar R6,7 miljard vir Suid-Afrika verdien het deur sy uitvoer na Amerika. Dit raak ook produkte wat Suid-Afrika voorheen tariefvry na Amerika kon uitvoer kragtens die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa).

Ziyanda Majokweni, uitvoerende hoof van Sapa, sê in ’n beëdigde verklaring dit kom dus neer op ’n herroeping van Suid-Afrika se Agoa-voordele. Tog het Suid-Afrika die spesiale toegewing vir Amerikaanse hoender in 2016 juis gemaak om sy Agoa-voordele te behou.

Amerika het gedreig om Suid-Afrika uit Agoa te skop weens jare lange teenstortingstariewe op bevrore hoenderstukkies aan die been uit die VSA. Die ooreenkoms was dat as Suid-Afrika sy Agoa-voordele behou, hy 65 000 ton per jaar van die hoender tariefvry uit Amerika sou toelaat.

Volgens Majokweni kan Suid-Afrika die toegewing nou terugtrek omdat Amerika met die staaltariewe in elk geval Suid-Afrika se Agoa-voordele deels weggeneem het.

Die departement sal egter onwillig wees om die res van die Agoa-voordele in gedrang te bring deur in weerwraak op te tree wat betref die hoenderinvoer uit Amerika.

Die verlies aan uitvoer weens die tariewe op staal- en aluminiumprodukte uit Suid-Afrika is aansienlik, maar veel minder as die totale uitvoer na die VSA onder Agoa – veral in die voertuig- en landbousektor.

Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, sê die departement probeer nog onderhandel om die staaltariewe te laat skrap of te verminder.

Die grootste enkele begunstigde van Agoa in Suid-Afrika en op die vasteland is BMW, wat jaarliks sowat 40 000 motors uit Suid-Afrika na Amerika uitvoer.

Sitrus- en makadamia-boere verkoop ook groot volumes in Amerika danksy die Agoa-ooreenkoms.

Verlede jaar het Suid-Afrika sowat $1,2 miljard (R17,3 miljard) se motors en motoronderdele tariefvry na die VSA uitgevoer, en meer as $200 miljoen se landbouprodukte.

Die totale Agoa-uitvoer was R24 miljard.

Daarteenoor het Suid-Afrika in 2017 hoenderstukkies ter waarde van R832 miljoen uit Amerika ingevoer.

David Wolpert, uitvoerende hoof van die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders van Suid-Afrika (Amie), sê hulle win regsadvies in oor of hulle tot die regsgeding moet toetree.

Meer oor:  Rob Davies  |  Vsa  |  Pluimvee  |  Invoer  |  Agoa  |  Uitvoer  |  Handelsoorlog  |  Amie  |  Hoenderbedryf  |  Sapa  |  Hoender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.