Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoender en BTW: Paneel kap Astral, RCL
Die staat sal ’n groot bedrag aan BTW-inkomste verloor as van bevrore hoenderstukke vrygestel word. Foto: Vida Booysen

Waarom gaan hoender – die belangrikste proteïen vir Suid-Afrikaanse huishoudings – nie van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel word nie?

Een van die redes wat die paneel onder leiding van prof. Ingrid Woolard aanvoer, is dat hulle nie plaaslike hoenderprodusente soos RCL en Astral Foods vertrou om besparings wél aan arm verbruikers deur te gee nie – ondanks die feit dat Astral self al ’n pleidooi gelewer het vir die vrystelling van BTW op hoender, en in April gesê het hy gaan die styging in die BTW-koers, van 14% tot 15%, self absorbeer eerder as deurgee aan huishoudings.

Die Woolard-paneel, wat in Mei deur die tesourie opdrag gegee is om die lys BTW-vrygestelde produkte te ondersoek en ander voorstelle te doen ten einde die druk op arm huishoudings te verlig, het aanbeveel dat witbrood, witbrood- en koekmeel, sanitêre produkte, doeke (vir babas en volwassenes) en skoolklere van BTW vrygestel word.

Voorts moet skoolvoedingsprogramme verbeter word en moet sanitêre produkte gratis aan arm vroue en meisies verskaf word.

Kommentaar op die voorstelle word nou ingewag en ’n parlementêre sitting sal gehou word, waarna die tesourie sy finale besluit sal neem.

Die paneel kon nie tot ’n vergelyk kom oor of individueel kits bevrore hoenderstukke (sogenaamde IQF) van BTW vrygestel moet word nie en daarom maak dit nie deel uit van die aanbevelings nie.

IQF word deur plaaslike hoenderprodusente soos RCL en Astral vervaardig deur individuele hoenderstukke baie vinnig te bevries sonder dat enige yskristalle gevorm word. Bevrore hoender wat ingevoer word, word in water gevries.

Die paneel het wel bevind dit maak sin om slegs IQF vir BTW-vrystelling te oorweeg, nie alle hoender nie.

Die paneel sê in sy verslag dis belangrik dat belasting progressief is, dus dat welgestelde mense swaarder belas word in verhouding tot hul inkomste. Indien alle hoender (ook vars hoender) van BTW vrygestel word, sal die belasting daardie progressiewe element verloor.

IQF, wat proporsioneel meer deur arm huishoudings gekoop word, is egter ook nie onder die aanbevelings wat die paneel gedoen het nie.

Die nege lede van die paneel was verdeeld.

Dié wat gekant was teen ’n BTW-vrystelling het aangevoer:

  • Hoenderstukke kan maklik verkeerd geklassifiseer word. Dit kan meebring dat die staat inkomste verloor sonder dat arm huishoudings die voordeel van laer pryse trek.
  • Die staat sal ’n groot bedrag aan BTW-inkomste verloor. Nagenoeg R17 miljard se IQF is in 2016 verkoop, volgens Statistieke Suid-Afrika se raming. BTW-vrystelling kan die fiskus R2,1 miljard kos. As ander bevrore hoender (dus ook die ingevoerde hoender) ingesluit word, sal dit nóg R1 miljard se verlore inkomste meebring. Die verlore inkomste vir die staat sal egter met verloop van tyd styg omdat hoërinkomste-huishoudings kan oorskakel van vars na bevrore hoender “hoewel hulle dit in die algemeen as minder begeerlik beskou wat gehalte en gerief betref”.
  • Die invoer van bevrore hoenderstukke sal aangemoedig word, terwyl enige voordele van die BTW-vrystelling op IQF deur die twee grootste plaaslike hoenderprodusente onderskep sal word, eerder as aan lae-inkomstehuishoudings deurgegee te word.

    Hoenderinvoer het die afgelope jaar sterk gestyg – deels weens wat die plaaslike pluimveebedryf as storting beskryf – en verteenwoordig nou nagenoeg 25% van plaaslike verbruik. Die paneel sê wel invoer het dalk gehelp om die styging in die prys van hoendervleis in toom te hou. “In teenstelling het die prys van rooivleis, waar invoermededinging beperk is, die afgelope dekade met baie meer as die inflasiekoers gestyg.”

  • Voedingsprogramme sal doeltreffender wees om arm huishoudings by te staan.

Dié wat ten gunste was van ’n BTW-vrystelling het aangevoer:

  • Hoender is ’n stapelvoedsel vir arm huishoudings, so die voordeel van laer pryse weeg swaar, selfs al moedig dit invoer aan.
  • Die uitwerking sal progressief wees (dus ’n groter voordeel as persentasie van hul inkomste vir arm huishoudings inhou).
  • Dis nie so moeilik om hoender as IQF te klassifiseer en te polisieer sodat net dié hoender van BTW vrygestel word nie.

Wantroue van bedryf

Die paneel sê pluimveeproduksie in Suid-Afrika word oorheers deur Rainbow Chicken en Astral Foods.

“Die oorheersing wat dié rolspelers geniet, was in die verlede die onderwerp van misbruik, wat die vraag laat ontstaan of nul-gradering wel aan lae-inkomsteverbruikers deurgegee sal word of in die waardeketting vervang sal word.

“Die Mededingingskommissie het byvoorbeeld in 2012 met Astral geskik oor prysvasstelling van vars pluimvee in die Wes-Kaap, die vasstelling van handelsvoorwaardes en die misbruik van oorheersing.

“Daar is geen aanduiding dat sodanige markgedrag nie weer sal plaasvind as IQF van BTW vrygestel word nie.”

Meer oor:  Astral Foods  |  Rainbow Chicken  |  Ingrid Woolard  |  Bevrore Hoenderstukke  |  Belasting  |  Btw  |  Hoender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.