Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoenderboere pleit weer vir hoër invoertariewe

Invoertariewe op bevrore hoenderstukke aan die been, asook ontbeende bevrore hoenderstukke, behoort van die huidige onderskeidelik 37% en 12% tot 82% verhoog te word, het die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) gevra.

Sapa wil hê die hoër tariewe moet keer dat die plaaslike mark oorstroom word deur goedkoop hoenderinvoer van lande soos Brasilië. Foto: Pixabay

Hul jongste aansoek by die departement van handel en nywerheid se kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) is in die Staatskoerant gepubliseer.

Sapa wil hê die hoër tariewe moet keer dat die plaaslike mark oorstroom word deur goedkoop hoenderinvoer van lande soos Brasilië.

Dit blyk Brasiliaanse uitvoerders van hoendervleis teiken toenemend die Suid-Afrikaanse mark om die gaping te probeer vul weens invoer uit Europa wat in die afgelope jaar grootliks weens voëlgriep verbied is.

Brasilië word ook nie geraak deur die beveiligingsheffing van drie jaar wat op hoendervleis geplaas is wat van Europa ingevoer word nie.

Die organisasie FairPlay, wat hom vir ’n billike handelsomgewing beywer, steun saam met die vakbond Fawu die versoek vir hoër invoertariewe op hoender.

In ’n verklaring van FairPlay word Katishi Masemola, sekretaris-generaal van Fawu, aangehaal: “Suid-Afrikaanse hoenderprodusente moet uitbrei en werk skep, nie andersom nie. Dit is die grootste sektor in die landboubedryf en tienduisende werkers is van hoenderproduksie afhanklik, veral in landelike gebiede.”

Francois Baird, stigter van FairPlay, sê hoenderinvoer het al so toegeneem dat dit ’n kwart tot ’n derde van die Suid-Afrikaanse verbruikersmark uitmaak. Dit het veroorsaak dat kleiner produsente moes sluit en groteres moes afskaal en poste sny.

“Die groeiende vraag na hoender word deur invoer gedek en werkgeleenthede gaan na ander lande pleks dat geleenthede vir Suid-Afrika se eie mense geskep word.”

Die hoenderbedryf is ook belangrik vir die voortbestaan van die soja- en graanbedryf, sê Baird.

As deel van sy motivering vir die hoër invoertariewe sê Sapa die hoenderbedryf is die tweede grootste verbruiker van mielies in Suider-Afrika en die grootste verbruiker van sojabone. Die regering se strategie om die sojaboonbedryf te ontwikkel is dus afhanklik van die sukses van die plaaslike hoenderbedryf.

Volgens Sapa gee die bedryf werk aan minstens 47 000 mense, met nog 58 000 verwante poste wat daardeur in stand gehou word.

Die ekonoom Mike Schüssler steun ook die hoër invoertariewe. Suid-Afrika is een van die kosuitvoerlande wat min subsidies en beskerming vir hul boere en kosbedrywe het, sê hy.

Meer oor:  Fairplay  |  Sapa  |  Hoender  |  Hoenderbedryf  |  Pluimvee  |  Hoenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.