Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoenderreus ly weens beurtkrag, minimum loon

Die nuwe minimum loon, beurtkrag, swak watervoorsiening in Standerton en duurder mielies het die pluimveegroep Astral Foods se halfjaarsyfers geknou.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods.

Maar ondanks sy bedryfswins wat in sy afgelope halfjaar gehalveer het, het beleggers Maandag geskarrel om die pluimveeprodusent se aandele op te raap en die aandeelprys het die oggend met soveel as 4,4% tot R195,49 gestyg, hoewel dit later wel effens teruggesak het.

Astral Foods se bedryfswins het in die ses maande tot einde Maart met 51,4% tot R503 miljoen gekrimp vergeleke met ’n jaar gelede, grootliks weens die pluimvee-afdeling se wins wat met 68,9% gekrimp het.

Chris Schutte, uitvoerende hoof, verduidelik die swakker wins is weens onder meer voerpryse wat aansienlik hoër was weens twee agtereenvolgende droë seisoene wat tot ’n kleiner mielie-oes gelei het.

Die pluimvee-afdeling is ook geraak deur die nuwe minimum loon, beurtkrag wat landwyd toegepas is, die ontwrigting van die groep se watervoorsiening in Standerton, en koste wat verband hou met ’n reeks aggressiewe stakings in KwaZulu-Natal.

Minimum loon

Ná voerkoste is arbeidskoste die grootste uitgawe vir Astral Foods, en Schutte sê die nuwe minimum loon het die groep in die halfjaar reeds R23 miljoen méér aan salarisse en lone gekos. Vir ’n volle boekjaar sal dit sy arbeidskoste met ’n ekstra sowat R80 miljoen opjaag.

Water

Die groep se abattoir by Standerton is geraak deur die plaaslike munisipaliteit se verswakkende waterinfrastruktuur. Die hoenderslagplaas gebruik baie water, want die slag en verwerking van hoendervleis verg heelwat warm en skoon water sodat daar aan internasionale standaarde voldoen kan word, verduidelik hy.

Maar die aanleg word tans met water gerantsoeneer, en Astral Foods moet teen groot koste hoenders na ander abattoirs wegwys vir verwerking weens die onreëlmatige watervoorsiening.

Beurtkrag

Astral Foods ondersoek gedurig ander energie-opsies in reaksie op beurtkrag. Die groep ondersoek byvoorbeeld om hoendermis te verbrand om hitte op te wek wat teruggevoer kan word om die hoenderhokke te verhit. Die groep het noodkragopwekkers, maar die koste is drie keer soveel as elektrisiteit. Die groep belê dus ook in toerusting wat minder krag gebruik.

Vooruitsigte

Schutte meen langtermynbeleggers hou waarskynlik steeds van Astral Foods omdat hulle verby die korttermyn-uitdagings kyk. Ná die afgelope twee jaar se swak mielie-oeste word ’n beter mielie-oes danksy goeie reën verwag wat mieliepryse kan help demp.

Die nuwe regering kan dalk help om munisipale infrastruktuur te verbeter, en kan minder liberaal wees met die invoertariewe op goedkoop hoender.

Schutte waarsku die langtermynbelegging in plaaslike hoendervleisproduksie word belemmer as die storting van goedkoop hoendervleis van oorsee onbeperk toegelaat word.

Hy meen die onkundige en trae benadering wat die regering volg met invoertariewe keer dat die plaaslike hoenderbedryf sy volle potensiaal vir werkskepping bereik.

Kapitaalprogram

Astral Foods het gewaarsku hy het sy kapitaalprogram aangepas te midde van die slegte markvooruitsigte in sekere gebiede.

Hulle gaan voort met die uitbreiding van sy Olifantsfontein-aanleg teen R850 miljoen wat teen middel volgende jaar voltooi sal wees, maar besnoei op ’n voermeule van R140 miljoen wat hy in Zambië sou bou.

’n Uitbreiding van R230 miljoen in KwaZulu-Natal is ook geskrap weens die arbeidsonrus daar wat koste opgejaag het.

Ander voer

Hoekom ondersoek Astral Foods te midde van duur mielies en sy voerkoste wat sy hoogste produksiekoste is nie ander voer soos die proteïenryke veevoer uit vlieglarwes wat ’n maatskappy soos AgriProtein van Stellenbosch vervaardig nie?

Schutte verduidelik hulle kyk gedurig na ander opsies, maar mielies is ’n energiebron eerder as proteïenbron. Proteïenryke veevoer soos soja en vismeel is boonop nog goedkoper as dié wat uit vlieglarwes gemaak word. In die lig van die volume voer wat Astral Foods benodig, sou die larwevoer net twee ure hou, al sou Astral Foods ál AgriProtein se produksie aankoop.

Meer oor:  Astral  |  Chris Schutte  |  Hoenders  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.