Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoendervleis: Partye mag mekaar se kaarte sien
Mededingers in die hoenderbedryf sal toegang tot mekaar se vertroulike dokumente kry.

Die onderskeie prokureurs en ekonome van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) en die Vereniging van Vleisinvoerders en Uitvoerders (AMIE) gaan nou toegang kry tot mekaar se vertroulike dokumente in Sapa se aansoek vir ’n hoër invoertarief op hoendervleis.

Sapa wil hê die regering moet ’n invoertarief van 82% plaas op ingevoerde hoenderborsies, asook op hoenderagterkwarte. Die tariewe is op onderskeidelik 12% en 37%. Maar die AMIE staan dié aansoek by die Administrasiekommissie vir internasionale handel (ITAC) teen, en het hom in April met ’n dringende hofaansoek tot die hooggeregshof in Johannesburg gewend om toegang te kry tot vertroulike dokumente van Sapa.

Die hof het egter nie gemeen die aansoek is so dringend nie, en sou eers in Oktober die aansoek oorweeg.

Die AMIE het Woensdag laat weet hulle en Sapa het intussen geskik om die “sluier van geheimhouding oor die vertroulike dokumente” te lig. Die AMIE sê hy wil hierdeur ’n uitgerekte hofstryd vermy. Volgens die AMIE is dit die publiek se reg om insae te kry in ’n tariefaansoek wat die bekostigbaarheid van ’n belangrike voedselbron soos hoendervleis kan bepaal.

Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van Sapa, sê hulle is tevrede met die ooreenkoms wat bereik is om vertroulike inligting te deel. Hy het beklemtoon dit is net die onderskeie partye se prokureurs en hul ekonome wat mekaar se vertroulike dokumente sal mag sien.

Paul Matthew, uitvoerende hoof van die AMIE, sê hulle het die inligting nodig om die regmatigheid van Sapa se aansoek te kan beoordeel. As die hoër invoertariewe toegestaan word, kan baie Suid-Afrikaners wat hoender as ’n stapelvoedsel vir proteïne beskou nie meer hoendervleis bekostig nie, sê Matthew. Die hoër tariewe sal invoerders knou en werkverliese veroorsaak.

Sapa voer op sy beurt aan die storting van hoendervleis van veral Brasilië bedreig talle werkgeleenthede in die plaaslike pluimveebedryf.

Invoer is noodsaaklik want die land kan nie genoeg hoendervleis produseer om aan sy eie vraag te voldoen nie.

Matthew meen die plaaslike bedryf het in 2018 rekordwinste behaal en hy verstaan nie waarom ’n bedryf wat groot bedrae in die bou van nuwe produksievermoë belê kan beweer dat hy deur invoer bedreig word nie.

“Invoer is noodsaaklik want die land kan nie genoeg hoendervleis produseer om aan sy eie vraag te voldoen nie.”

Astral Foods, een van die grootste hoendervleisprodusente, het egter juis vandeesweek gesê hy moet terugsny op van sy kapitaalprojekte weens moeilike marktoestande.

Astral se pluimveeafdeling se bedryfswins het in die afgelope halfjaar met byna 70% gekrimp.

Breitenbach sê ITAC het self in sy eie studie bevind die Brasiliane maak hulle skuldig aan die storting van goedkoop hoendervleis.

Unati Spiers, voorsitter van die vereniging van opkomende swart vleisinvoerders en uitvoerders (EBieSA), sê die besluit ten gunste van deursigtigheid is ’n oorwinning vir invoerders en vir verbruikers wat ly onder duurder hoendervleis weens tariefverhogings. Volgens Spiers hou Sapa vol invoer bedreig plaaslike werkgeleenthede en lei tot ’n gebrek aan winsgewendheid in die plaaslike bedryf, “maar daar is geen bewyse daarvan nie”.

“Ons glo hulle wil bloot hul eie wins beskerm tot nadeel van verbruikers en opkomende swart invoerders. Al wat ons weet wat waar is, is dat nog ’n verhoging in tariewe nog ’n verhoging in die koste van hoender vir die verbruiker beteken.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.