Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoër lone ’n doodskoot vir dié boere

Die verhoging van altesame 16% in die minimum loon vir plaaswerkers kan tot groot werkloosheid, ’n koskrisis en maatskaplike onrus lei, waarsku landbou-organisasies.

Die landboubedryf vrees die verhoging van effektief 16% in die minimum loon vir plaaswerkers sal uiteindelik tot laer indiensneming in die sektor lei. Foto: LUCKY NXUMALO

Suid-Afrikaanse groenteboere kan óf die land verlaat óf oorskakel na ander soort boerderye omdat hulle dié verhoogde loon nie sal kan bekostig nie, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Vir die gemiddelde boer kan die 16%-verhoging neerkom op ’n ekstra R2,5 miljoen per jaar, sê Van Zyl.

Dr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het in ’n verklaring gesê die dubbelsyfer-verhoging sal die landbousektor se betaalstaat laat styg tot bo 30% van produksiekoste. “Indien boere nie voedsel op ’n bekostigbare grondslag kan produseer en landbouwerkers grootskaals in diens kan neem nie, kan dit aanleiding gee tot ’n voedselkrisis en grootskeepse maatskaplike onrus wanneer voedselonsekerheid en werkloosheid begin kop uitsteek.”

TLU SA, verteenwoordigers van die VF Plus en die Landbouwerkgewersorganisasie het Vrydag op ’n vergadering besluit om ’n dispuut daaroor met Thulas Nxesi, minister van werkskepping en arbeid, te verklaar.

Die Landbouwerkgewersorganisasie gaan ook met ’n proses begin om dit in die hof te betwis.

Die landboubedryf sê sy pleidooi dat die verhoging uitgestel word totdat die ekonomiese omstandighede herstel, het op dowe ore geval.

Die minimum loon word van 1 Maart met 4,5% verhoog tot R21,69 per uur.

Plaaswerkers verdien nou 90% van die nasionale minimum loon. Van Maart is hulle geregtig op die volle nasionale minimum loon.

Dít, saam met ’n 4,5%-verhoging van die 2020-loon, kom neer op ’n 16%-verhoging vir die landbousektor.

“ ’n Minimum loon in die landbou­bedryf maak ’n wesenlike verskil,” het Van Zyl aan Rapport gesê. “Ons groenteboere het twee keuses – óf hulle skuif na Mosambiek, Botswana of selfs Ghana waar hul werkers ’n derde van ons minimum loon betaal word óf hulle faseer hul groenteboerdery uit en skakel oor na ’n ander kommoditeit waar hulle kan meganiseer en nie afhanklik is van arbeid nie.”

Volgens Van Zyl is groenteboerderye besonder arbeidsintensief en kan hulle tussen 200 en 600 arbeiders op ’n slag in diens neem.

“Die algemene gevoel is dat arbeidsintensiewe landbouvertakkinge soos groenteverbouing beëindig sal moet word. Die verhoging in minimum lone kom op ’n tydstip waarop die bedryf dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Dit is uiters kortsigtig.”

Die landboubedryf vrees die verhoging sal net meer mense uit die arbeidsmag verwyder. “Dit sal meestal ongeskoolde werkers wees wat uiteindelik geraak sal word,” sê Van Zyl.

Plaaswerkers oes grenache-druiwe op die wynplaas Newton Johnson in die Hemel-en-Aarde-vallei, buite Hermanus in die Wes-Kaap, in hierdie argieffoto van Maart verlede jaar. Foto: getty

Hoewel daar nog nie amptelike syfers bekend is oor die spesifieke impak van die minimum loon op indiensneming nie, wys Statistieke SA se syfers oor werkloosheid dat indiensneming in die landbousektor met meer as 8% afgeneem het van die tydperk Julie tot September 2019 tot dieselfde tydperk in 2020. ’n Nasionale minimum loon is in 2019 in werking gestel.

Statistieke SA se syfers toon die meeste werkverliese in landbou was in die Wes-Kaap (-36,5%), gevolg deur die Noord-Kaap (-13,3%) en dan die Vrystaat (-12,6%).

Volgens Van der Rheede is veral subsektore soos wynboere en die verbouers van tafeldruiwe, suikerriet en vrugte en wolboere besonder kwesbaar vir minimumloonverhogings.

Marlies Piek en Dieter von Fintel van die Universiteit Stellenbosch se ekonomie-departement se navorsing oor maatskaplike beleid toon veral kleiner boerderye kry swaar om minimum lone te absorbeer.

Boere in uitvoergerigte sektore sukkel byvoorbeeld om minimum lone te betaal omdat hulle nie toegang tot groot markte het nie en ook nie die geldelike vermoë het om kapitaalbeleggings te maak of hoër geskoolde werkers in diens te neem nie.

“Die landboubedryf is ’n veelsydige sektor wat meestal bestaan uit klein- en mediumskaalboere. Grootskaalse kommersiële boere maak slegs ’n klein persentasie van die bedryf uit,” sê Van der Rheede.

Die Kaapse Agri-werkgewersorganisasie het in reaksie op die minimum-loonverhoging gesê die “besluitnemers” het nie ag geslaan daarop dat baie landbouwerkers byvoordele soos gratis behuising ontvang nie.

Michael Cardo, DA-woordvoerder oor arbeid en indiensneming, het aan Rapport gesê die landboubedryf is een van die grootste ekonomiese sektore in die land wat laer geskoolde werkers in diens kan neem. Dis te verstane dat talle boere sal probeer meganiseer ná die jongste loonverhogings om hul bedryfskoste te probeer besnoei.

“Die bedryf is ’n gevoelige slag toegedien met die inperking. Hierdie (loonverhoging) kan ’n doodskoot wees wat baie boere op hul knieë dwing.”

Meer oor:  Kaap Agri  |  Minimum Loon  |  Boere  |  Landbou  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.