Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Houttekort en werkverliese dreig
Die Boskor-saagmeule in die Tsitsikamma-gebied in die Oos-Kaap.

Sowat 150 werkers by die Boskor-saagmeule in Tsitsikamma in die Oos-Kaap vrees dat hulle hul werk kan verloor weens veranderinge in die beleid van die bosboumaatskappy MTO. Tot 300 mense in die gebied kan dalk hul werk verloor, want daar is ook ’n ander saagmeule in die gebied wat benadeel kan word.

Dit blyk MTO het gewoonlik die hout uit sy plantasies in die omgewing aan Boskor en ander saagmeulens in die onmiddellike omgewing gelewer, maar wil dit nou na sy eie saagmeule in George vervoer.

Dit volg ná die verwoestende brande in die Suid- en Oos-Kaap in 2017 en 2018 waar groot dele bos en plantasie in die Knysna-omgewing asook in die Tsitsikamma verwoes is.

MTO is volgens ’n verklaring wat die George Herald in Oktober gepubliseer het, besig om sy bestaande kontrakte te beëindig om ’n billiker tenderproses te kan gebruik sodat veral voorheen benadeelde rolspelers die bosbou- en houtmark kan betree.

Volgens MTO eindig sy langtermynkontrakte aan verskeie klante teen einde vanjaar. Dit volg op ’n konsultasieproses wat al in 2012 begin het.

Volgens MTO is sy plantasies erg geraak deur die brande en is 16 635 ha verwoes, waarvan 8 863 ha al herplant is. Maar dié bome sal eers oor 15 tot 22 jaar oesgereed wees. Volgens MTO het hy belanghebbers al gewaarsku daar kan van vanjaar af ’n tekort aan hout wees.

Dit is reeds vandeesweek onafhanklik bevestig toe die kleinhandelaar Lewis gewaarsku het daar is tans ’n tekort aan houtspaanderbord vir die maak van meubels. Dit blyk boonop die bosboubedryf het al in 2014 gewaarsku oor die verwagte krisis. MTO se plantasies het in 2005 ook onder brande gely, wat heraanplantings vertraag het.

Volgens MTO het hy ’n ooreenkoms met die staat – wie se bosbouplantasies hy oorgeneem het – om stelselmatig van die plantasies weer terug te gee aan die staat vir onder meer behuising, bewaring, landbou en gemeenskapsbosbou.

Maar dit blyk daar is al sedert ’n kabinetsbesluit in 2008 om dele van die plantasies steeds vir bosbou te gebruik ’n gesloer om ooreen te stem hoe dit gedoen moet word.

Hans Hanekom, uitvoerende hoof van Swartland Investments en eienaar van Boskor, wat altyd hout van MTO gekoop het, voer in ’n verklaring aan dat MTO die werkgeleenthede van honderde werkers in die Tsitsikamma-gebied in gevaar stel deurdat hy houtpale nou 150 km verder na George wil vervoer pleks om dit in die nabye omgewing te laat verwerk.

Hanekom meen dit grens aan ’n humanitêre krisis in die omgewing. Boskor en AWC is die twee saagmeulens in die omgewing en die gevaar bestaan dat een van hulle teen einde 2021 sal moet sluit. Volgens hom oortree MTO sy akkreditasie by die Bosbourentmeestersraad (FSC) wat bepaal dat roumateriaal in die plaaslike ekonomie verwerk moet word en dat die totale onaangeplante gebied nie meer as 4% van ’n bosboufirma se grond beslaan nie omdat dit as bestepraktyk in die bosbou geag word. Volgens Hanekom staan MTO se totale onaangeplante gebied tans op 8% en kan dit teen 2024 tot 24% styg.

Maar MTO voer in sy verklaring van Oktober aan dat hy jaarliks deur die FSC geoudit word, en dat sy heraanplantingskedule tot 2025 deur die regering goedgekeur is en in ooreenstemming met internasionale bosboupraktyk is.

MTO het intussen in Oktober ’n tender uitgereik vir belangstellende partye vir die oes en uitdun van plantasies in die Wes- en Oos-Kaap van Januarie 2021 af.

Die internasionale omgewingsbelegger, die Global Environment Fund, is ’n meerderheidsaandeelhouer in Cape Pine Investment Holdings, wat op sy beurt die meerderheidsaandeelhouer in MTO is.

Verdere vrae is aan MTO gestuur, wat bygewerk sal word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Bosbou En Visserye  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.