Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Impak van die droogte reik wyd

Terwyl boere in sekere dele van die land ’n sug van verligting kan slaak oor verligting wat die reën gebring het, gaan die boere in veral die Suid-Kaap nog steeds onder erge droogtetoestande en watertekorte gebuk. Tisha Steyn gee ’n oorsig van die omstandig-hede van die boere in die Klein-Karoo.

Waar sal ons hulp vandaan kom?

Dit is die versugting van die meeste boere in die Klein-Karoo – boere wat die afgelope vier jaar in die wurggreep van die ergste droogte in dekades is en wat met ’n oog op die hemel probeer oorleef.

Nagenoeg 60 kommersiële en kleinboere vanuit dié streek het onlangs hul bekommernisse oor die uitwerking van die voortslepende droogte aan Alan Winde, die Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, en Anton Bredell, die minister van plaaslike ontwikkeling en omgewingsake in die Wes-Kaap, voorgelê.

Boere span saam: Die Klein-Karoo-boere wat ’n droogteverslag saamgestel en aan Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, voorgelê het in die hoop om droogtehulp te bekom, is (voor van links): Johan “Klokkie” Fourie, Anton Schoeman, Manie du Plessis, (agter) George Kersop (Oudtshoorn-munisipaliteit), Joey Potgieter, Laubscher Coetzee, Johan Koegelenberg en Johan Fourie (Oudtshoorn-munisipaliteit). Foto’s: TISHA STEYN

Winde het gesê hy kan nie enige beloftes maak oor verdere droogtehulp aan die streek nie. Hy het wel genoem dat 35 kommersiële en 34 opkomende boere in die Oudtshoorn-omgewing in Maart vanjaar droogtehulp van R606 696 ontvang het. ’n Verdere R1 miljoen is in Julie vanjaar uitbetaal.

Hy het veeboere (volstruisboere uitgesluit) aangeraai om by die departement van landbou se plaaslike kantoor om droogtehulp aansoek te doen.

Volgens Pieter de Jager, landbou-ekonoom van Absa Agribesigheid op Oudtshoorn, is hulle terdeë bewus van die uitdagings wat boere weens die droogte in die Klein-Karoo in die gesig staar.

“Die droogte plaas beduidende druk op boerderyinkomste, terwyl dit weer die kontantvloeiposisie van landbouers negatief beïnvloed. Boerderyomsette het in sekere gevalle tot 50% afgeneem, terwyl (boere se) uitgawes gestyg het.

“Veeboere het net kernkuddes oor en het nie meer surplus vee om te verkoop nie. Die staat se droogtehulp kan hierdie boere help, maar die situasie is minder goed vir landbouers wie se inkomste slegs van gewasproduksie afkomstig is – iets waarvoor daar nie meer water beskikbaar is nie.”

Volgens De Jager help die bank elke boer op sy eie meriete. “Die boer moet saam met sy finansierder bepaal hoe die situasie binne sy boerderyonderneming bestuur kan word.”

De Jager sê daar is verskeie opsies soos om die skuld te herstruktureer en betalings te kapitaliseer. Die boer kan ook sy finansieringstermyn verleng ten einde die druk op sy kontantvloei te verlig.

Die Kammanassiedam buite Oudtshoorn in die Klein-Karoo.

Voer word geskenk

Intussen word voer van oor die land aan sukkelende boere in die Klein-Karoo geskenk.

Weeber Truter, lid van die Herold-landbouvereniging (’n landbougemeenskap buite ­George) en van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV), poog onvermoeid om voer vir boere in die gebied te bekom. Hy sê voer ter waarde van tussen R6 miljoen tot R8 miljoen is reeds in die afgelope drie jaar aan die gebied geskenk.

Die meerderheid van die voerskenkings – wat mielies, gras, sojareste en lusern insluit – het uit die Suid-Kaap, die Vrystaat en die Oos-Kaap gekom. Die kwekersvereniging het voer aan die sybokboere daar geskenk.

In die meeste gevalle moes die boere self betaal om die voer aan te ry. “Dit is wonderlik hoe die boere saamstaan om voer te skenk. Hulle weet hoe dit voel omdat hulle al self met die hoed in die hand gestaan het,” sê Truter.

Die afgelope naweek is 34 ton geelmielies met behulp van Burre Burger se droogtehulpprojek by die Oudtshoornse boer Saag Jonker se reuse-skuur op die plaas Badshoogte naby die Calitzdorp-spa afgelewer. Boere van Cedarville in die Oos-Kaap het die mielies aan die boere in die Klein-Karoo geskenk.

Die Stompdriftdam tussen Oudtshoorn en Dysselsdorp.

“Ek het die nood van ons boere (verlede) Maandagoggend onder Burre se aandag gebring,” het die boer George Naudé by die aflewering gesê. Enkele dae later is die voerskenking afgelewer.

Dié boere boer langs die onderste deel van die Olifantsrivier en het in 2016 laas ’n leibeurt uit die Stompdrift-Kammanassie-besproeiingskema gekry.

Hulle het Danie Erasmus, ’n vragmotorbestuurder van Labucon, Saterdagoggend in die snerpende koue saam met hul vroue en kinders ingewag by die skuur waar die mielie-skenking afgelewer is.

Daar was nie ’n enkele droë oog die oggend toe Elise Lerm, ’n plaaslike inwoner, in ’n gebed vir die skenking dankie gesê het nie. “Dit is swaar om swaar te kry. Ons is dankbaar dat mense hul harte oopgemaak het – ons weet die voer kom van die Here af,” het sy gebid.

Buiten vir die voerskenking, het die Cedarville-boere ook die brandstof betaal.

Labucon het weer die grootmaat-vervoer gratis beskikbaar gestel.

Die boere het elkeen sowat 22 sakke mielies van 50 kg elk ontvang en kon ’n skenking van R50 per sak gee.

Damme dolleeg

Plaaslike damme:Die Nelsrivierdam by Calitzdorp in die Klein-Karoo.

Weens die erge watertekorte is die groter Oudtshoorn-gebied verlede week tot ’n rampgebied verklaar.

Die Stompdrift-Kammanassie-besproeiingskema, wat water aan sowat 150 boere langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot naby Calitzdorp verskaf, beskik tans oor onderskeidelik 5,7% en 3,7% water.

Die Olifantsrivier vloei hier in die Gamkarivier onderkant die Gamkapoortrivier – ’n rivier wat laas in 2016 water gehad het.

Die reënvalsyfers in die hele Klein-Karoo het van gemiddeld 250 mm per jaar tot net sowat 60 mm per jaar afgeneem, met feitlik geen reën wat vir die res van die jaar voorspel word nie.

“Ons het al voorheen droogtes ondervind, maar die volstruise het ons nog altyd deurgetrek,” sê Ernie Fourie, ’n vee-en-volstruisboer van Calitzdorp.

Laubscher Coetzee, ’n volstruisboer van Volmoed buite Oudtshoorn, sê die droogte vererger die druk waaronder volstruisboere daar reeds verkeer as gevolg van ’n verbod op die uitvoer van rou en gaar vleis na die Europese Unie. Dit is alles omstandighede buite ’n boer se beheer, sê hy.

Produksie neem af

Volgens Sunet Vermeulen van die Nasionale Luserntrust het lusernverbouing in die Klein-Karoo sedert 2014-’15 met altesaam 62% afgeneem.

Boere moet lusern ten duurste teen ’n gemiddelde prys van R3 500 per ton aankoop.

Volgens Hendrik September, ’n kleinboer langs die Olifantsrivier naby Dysselsdorp, het hy en sy mede-kleinboere reeds amper al hul vee verkoop omdat hulle net klein lappies lusern in die droë rivierbedding kan plant.

Dian Heyns van die Rooivleisprodusentevereniging (RPO) op Oudtshoorn sê weens die droogte het die boere daar hul vee met meer as die helfte verminder. Baie van hulle het nou net hul kernkuddes oor.

Voerskenking aan boere in nood:Die afgelope naweek is 34 ton geelmielies met behulp van Burre Burger se droogtehulp-projek in die Oudtshoornse boer Saag Jonker se reuse-skuur op die plaas Badshoogte naby die Calitzdorp-spa afgelewer. Boere van Cedarville in die Oos-Kaap het die mielies aan die boere in die Klein-Karoo geskenk.

Werkverliese kom voor

“Baie van die boere by Herold moes hul plase verkoop omdat hulle net nie meer geld het om aan te gaan nie,” sê Truter.

Elkeen van die nagenoeg 300 boere in die gebied verskaf voltyds werk aan gemiddeld vyf tot 15 werkers, waarvan elkeen gemiddeld vier afhanklikes het.

Onder normale toestande maak plaaslike wingerd- en vrugteboere gebruik van die arbeid van tot sowat 50 seisoenswerkers uit die omliggende dorpe.

“Die droogte het kritieke implikasies wat arbeid betref: As boere nie teen 20 Augustus vanjaar reën kry nie, sal hulle geen tydelike werkers in diens kan neem om te help om vir die komende vrugteoes voor te berei nie,” sê Matthys Swart, ’n vrugteboer van Ladismith.

Volgens Johan Fourie, ’n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit, sal werkers wat plase moet verlaat waar die boerdery noodgedwonge tot stilstand gekom het, ’n heenkome op die dorp kom probeer vind.

Dit sal die las op die munisipaliteit verder vererger. Die Oudtshoorn-munisipaliteit verskaf reeds beperkte gratis elektrisiteit en water aan meer as 6 000 deernishuishoudings.

Meer oor:  Klein Karoo  |  Boere  |  Landbou  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.