Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Inperking kan jagbedryf knak
Weens die staat van inperking het die jagbedryf R1,9 miljard in inkomste verloor

Terwyl stropers hulle nie aan die inperkingsregulasies steur nie, verloor talle mense in die jagbedryf hul werk en eiendom.

Party wildboere vrees selfs hulle sal aangeval word as hulle nie salarisse kan betaal nie.

Boonop het die prys van grootwild met tot soveel as 98% gedaal.

Maurits van de Wetering van Lentegeur Wildlife in Thabazimbi sê voor die inperking kon ’n dragtige swartwitpenskoei vir R1 miljoen tot R1,5 miljoen verkoop word. Dieselfde dier se waarde is nou ’n skamele R12 500.

Jag en die skuif van wild en wildveilings word ingevolge vlak 4-regulasies toegelaat, maar weens die verbod op vlugte en inperking kan jagters nie op plase uitkom nie.

’n Goeie jagonderneming genereer volgens Van de Wetering gemiddeld R40 000 per dag. Maar nou het die ondernemings geen inkomste nie. “Die verkope van die diere is tot niet omdat geen buitelandse jagters in die land verwag word nie. Boere maak nou R15 000 deur ’n dier uit die vuis te verkoop.”

Hy sê boere het reeds bloedneus gekry toe wildpryse die afgelope twee jaar met tussen 1% en 5% getuimel het.

“Ons gryp na strooihalms om ’n inkomste te probeer genereer, maar ons inkomste staan op nul. Ek is verby bekommerd. Ons kan niks doen nie. Daar is geen hoop en geen kans nie. Ons weet nie wat die banke gaan maak nie. Hulle bied ’n drie-maande-betaalvakansie aan, maar ons gaan dalk vir ’n jaar geen inkomste hê nie.”

Op ’n aanlyn veiling van wildlifeauctions.co.za verlede Saterdag is ’n dragtige swartwitpenskoei vir R9 000 verkoop.

Op die webwerf african­gameauctioneers.co.za is ’n swartwitpenskoei in Junie 2019 vir R24 000 van die hand gesit.

Prof. Peet van der Merwe, ’n dosent en navorser in toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit, sê Suid-Afrika verdien jaarliks R1,9 miljard uit die buitelandse trofeejagmark en R11,6 miljard uit die binnelandse mark.

Dié bedrae word bereken volgens ’n konserwatiewe skatting van ’n gemiddeld van 200 000 jagters per jaar. Toe wildpryse twee jaar gelede geval het, het die bedryf oorbeweeg na toerisme vir ’n inkomste, sê Van der Merwe. “Nou is daar nie eens daardie uitkomkans nie.”

Dries van Coller, president van die Suid-Afrikaanse beroepsjagvereniging (Phasa), sê boere kan nog hul wild uitskiet om getalle te verminder en oorbevolking te voorkom en vir ’n klein inkomste die vleis vir verwerking neem. “Die jagseisoen is egter daarmee heen.”

Hy sê 80 Phasa-lede het in Limpopo altesaam 1 730 mense in diens gehad, van wie sowat 60% afgelê moes word.

“Daar is mense wat geen inkomste het nie. Professionele jagters kan ook nie om verligting aansoek doen nie, want hulle werk vir hulself.”

Hy sê wildboere, taksidermisse, uitvoerders, gastehuise en handelaars in buitelandse valuta word almal geraak.

Daar is ook ’n reusetoename in stropery weens die verbod op patrollies.

Daar is mense wat geen inkomste het nie. Professionele jagters kan ook nie om verligting aansoek doen nie, want hulle werk vir hulself.
Peet van der Merwe

Volgens Van Coller is dit moeilik om te bepaal wanneer die internasionale mark weer sal versterk, want mense sal moontlik eers in November of Desember toegelaat word om binnelands te reis.

Van de Wetering sê hy kan met die verkoop van verwerkte wildsvleis 25% tot 30% van die normale inkomste per dier verwesenlik. “Jy verloor die bednagte, vermoë om die vleis te verwerk en die ervaring wat jagters het om die dier te gaan jag.”

Hy doen dit om salarisse te betaal.

“Dit is net sodat werkers nie plase afbrand nie, want plaasaanvalle en -moorde is ’n realiteit. Jy kan nie oorlewing regeer nie – of dit iemand is wat honger is en/of iemand wie se salaris jy moet betaal. Daar is geen wet wat mense inperk wat probeer oorleef nie.”

Selfs al sou die jagseisoen geopen word, is dit vir mense ’n luukse. “Dit is wel in ons kultuur, maar hoeveel huishoudings kry reeds swaar?”

Van de Wetering sê een van die eerste vrae wat gevra word wanneer hulle by die regeringshulpfonds aansoek doen, gaan oor jou swart ekonomiese bemagtiging-status. “As jy nie daaraan voldoen nie, is jy uitgesluit, al sit ons met ’n magdom personeel. Ek het 13 werkers.”

Stef Swanepoel, ’n jagter van Thabazimbi wat deel is van ’n konsessie wat Numzaan-safari’s, jaggrond en ’n vleisverwerkingsfabriek insluit, sê die internasionale jagbedryf is eerste getref. “Ons het ’n klomp jagtogte aan die begin van die jaar deurgewerk, maar gewoonlik jag ons elke dag tussen Februarie en middel November. In die buitelandse seisoen word 2 500 trofeë geskiet. Ons plaas maak sy inkomste uit internasionale jagters, wat op die oomblik zero is. Ons inkomste is nou nul. Geen kliënte kom in nie, maar ons uitgawes bly dieselfde.”

Hy sê hulle inkomste uit verwerkte vleis is tans 10% van die normale.

Baie boere verloor hul voertuie of word uit hul huise gesit.

“ ’n Jagter en gids in die veld produseer kos. Nou sit mense wat die verwerking daarvan doen ook sonder werk.”

Swanepoel sê hulle het reeds 74 mense sonder ’n inkomste huis toe gestuur en het net ’n paar werknemers oor. “Ons sal hulle ook net tot op ’n punt kan dra.”

Jack Maritz het in Desember ’n winsgewende taksidermie-onderneming in Kimberley in die Noord-Kaap gekoop, maar moet dit nou sluit. “Ek het reeds twee mense afgedank en die ander agt, wat my insluit, gaan teen die einde van die maand nie meer werk hê nie.

“Saam met die koop van die onderneming en uitbetalings aan personeel het ek R1,5 miljoen verloor. Elke mens wat jy afdank, beteken ’n gesin sonder kos.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Boerdery  |  Jagbedryf  |  Verliese  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.