Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Johan Willemse: Doelgerigte beleid verlang
In die departement van landbou se konsepmeesterplan vir groei in die landbou word daar redelik te velde getrek teen die sogenaamde konsentrasie van ekonomiese mag in die handel. Foto: Graan SA

Die ANC-regering klou vas aan die idee dat die staat die redder van die ekonomie moet wees.

Die realiteit is natuurlik anders en ons weet die staat het nie geld nie en dat vaardighede en die vermoë om planne in samewerking met die private sektor deur te voer, maar skraps is.

Die regering wil onder meer hê dat alle sektore ’n ekonomiese groeiplan aan hom voorlê om ’n “nuwe groeibeleid” daar te stel. Baie goeie werk word gedoen deur bedryfsorganisasies om insette te lewer en dit verg baie energie om die private sektor se sogenaamde “meesterplan” vir groei daar te stel. Dié wat ek gesien het, gaan van die standpunt uit dat die regering se taak is om ’n ondersteunende beleidsraamwerk vir entrepreneurs te skep en dat die staat nie onnodig moet inmeng nie.

Natuurlik het staatsdepartemente ook hul eie konsepmeesterplanne wat voorgelê word aan die private sektor – en dis ’n slegte ervaring om dit te lees.

Daar is ook ’n departementele konsepmeesterplan vir landbou en agrinywerhede in wording, wat reeds in omloop is.

Hiervolgens is landbou-staatsamptenare se meesterplan hoofsaaklik gebou op voorstelle van groter staatsinmenging en dat klein en bestaansboere (sonder eiendomsreg) op groot skaal op staatsgrond gevestig moet word.

Dié boere se produkte moet dan onder dwang opgeneem word in die kommersiële landbou-aanbod-ketting (om aan kleinboere marktoegang te gee).

Dan is daar ook ’n aanbeveling dat die huidige Landboubemarkingswet van 1996 hersien word om sekerlik meer staatsingryping te regverdig.

Die grondslag van dié wet was dat landboubeheerrade toegemaak word sodat die mark toegelaat word om te werk en dat markpryse en realiteite die aanwending van skaars hulpbronne moet rig (en nie staatsinmenging nie).

Dink net watter fiasko dit vandag sou wees as ons landboubemarkingsrade sou hê, waar staatsamptenare landbouprodukpryse en die bemarking van voedselproduk-te reguleer.

landbou
   

Ekonomieë van skaal

   

In die departement van landbou se konsepmeesterplan vir groei in die landbou word daar redelik te velde getrek teen die sogenaamde konsentrasie van ekonomiese mag in die handel (kettinggroepe) en die verwerking van landbouprodukte.

Ideologies is daar ook erge kritiek oor die feit dat sowat 20% tot 30% van die boerderye in Suid-Afrika sowat 70% van die land se landbouproduksie lewer. Daar word dan maatreëls voorgestel om perke op boerdery-groottes te plaas en doelbewus te werk om boerderye en landbouverwerkingsondernemings op te breek in kleiner groepe (met kleiner markkonsentrasie).

Die vraag word nie gevra waarom daar in ons landbousektor ’n konsentrasie van markkrag in produksie, verwerking en markte is nie.

Die feit is: Ekonomieë van skaal in landbou is nodig ten einde vaste koste per eenheid laag te hou (in ’n ekonomie waar staatsbeleid koste verhoog), sodat meegeding kan word met ingevoerde landbouprodukte en in die uitvoermark.

Onthou, ons beleid is een van oop grense, met lae invoertariewe en maklike invoer en selfs storting van landbouprodukte (dink aan suiwel, tekstiel/katoen-produkte en onlangs hoendervleis as voorbeelde).

Daar is nie meer klein melkboere en klein braaikuikenboere nie, want hulle kan nie meeding met die laer pryse wat via invoer binnelands opgedwing word nie.

Die vraag behoort te wees: Wat is die regte breë ondersteuningsbeleid aan landbou wat byvoorbeeld uitvoerondersteuning en ramphulp insluit?

Daar is in baie lande, ook in Suid-Afrika, kleinboere, kommersiële familieboerderye en dan groot mega-boerderye. Staatsingryping (in ’n oorhoofse ondersteunende beleidsraamwerk, wat ons nie regtig het nie) moet doelgemaak wees vir die groot verskeidenheid boerdery-tipes en nie wees om alles te wil reguleer totdat daar net kleinboere en bestaansboere oor is nie.

landbou

   

SA landbou se staatsondersteuning

   

Die Organisasie vir Ekonomiese Ontwikkeling en Samewerking (Oeso) publiseer jaarliks die resultate van omvattende navorsing ten opsigte van landboubeleid en staatsondersteuning in 54 lande.

Die metodiek is eenvormig en neem in ag begrotingsondersteuning aan die landbou, regstreekse en onregstreekse subsidies aan boere, asook invoerbeskerming (soos tariefvlakke) om by ’n omvattende maatstaf uit te kom.

In die geval van Suid-Afrika word die begrotingsbedrae om kleinboere te ondersteun en nuwe klein/huurder-boere te vestig, ook in ag geneem.

Die totale staatsondersteuning word dan uitgedruk as ’n persentasie van die bruto produksiewaarde van landbou.

Die grafiek hierby toon die sogenaamde PSE (produsente-subsidie-ekwivalent) wat die omvattende maatstaf van staatsondersteuning uitdruk as ’n persentasie van die bruto waarde van landbouprodukte.

Suid-Afrika val onder die lande met die laagste vlak van staatsondersteuning.

Die groep ontwikkelende lande in die grafiek se PSE is 7,7%, dié van Suid-Afrika sowat 4,2% (waarvan ongeveer die helfte gaan aan die grondhervormingsprogram en kleinboer-ondersteuning).

Die VSA, wat bekend is vir sy meer markgerigte benadering, se ondersteuning aan boere is amper drie keer dié van Suid-Afrika en staan op 12,1%.

Landbou in die Europese Unie (EU) kry staatsondersteuning gelykstaande aan 19% van die bruto inkomste van boere.

Ten opsigte van kommersiële landbou is ons in die geselskap van Nieu-Seeland en Australië. Die groot verskil is net dat dié lande se landboubeleid op ’n makrovlak baie ondersteunend is ten opsigte van mededingende infrastruktuur vir uitvoer, koördinasie en stimulering van navorsing en ontwikkeling om produktiwiteit te verhoog en koste te verlaag.

Australië het selfs ’n amptelike beleid wat daarop toegespits is om die Australiese landbou se internasionale mededingendheid te bevorder.

Suid-Afrika se landbou-uitvoer bly wel groei ten spyte van swak staatsondersteuning . . .

Johan Willemse
Johan Willemse

Die tweede meegaande grafiek wys dat staatsondersteuning aan landbou van 2000-’02 (toe die PSE 7,3% was) tot 4,2% gedaal het. Terselfdertyd het landbou-uitvoer as persentasie van landbouproduksie in Suid-Afrika gegroei vanaf 33% tot sowat 40% van landbouproduksie – met dalende staatsondersteuning aan kommersiële landbou en toenemende konsentrasie in boerderyeenhede!

Die eenvoudige waarheid is dat kommersiële landbou in Suid-Afrika redelik suksesvol is ten spyte van ’n regeringsbeleid wat dit nie juis ondersteun nie. Natuurlik is ekonomieë van skaal een van die uitvloeisels hiervan. Die ander uitvloeisel is die ontvolking van die platteland, veral in die droër dele waar daar nie noemenswaardige ramphulp aan kommersiële boere gegee word nie.

Die betoog is nie dat kommersiële landbou meer geld en inmenging vra van ’n regering wat geldelik en ideologies bankrot is nie. Dit vra net ’n ondersteunende beleidsraamwerk waarbinne die landbou en al sy ondersteunende bedrywe kan floreer.

Dit moenie gekniehalter word ter wille daarvan om kleinboere en bestaansboere te vestig nie.

Daarvoor is ’n doelgerigte beleid nodig, in ’n oorhoofse ondersteunende beleid.

  • Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Landbou  |  Ekonomie  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.