Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kaap weer Hollands vir eerste skou

Groot opwinding heers oor die provinsie heen vir die heel eerste Nampo Kaap-landbouskou wat eersdaags op Bredasdorp aangebied gaan word.

Ná 52 jaar wat die alombekende Nampo-oesdag – die grootste oesfees in die land – by Botha­ville in die Vrystaat elke jaar die rekords laat spat wat besoekergetalle en opwindende landbou-uitstallers betref, gaan Wes-Kapenaars vanjaar ook die kans kry om ’n landbouskou soos min op eie bodem te ervaar.

Moenie skaapskeerdemonstrasies in die Voermol-saal by Nampo Kaap misloop nie. Foto: MLUNGISI LOUW

Die landbou-organisasie Graan SA en Bredasdorp Park NPC, ’n organisasie sonder winsoogmerk, het aan die begin van die jaar talle landbouharte in die provinsie baie bly gemaak toe die twee organisasies ’n samewerkingsooreenkoms geteken het om ’n landbou- en nywerheidstentoonstelling, Nampo Kaap, van 12 tot 14 September op Bredasdorp-park aan te bied.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, het toe gesê dat die organisasie graag sy kundigheid met die bestuur van Bredasdorp-park wil deel om ’n bydrae tot landbou in die Wes-Kaap te maak.

Nampo Kaap sal na verwagting iets vir elkeen in die landboubedryf bied. Dié landbouskou het ten doel om die basis te vestig as landbou-inligtingverskaffer, markplek, netwerk­geleentheid en bymekaarkomplek vir almal wat by landbou ’n belang het, aldus Graan SA.

Wes-Kaapse boere sal oor die drie dae ’n geleentheid hê om die pryse en gehalte van trekkers en ander landboutoerusting met mekaar te vergelyk.

Boere sal ook die kans kry om boerderywenke met mekaar en ander kundiges uit te ruil, en van nuwe bewerkings en verbeterde boerderymetodes te leer.

Boere sal ook landboutoerusting en -implemente se pryse met mekaar kan vergelyk. Foto: MLUNGISI LOUW
Genugtig, dís ’n program!

Wat sal ’n landbouskou wees sonder ’n volwaardige veeprogram? Op Nampo Kaap sal ’n wye verskeidenheid diere ten toon gestel word. Foto: JACO MARAIS

Die Nampo Kaap-program sluit alles van onder meer handel, vee en trekkers tot landboutoerusting in. Volgens Toit Wessels, assistentbestuurder: Nampo en bemarking, Graan SA, gaan daar in September altesaam 287 uitstallers op die 400 standplase by Bredasdorp-park te sien wees.

Graan SA het sy gewig ten volle agter Nampo Kaap ingegooi en verantwoordelikheid geneem vir onder meer al die uitstallers, die plasings sowel as die kosstalletjies, sê Wessels.

“Ons is baie opgewonde om saam met Bredasdorp en die Suid-Kaapse gemeenskap hierdie wonderlike ervaring in September daar te laat plaasvind.”

Drie bekende landbou-ondernemings in die Wes-Kaap naamlik SSK, Overberg Agri en Kaap Agri, het reeds kort ná die aankondiging van Nampo Kaap vroeër vanjaar aangedui dat hulle aan dié nuwe opwindende landbouskou gaan deelneem.

Van die beste trekkers, ’n verskeidenheid ander landbou-implemente, sowel as veteraantrekkers gaan op Bredasdorp-park uitgestal word. Foto: MLUNGISI LOUW

Van die Nampo Kaap-hoogtepunte sluit in:

  • Die gewilde Nasie in Gesprek-forum, wat elke jaar ’n belangrike deel van die Nampo-oesdagprogram vorm, gaan in die ouditorium by Nampo Kaap aangebied word. Dié gesprekkereeks word deur Theo Vorster aangebied en daar sal vyf sessies van ’n uur en ’n half elk oor aktuele landbousake oor die drie dae aangebied word.
  • Volgens Wessels kan besoekers die jongste tegnologie in die landboubedryf te wagte wees, met al die groot handelsname wat op die skou gaan uitstal. Daar gaan ook onder meer demonstrasies met trekkers en landbou-implemente aangebied word, ’n uitstalling van veteraantrekkers, sowel as demonstrasies en uitstallings van akwaponika, ontsouting en hoe om gryswater te hergebruik.
  • Wat sal ’n landbouskou wees sonder ’n volwaardige veeprogram, en op Nampo Kaap sal dit daagliks in die Voermol-saal aangebied word. Die veeprogram sluit alles van skeerdemonstrasies, ’n jeugskou, ’n program vir beginnerboere, die Overberg-jerseyskou, ’n wolverbetering- en perdeskou, sowel as ’n skaaptelkompetisie deur BKB in.
  • Proefpersele is op Bredasdorp-park ingerig vir gewasdemonstrasies wat daagliks van 08:00 tot 17:00 besigtig kan word. Villa, Sensako, Sabbi en Omnia is onder andere hierby betrokke.

  • ’n Spesiale Agrisell-vroueprogram vorm ook deel van die daaglikse Nampo Kaap-program. Die aanbiedings is elke dag van 09:30 tot 11:30 in die vrouetent en sluit optredes deur die kunstenaar Pedro Kruger, die koskenner Carmen Niehaus, Retha de Villiers (sielskos vir die dag) en die dekor-ghoeroe Nadine Vosloo in.

  • ’n Blomuitstalling vir blomliefhebbers word beplan, sowel as ’n plaaswerf en kinderparkie vir die jongspan.

  • ’n Wye verskeidenheid lekker kos en drinkgoed kan ook op die skou te wagte wees.

Die kosstalletjies word almal deur kerke, skole en plaaslike organisasies sonder winsbejag bedryf.

In gesprek

Theo Vorster gaan daagliks op Nampo Kaap vir die gewilde Nasie-in-gesprekforum met kenners in die landboubedryf oor die volgende onderwerpe gesels:

Woensdag, 12 September

  • Hoe skep ons nuwe energie in landbou?
  • 14:00 tot 15:30: Intensiewe veeboerdery se rol in volhoubare vleisproduksie.

Donderdag, 13 September

  • 09:30 tot 11:00: Die toekoms van die garsbedryf vir rolspelers.
  • 14:00 tot 15:30: Opleiding en opleidingsinstansies in die landbou.

Vrydag, 14 September

  • 09:30 tot 11:00: Fokus op die jeug – waar lê die geleenthede en hoe kan die regte individue opgelei word om die bedryf vorentoe te neem.
    Vroue, kom kuier

    Die Agrisell-vroueprogram bestaan daagliks uit die volgende aanbiedings:

    09:30: Retha de Villiers – Sielskos vir die dag.

    10:00: Klavierkuier met Pedro Kruger.

    10:30: Nadine Vosloo – Wees kreatief met Tjhoko.

    11:00: Wildsvleisgeregte en -voorbereiding.

    11:30: Carmen Niehaus – kosdemonstrasies.

    Nampo Kaap: Dit moet jy alles weet
    • Nampo Kaap word van 12 tot 14 September gehou.
    • Bredasdorp is bietjie meer as twee ure se ry (186 km) vanaf die Kaap en die skou is op Bredasdorp-park.
    • Die skouhekke open daagliks om 08:00 en sluit weer 17:00.
    • Kaartjies vir Nampo Kaap kos R50 per persoon op Woensdag en R70 op Donderdag en Vrydag. Kinders onder ses jaar kry gratis toegang, terwyl kinders tussen ses tot 18 jaar R20 vir toegang moet betaal.
    • Koop kaartjies by Computicket.
    Jou kontak
    Vir nader besonderhede oor Nampo Kaap en die volledige program, besoek www.grainsa.co.za of www.expo.org.za. Belangstellendes kan ook 028 050 1385 bel of e-pos na admin@expo.org.za stuur.
    Het jy geweet . . . ?

    Die Nampo-oesdag op Bothaville het vanjaar ’n rekordgetal besoekers van 82 817 mense gehad. Verlede jaar was daar 75 116 besoekers.

    Daar was ook vanjaar altesaam 746 uitstallers, en 361 ligte vliegtuie en helikopters het op Nampopark se private vliegveld geland.

    Nampo-oesdag word volgende jaar van 14 tot 17 Mei op Bothaville gehou.

    Meer oor:  Graan Sa  |  Nampo Kaap  |  Bredasdorp  |  Landbou  |  Skou  |  Gespreksreeks
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.