Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kelder-hoof se reis van volstruise en vrugte tot wyn

Die wynkelder Orange River Cellars het ’n nuwe indoena in Upington in die Noord-Kaap. LandbouBurger het meer oor Charl du Plessis, die nuwe uitvoerende hoof van dié kelder, uitgevind.

   

Bladskud: Charl du Plessis het in Desember verlede jaar die leisels as Orange River Cellars se nuwe uitvoerende hoof oorgeneem.

Die Suid-Afrikaanse landboulandskap is nie vir Charl du Plessis nuut nie, maar hy erken gou dat die land se wynbedryf meer vrae as antwoorde het.

Du Plessis het in onder meer die uitvoervrugte- en volstruisvleisbedryf gewerk voordat hy in Desember verlede jaar die leisels as Orange River Cellars se uitvoerende hoof oorgeneem het.

Hy blyk ewe geïnspireerd te wees deur die huidige stand van die wynbedryf in Suid-Afrika as die uitdagings en geleenthede van sy nuwe posisie in die Noord-Kaapse dorp Upington.

“Ek sukkel om te begryp waarom Suid-Afrikaanse wyn (sowel grootmaat as verpak) verhandel teen ’n diskonto in vergelyking met ander Suidelike Halfrond-oorspronge,” sê hy.

“My ervaring van die vrugtebedryf is dat ons land se vrugte gesog is, en op premiepryse aanspraak maak as gevolg van die gehalte-aanbod wat dit bied bo ander vrugteproduserende lande in die Suidelike Halfrond.

“Dan kan jy nie anders as om te vra nie: Hoe kan ons tafeldruiwe, appels, pere, pruime en sitrus in die internasionale mark met ’n toppunt-gehaltebeeld land, maar nie ons wyne nie?

“Dít op ’n tyd wanneer ons waarskynlik die beste wyne in ons geskiedenis maak. Die standaardantwoord wat ek kry, is dat hierdie ‘onbillike’ diskonto toegeskryf kan word aan die mate van fragmentasie in die bedryf, wat lei tot hoëgraad-
mededinging in die markplek.

“Ek glo egter vas aan Adam Smith se onsigbare hand, wat uiteindelik vraag en aanbod teen billike waarde sal balanseer.”

O, die Noord-Kaap! Wingerde langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

Du Plessis meen die antwoord lê dalk in die kwessie van assosiasie. “Nuwe Wêreld-wynlande was al baie suksesvol daarmee om hulself te belyn met een druifsoort en een wyn om hul merk te maak en waardeur bewusmaking geskep word,” sê hy.

“Argentinië het malbec, Australië shiraz, en Nieu-Seeland het die bekendste produsent van sauvignon blanc geword deur dit hul voorkeurdruif te maak. Dalk is dit wat Suid-Afrika nodig het, want as jy eers die verbeelding aangegryp het met een fokuspunt, sal erkenning vir ons ander wyne en die bedryf as geheel volg.”

Vrugte, volstruise tot wyn

Du Plessis kom oorspronklik van Kroonstad en het aanvanklik nie sy visier op ’n loopbaan in landbou gehad nie. Hy het eerder die roete van logistiek gekies.

Ná hy ’n BCom-graad in vervoerekonomie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit voltooi het, het hy sy honneursgraad in logistiek aan die Universiteit Stellenbosch gedoen.

Du Plessis meen as hy sy studies in logistiek in Gauteng voltooi het, hy waarskynlik in die sakewêreld daar sou beland het. “As jy egter hierdie akademiese dissipline in Stellenbosch in die Wes-Kaap volg, gaan jy na die landbou gelei word. En so was dit ook vir my.”

Hy het sy loopbaan as logistieke bestuurder by Anglo American Farms begin, en daarna tien jaar by Capespan deurgebring – insluitend vier jaar in België waar hy betrokke was by die verkryging van vrugte vir verskillende markte vanaf verskeie verskaffers in die Suidelike Halfrond, asook die bestuur van verhoudinge met toonaangewende Europese kleinhandelaars.

In 2011 het hy by Klein Karoo Internasionaal aangesluit – die wêreld se voorste vervaardiger van volstruisprodukte – as hoof van die afdeling vir volstruisleer. In 2015 het hy die uitvoerende hoof van dié maatskappy geword.

Ek was nou die dag op die water en uit die bloute daal ’n visarend skielik neer om ’n vis te gryp, reg langs my. Toe het ek geweet – dít is ’n spesiale plek
Charl du Plessis

“Vrugte is ’n tipe kommoditeit, terwyl die volstruisbedryf baie handelsmerk gefokus is en baie meer as ’n nisproduk gesien kan word,” sê Du Plessis.

“En dit is wat my tot die wynbedryf aangetrek het – die feit dat dit ’n kommoditeit aan die een kant is, maar andersyds ook ’n bedryf waarin handelsmerk­ontwikkeling, -bestuur en -groei uiters belangrik is – soos die feit dat Suid-Afrika meer as 8 000 wynhandelsmerke het, duidelik aandui.”

Eerste twee maande

Hy erken dat hy “passievol” is oor die arena vir vinnig bewegende verbruikersartikels (FMCG) – ’n gebied waarin Orange River Cellars groot vordering maak met vars handelsmerke en die identifisering van nuwe geleenthede.

“Vir ’n onderneming soos Orange River Cellars kom dit neer op hoeveel waarde ons boere uit een hektaar wingerd onder besproeiing kan ontsluit. Om druiwe vir wyn te verbou is tans nie ’n gunstige vooruitsig nie, aangesien boere baie beter pryse met rosyne kan realiseer.

“Orange River Cellars moet ’n drankmaatskappy word, nie net ’n koöperatiewe kelder wat wynmaak nie. Ons moet ’n organisasie wees wat in staat is om buigsaam ’n verskeidenheid wyne en ander produkte te ontwikkel, handelsmerke te bou en hulle te verkoop – wat alles waarde vir die verbouer toevoeg.”

Ten spyte daarvan dat hy nog nie twee maande in sy nuwe pos is nie, sien Du Plessis talle sterkpunte by Orange River Cellars.

“My kollegas bied ’n oorvloed ervaring en hulle het gehelp om die manier hoe Orange River Cellars sake doen oor die afgelope paar jaar te verander,” sê hy.

“Hulle is oopkop, strategies sterk en operasioneel uitstekend. Ek kry regtig daardie ‘ons-kan-dit-laat-gebeur’ gevoel wanneer ek by die werk aankom.

“Met meer as 850 boere wat druiwe aan Orange River Cellars verskaf, is gesonde verhoudinge met die boere deurslaggewend,” voer Du Plessis aan.

“Hulle (die produsente) boer in ’n massiewe geografiese area, dus moet ek nog taamlik ver ry om al die streke te leer ken. Ek sien regtig daarna uit om saam met ’n sterk bestuurspan te werk wat goed toegerus is om die uitdagings te hanteer, met die ondersteuning van Orange River Cellars se belanghebberleierskap.”

Die pad vorentoe

’n Onmiddellike doelwit – en een waarby Du Plessis ywerig ingespring het met sy sterk ingesteldheid op handelsmerkontwikkeling – is om die teikens vir kritieke massa te bereik wat vir die Delush-handelsmerk gestel is.

Dié nuwe natuurlike soet-reeks is verlede jaar bekend gestel aan die modebewuste swart vroulike mark en Orange River Cellars beplan om dit ’n markleier te maak.

“Ons het baie in bemarking en verspreiding belê, dus moet jaar twee van Delush daarop gemik wees om die boeke terug in die swart te kry. Maar as ons die positiewe tendens kan voortsit, sal dit wel gebeur.”

Uit ’n landbouperspektief het Du Plessis die behoefte geïdentifiseer vir Orange River Cellars om ’n rooidruifkultivar te plant wat hoë opbrengste lewer, aangesien blootstelling aan die rooi kant té laag is.

“Ons begin ook meer wynverbouing wes van Upington sien – in die ooste word die boere swaar getref deur hael en ryp. Klimaatsverandering is ’n werklikheid, en ek voorspel dat baie Wes-Kaapse wynmaatskappye die moontlikheid gaan oorweeg om dalk in die wingerde van ons streek te belê.”

Ná ’n dag se werk geniet Du Plessis graag ’n yskoue glas wyn. En op die Oranjerivier kry hy ook tyd om sy liefde vir kanovaart uit te leef.

“Ek was nou die dag op die water en uit die bloute daal ’n visarend skielik neer om ’n vis te gryp, reg langs my. Toe het ek geweet – dít is ’n spesiale plek.”

Du Plessis en sy vrou, Magdalena, het twee seuns, Karel (10) en Frederick (8).

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Volstruisbedryf  |  Wyn  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.