Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kiwi’s se sauvignon blanc-sege

Die Internasionale Sauvignon Blanc-konferensieis onlangs in Nieu-Seeland gehou en Emile Joubert was daar. Hy deel van die nuwe insigte wat hy oor dié land se florerende wynbedryf ryker geword het.

Swart mag die meer bekende kleur wees waaraan ’n Suid-Afrikaner dink as jy die naam Nieu-Seeland hoor.

Wyndruifwingerde in Marlborough in Nieu-Seeland. Foto’s: Emile Joubert

Maar as dit by wyn kom, kan Kiwiland maar as die “Alles Blanc” bekend staan, want dit is hier waar witwyn en spesifiek die sauvignon blanc-druifsoort harder bulder as die vurigste All Black-haka.

Op die onlangse Internasionale Sauvignon Blanc-konferensie in Blenheim, doer in die hart van Nieu-Seeland se Marlborough-wynstreek, het die bekende Amerikaanse wynskrywer Matt Kramer in sy openingstoespraak die prentjie geskets van wat hier aan die gang is: “Nooit in die geskiedenis van die internasionale wynbedryf is daar ’n suksesstorie te vertel wat vergelykbaar is met dié van Marlborough-sauvignon blanc nie,” het Kramer gesê.

Dit is groot woorde – veral vanuit die mond van ’n Amerikaner. “Nieu-Seeland het iets vermag waaroor ander lande droom, maar myns siens onmoontlik is om na te boots.”

Die sukses waarvan Kramer gepraat het, was die groot aantal wyn wat teen ’n hoë prys verkoop word. Soos in R20 miljard s’n per jaar.

Meer daaroor later, maar eers: Wat is die storie van Marlborough se wynstreek?

Die Suid-Afrikaanse afgevaardigdes op die Internasionale Sauvignon Blanc-konferensie in Nieu-Seeland: Die wynboer Thys Louw van Diemersdal, dr. Carien Coetzee en Emile Joubert.

Aan die begin

In 1973 het ’n wynkelder van Auckland besluit om wingerd te begin plant in hierdie klipperige alluviale grond aan die noord-oostelike deel van Nieu-Seeland se Suideiland.

Volgens die plaaslike manne wat daardie tyd daar was, was die streek maar yl aan landboupotensiaal en bekend vir die maerste skape in Nieu-Seeland.

Tog is variëteite soos müller-thurgau en chenin blanc aangeplant wat met rukke en stote gelei het tot die uitbreiding van wingerde en al hoe meer boere wat lappies grond in die streek bekom het om, soos die Kiwi’s dit stel, “hierdie wyn-ding” te probeer.

Met die eksperimentering met die sauvignon blanc-kultivar in 1979 het die boerpot begin wink. Hierdie witwyn-druif vanuit die Loire-vallei in Frankryk het nie net gedy in die grond en die klimaat van Marlborough nie, maar danksy die geografie van die streek het sauvignon blanc uit Nieu-Seeland skielik begin proe soos geen ander sauvignon blanc op aarde nie.

In die middel van die 1980’s, nes wynverbruik onder die jonger generasies in Amerika en Engeland begin toeneem het, tref sauvignon blanc-wyne met name soos Hunters en Cloudy Bay die toneel. Koel, fris witwyne met besonders vooruitstrewende geure van tropiese vrugte wat uit die glas bons.

Dit was ver verwyder van die droë, benoude en klassieke geure van die Franse sauvignon blanc.

Die Marlborough-streek het sauvignon blanc begin plant dat die biesies bewe en die kiwi’s skarrel – van die 38 000 ha wingerd in Nieu-Seeland is 26 000 ha in Marlborough. Ongeveer 24 000 ha is sauvignon blanc-druiwe.

Die gemiddelde jaarlikse oes hier lewer 264 000 ton sauvignon blanc-druiwe, waarvan 350 miljoen liter wyn gemaak word.

Erica Crawford, die eienaar van Loveblock Wines in Nieu-Seeland.

Uit die perd se bek

Maar soos Thys Louw, eienaar van die Kaapse wynlandgoed Diemersdal en die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc-belangegroep, op die konferensie in Blenheim uitgewys het, gaan dit nie net oor volume nie.

“Die prys wat die wyndrinker in Amerika en Europa bereid is om vir die name ‘Nieu-Seeland’ en ‘sauvignon blanc’ te betaal – dít is wat agter die sukses van die land se wynbedryf skuil,” het hy gesê. “Dis nou tesame met die groot volumes wyn wat hier gemaak word. ’n Goeie prys vir jou wyn maak nie die gatsak vol as jy nie volume het nie.”

En die internasionale wyndrinker ís bereid om te betaal. Ongeveer 73 miljoen liter sauvignon blanc vanaf Nieu-Seeland is verlede jaar na Amerika uitgevoer, waar dit op die rakke staan teen tussen $12 (R170) en $30 (R420) per bottel.

Die Engelse het in 2018 sowat 75 miljoen liter ingevoer teen pryse vergelykbaar met die VSA – wat Nieu-Seeland in ’n posisie plaas waar baie ander wynlande, onder meer Suid-Afrika, tans maar kan droom om te wees.

“Ons aanvaar niks onder premiumpryse nie,” het Patrick Materman van Brancott Estate in Marlborough gesê.

“Die grootste uitdaging is om te sorg dat Nieu-Seeland in hierdie prysklasse bly boks en ons kan voortbou op die suksesse van die afgelope drie dekades.”

Niemand kon gedurende die konferensie presies vir my sê waaraan hierdie wyn-sukses van piepklein Nieu-Seeland met sy 4 miljoen inwoners toegeskryf kan word nie.

As wynboer skryf Louw dit toe aan die wyn-styl van Marlborough se sauvignon blanc.

“Die geure is so gekonsentreerd en kenmerkend dat enig­iemand ’n sauvignon blanc van Marlborough tussen ’n klomp ander wyne kan uitken,” meen Louw. “Dit is iets wat wyndrinkers wêreldwyd soek: lekker wyn waarop jy keer op keer kan vertrou.”

Ongeveer 73 miljoen liter Nieu-Seelandse sauvignon blanc is verlede jaar na Amerika uitgevoer.

Só sê die kenners

Dr. Carien Coetzee, ’n onafhanklike wynkundige en -konsultant by Basic Wine – wat deel was van die Suid-Afrikaanse sauvignon blanc-kontingent – meen die spesifieke styl van Marlborough se wyne het te make met die besonderse hoë konsentrasie van tiole.

“Tiole gee vir jou daardie aroma en geure van appelliefie, koejawel en grenadella,” sê Coetzee. “Hierdie geure ontwikkel tot ’n hoë vlak weens Marlborough se wisseling van warm, sonnige dae en koel nagte, die wingerde se blootstelling aan UV-lig en die grondsamestelling. Dis asof als saamkom om een karaktervolle geur eie aan Marlborough sauvignon blanc te skep.”

Vir Erica Crawford, ’n gebore Kapenaar wat sedert die 1990’s in Nieu-Seeland woon en saam met haar man, Kim, een van die grootste sauvignon blanc-handelsmerke – Kim Crawford – bedryf, kan Nieu-Seeland se sukses aan twee praktiese redes toegeskryf word.

“Ons was die eerste land wat as ’n bedryf ons wyne onder skroefdoppe gesluit het – wat die tradisionele markte van Europa en Amerika met anderste oë na Nieu-Seelandse wyne laat kyk het,” het Crawford, wat tans ook aan die stuur van Loveblock Wines staan, gesê.

“Skielik was daar hierdie miljoene bottels wyn op die rak van een land met skroefdoppe. Vir die verbruiker was dit iets nuuts, fris en anders. En as die skroefdop geknak is en hulle proe die Kiwi-sauvignon blanc, het ons nóg ’n lewenslange vriend bygekry.”

Die ander rede wat Crawford bied, is kunstig van aard: die fliekreeks The Lord of the Rings. “Die flieks is deur onse Peter Jackson gemaak in sy tuisland, Nieu-Seeland. Oor die hele wêreld het mense die naam ‘Nieu-Seeland’ vir die eerste keer gesien toe die films in die vroeë 2000’s uitgereik is en hulle het die land geassosieer met natuurskoon en avontuur.

“Dit het die handelsmerk van die land ’n enorme hupstoot gegee en als wat daarmee saamgaan kon baat vind – insluitende ons wyn.”

Van die 38 000 ha wingerd in Nieu-Seeland is 26 000 ha daarvan in Marlborough.

Behou die leiersposisie

Op die konferensie het die Nieu-Seelanders, soos waarna Materman verwys het, baie tyd bestee om toe te sien dat die land sy leiersposisie volhou as ’n sauvignon blanc-produsent gerig op die winsgewende uitvoermarkte.

Daar word al hoe meer gekyk na die maak van sauvignon blanc-wyne wat in eikehoutvate beleë is en meer komplekse, ronder wyne maak.

Die internasionale beeld van Nieu-Seeland as ’n afgesonderde, wilde eiland wat sinoniem is met die woorde “suiwer” en “avontuur” is van kritieke belang.

Gevolglik kyk baie produsente na organiese wingerdverbouing en veganis-wyne – twee markte wat as die vinnigste groeiend ter wêreld gesien word.

En dis iets wat opvallend was tydens die drie dae se konfereer: Daar is nooit gekyk na wat ander lande doen met ander wynstyle en variëteite nie. Dis Nieu-Seeland wat self sy pad vorentoe bepaal, uit eie huis uit.

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.